Hartklop Omnibus 1. Malene Breytenbach
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Hartklop Omnibus 1 - Malene Breytenbach страница 25
Maureen beswadder hom ook nog agter sy rug. By die hospitaal skinder hulle natuurlik, want daar is van die mense wat Celeste geken het.
Hy skakel sy motor aan en trek vinnig weg. Om te dink dat sommige mense kinders so begeer, en ander wat hulle nie wil hê nie, kry hulle so maklik. Dit was nog altyd een van die tragedies, een van die ironieë van die lewe. Die lewe was nooit bedoel om regverdig te wees nie.
Daardie ellendige Thomas! Hy is besig om ’n doktertjie in Engeland verbete na te jaag, want haar ouers is ryk en vernaam. Wel, as dit afhang van hom wat Charl is, is dit nou neusie verby met daardie ambisie. Hy voel eintlik siek van teleurstelling in die nefie vir wie hy altyd so partydig was.
En wat hy sowaar op ’n kol aan iemand van die kaliber van Brenda Wiechers wou afsmeer, want hy het gedink sy kan ’n goeie invloed op die wilde Thomas uitoefen. Sy is gans te goed vir Thomas.
Hy gaan beslis die saak met Thomas se ouers bespreek. Hulle is seker salig onbewus van alles, en die hele sak patats moet nou maar uit. Arme Salomé en Arrie gaan baie teleurgesteld in hulle jongste seun wees. Hy wat Charl is, gaan nie toelaat dat Celeste en daardie kind weggegooi word nie. Al het sy hoe erg gefouteer, en al moet hy sy arms stompies baklei. Daar is ’n reg en ’n verkeerd, en ’n mens moet met jou gewete kan saamleef. Thomas het nog altyd te maklik weggekom met sy oortredings. Hy is gans te veel bederf.
Kinders is die kosbaarste goed op aarde. Hulle kan jou gelukkig maak, of bitter teleurstel. Desnieteenstaande bly hulle joune, tot die dag dat jy jou kop neerlê.
Charl skakel dié aand vir Thomas.
“Haai, dis lekker om van jou te hoor –” begin Thomas.
Maar Charl val hom saaklik in die rede. “Ek was vandag by Celeste Wierenga, wat by haar ma op Stellenbosch gaan bly het. Sy het erken dat jy die pa van haar kind is.”
Daar is ’n geskokte stilte en toe stotter Thomas: “Ek is die p … pa van haar k … kind?”
“Thomas, ek sit met die nare vermoede dat jy weet dis waar.”
“Bliksem,” vloek Thomas.
Ja, uitgevang, my arme nefie, dink Charl meewarig. Vloek sal nie help nie. Nou sal jy die gelag maar moet betaal.
“Jy behoort die eerbare ding te doen en met haar te trou,” sê Charl streng. “Die kind moet ook sy pa se naam kry, anders dra hy die smet van buite-egtelikheid.”
“Hoe kan ek met so ’n vroumens trou? Ons het ’n fling gehad en sy het gesweer sy is op die pil. Ek dink sy wou my vang. Sy wou ’n dokter vir ’n man hê. Toe sy jou nie kon kry nie, was ek die next best thing. Hoe sal sy ooit by die familie inpas? Sy’s common. Mooi maar common. Die Naudés is geleerde mense en sy het net matriek.”
Thomas se stem raak amper falset, so ontsteld is hy.
“As jy al wat ’n meisie is bed toe sleep, loop jy die gevaar om in so ’n gat te trap,” berispe Charl hom bars. “Hoe kon jy onder my neus my ontvangsdame verlei het?”
“Hel, Charl, sy was verlief op my. Sy het my nie net aanleiding gegee nie, maar hard gewerk om mý te verlei. Toe ek weg is Londen toe, het ek nie geweet sy verwag nie. Sy het dit natuurlik ook nie geweet nie, maar eers uitgevind nadat ek weg was. Dalk was sy nie eens seker wie die pa is nie.”
Charl is siedend. “Wat insinueer jy? Dat ék ook my innings by haar gehad het? Al het my huwelik gewankel, het ek nooit so iets met daardie meisie aangevang nie. Ek beskou dit regtig as benede my waardigheid om my eie ontvangsdame te misbruik. En as ek iets tussen julle vermoed het, het ek ’n stokkie daarvoor gesteek. Wat vir my die ergste is, is dat almal dink ék is die pa.”
“Hel, ek is jammer.”
“Jammer? Jy het my goeie reputasie moontlik onherstelbaar geskaad. As ’n mens dit eers verloor, kry jy dit moeilik terug. Mense skinder mos graag. En die feit dat ek en Maureen net mooi nou aan die skei is, is vet op die vuur. Nou brand dit eers lekker.”
“As die kind aangeneem word, sal alles oorwaai.” Thomas se stem klink amper pleitend.
“Jy gaan nie die kind laat aanneem nie. Daardie klein mensie is ’n Naudé, bloed van ons bloed, met Naudé-gene. Moenie vir my sê jy voel niks vir hom nie. Was dit myne, sou ek hemel en aarde versit het om hom te hou.”
“Jý kan hom altyd aanneem as dit vir jou so belangrik is.”
Daar is ’n kort stilte. Charl kan amper nie sy stem beheer toe hy weer praat nie. “Hoe kan ’n geskeide man ’n kind aanneem? Daar moet ’n ma wees. Hoe durf jy in elk geval jou verantwoordelikheid op my probeer afskuif? Jy het lankal die waardes wat jou ouers jou geleer het oorboord gegooi!”
“My ouers het my afgeskeep, want hulle was te besig om geld te maak.” Thomas se stem is skor en selfbejammerend.
“Ag so? Hulle het geld gemaak wat jou in staat gestel het om maklik deur die lewe te gaan. Jy wou nooit hard werk nie, maar jy het darem MB ChB geslaag. Nou beskou jy jouself as te verhewe om te trou met die vrou wat jou kind verwag. Jy stel my geweldig teleur, Thomas.”
“Ek wil met Janet Wyndham trou, jy weet dit. Daar is geen vergelyking tussen haar en Celeste nie,” protesteer Thomas.
“Jammer, maar dis van die baan. Jy kan nie nou meer by Janet Wyndham aanlê nie.”
Daar is weer ’n stilte en toe iets wat vir Charl amper soos ’n snik klink.
“Jy sal maar moet regmaak waar jy verbrou het, my nefie. Jammer, maar as jy nie self eerbaar wil optree nie, sal ek jou moet dwing. Jy sal oor twee dae Kaap toe vlieg en met Celeste kom trou. Daarna sal jy haar en die kind onderhou, of jy met haar wil saamleef of nie. Ek sal sorg dat jou vlug gereël word, ek sal die blitstroue met ’n magistraat-vriend reël, en ek sal as getuie optree.”
“Charl, hel, hoe kan jy my probeer dwing?” Thomas se stem is rebels.
“Hoe? Jy weet mos daar is iets soos DNS-toetse. Ons kan bewys dat jy die pa is. Jou ouers sal ook nie wil hê jy moet jou kind weggooi nie. Moet my nie teleurstel nie, want dan sien jy my nooit weer nie.”
Hy hoor hoe Thomas aan die ander kant begin huil.
“Nou goed,” stem hy naderhand snuiwend in. “Maar op een voorwaarde.”
“Jy is nie in ’n posisie om voorwaardes te stel nie, Thomas, maar laat ek hoor.”
“Ek wil onmiddellik na die troue terugkom Londen toe.”
Charl oorweeg dit. Hy is besig om sy neef tot ’n ongelukkige huwelik te verdoem, en dit is erg.
“Goed,” stem hy in. “Maar ons sal jou vrou en kind in ’n ordentlike voorstad, in Durbanville, vestig. Sy gaan nie ’n Naudé in die patetiese omstandighede grootmaak waarin sy haar nou bevind nie. Haar ma is arm en versukkeld. Jy sal sorg dat sy en die kind nooit gebrek ly nie. Die verhouding tussen julle sal julle maar self moet uitwerk, maar jy moet net weet dat daardie vryheid wat jy opeis, teen ’n prys kom.”
“Dis reg so.”
“Ek kan jou nie hoor nie.”
“Dis