Geskenk uit die hemel. Christine le Roux

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Geskenk uit die hemel - Christine le Roux страница 6

Geskenk uit die hemel - Christine le Roux

Скачать книгу

wakker word. Hou maar ’n ogie oor haar, ek moet teruggaan kantoor toe.”

      Sy volg hom met die trappe af. “Meneer moes haar darem nie omgery het nie.”

      “Ek het dit nie aspris gedoen nie!”

      “Almiskie.”

      Hy is nog knorrig toe hy terugkom in sy kantoor en Annemie, sy sekretaresse, bring koerend tee toe sy sy gesig sien.

      “Is alles in orde?” vra sy.

      “Ek hoop van harte so.”

      “Is dit iets waarmee ek kan help?”

      “Nee.”

      Sy bekyk sy gesig, die bruin hare met die effense grys spikkels in, die diep frons tussen sy wenkbroue, die mond – ten beste van tye streng en die lippe nou hard opmekaar gepers. “Goed,” sê sy. “Jy sal nie vergeet van vanaand nie?”

      Hy kyk op. “Wat is vanaand?”

      “Die skemerkelk by die Mount Nelson. Van ses tot agt en daarna gaan jy eet saam met die mense van …”

      “Kanselleer dit,” val hy haar in die rede. “Ek moet huis toe gaan ná werk, ek kan nie in die stad rondlê nie.”

      Haar dun geplukte wenkbroue skiet die hoogte in. “En wat sal ek sê is die rede?”

      “Onvermydelike omstandighede. Persoonlike sake.”

      “Mm.” Sy tik die potlood teen haar voortande. “Is jou ouers …?”

      “My ouers makeer niks nie.”

      “Ek sien.” Sy draai weg toe hy sy rekenaar aanskakel.

      “Wat weet jy van jeugherberge?” vra hy skielik.

      Sy bly staan. “Jeugherberge? Dis tog nie die soort plek waar jy wil bly nie?”

      “Natuurlik nie. Ek wil net weet. Is hulle gerieflik?”

      “Ek weet regtig nie. Ek dra geen kennis daarvan nie. Dis waar hippies oorslaap, is dit nie?”

      “Hippies! My liewe Annemie, hippies het uitgesterf voor jy gebore is.”

      “Jy weet wat ek bedoel. Jongmense met rugsakke.”

      Sy oë flits gevaarlik. “En wat is verkeerd met jongmense met rugsakke?”

      “Niks nie, niks nie. Ek bedoel maar net. Dis nie vyfsterhotelle nie. Skoon en gerieflik, maar basies. Ek weet nie van hier nie, maar ’n niggie van my het oorsee in sulke plekke geslaap en dis glo maar ’n deurmekaar slapery.”

      “Wat beteken dit?”

      “Mans en meisies saam.”

      Hy frons dieper. “Oor my dooie liggaam.”

      “Ekskuus tog?” Sy leun effens vooroor en wankel onverhoeds op haar hoë hakke.

      “Niks nie, ek het net hardop gedink. Dankie.”

      Sy loop ingedagte terug na haar kantoor en gaan sit agter haar lessenaar. Met haar lang pienk naels skik sy die bos rose wat voor haar staan en elke tweede dag vervang word. Wat voer hy in die mou? Waarom hol hy skielik uit die kantoor en bly ure weg en vanwaar die skielike belangstelling in jeugherberge? Sy trek een verlepte blaar af, frommel dit op en gooi dit in die snippermandjie alvorens sy die telefoon optel en die aand se afsprake kanselleer. Toe sy daarmee klaar is, kyk sy na die instrument. Sy huishulp kry elke week ’n lys van sy sosiale verpligtinge sodat sy weet wanneer hy tuis sal wees vir etes, dis nie minder as reg nie en inderdaad die plig van ’n goeie sekretaresse om Anna te laat weet van die verandering in Pieter se planne. Sy tel die gehoorstuk op en skakel.

      “Meneer Louw se huis,” sê Anna soos sy geleer is.

      “Hallo, Anna,” sê Annemie vriendelik. “Hoe gaan dit daar?”

      Anna se stem word drie grade kouer. Sy hou nie van Pieter se sekretaresse nie, die vrou matig haar aan. Sy het eenkeer werk huis toe gebring, besluit Anna lyk nie netjies genoeg nie en uniforms gaan koop in lilapers en wit. Lilapers rokke met wit voorskote vol pers valletjies. Anna hou nie van pers nie. Sy sal geel of blou of pienk dra, maar nie lilapers nie. Annemie het ook gesê om die telefoon te antwoord deur “Jip?” te sê, is nie goed genoeg nie; die korrekte manier is: “Meneer Louw se residensie.” Hier het Anna haar voet neergesit. Sy sal huis sê, maar nie residensie nie.

      “Dis okay,” sê sy nou behoedsaam.

      “Ek bel net om te sê meneer Louw sal wel vanaand tuis wees vir ete. Hy gaan nie meer uit nie.”

      “Okay,” sê Anna.

      “Nie okay nie, Anna. Jy moet sê: dis in orde.”

      “Okay,” sê Anna.

      Annemie kners versigtig op haar gekroonde tande. “Ek hoor julle het huisgaste?” sê sy vriendelik.

      “Huisgaste?”

      “Kuiermense.”

      “Ek weet nie daarvan nie,” sê Anna.

      Annemie voel verlig. “O, ek het hom seker misverstaan. Ek was onder die indruk hy moet huis toe gaan omdat daar mense is.”

      “Nie mense nie, net een en sy slaap.”

      Annemie skop onder die lessenaar teen die dwarsbalk vas en trek ’n gesig toe die pyn haar reeds verdrukte tone tref. “’n Meisie? Slaap sy daar?”

      “Natuurlik, waar anders?”

      “’n Familielid?”

      “Nie wat ek van weet nie,” sê Anna. “Is daar nog iets? Meneer het gemaan ek moet my oog op haar hou, ek kan nie heeldag op die foun lê nie.”

      “Is sy siek?”

      “Nie eintlik nie.”

      “Dankie,” sê Annemie. Sy besef dis onbetaamlik om so uit te vis. “Jy sal dus onthou dat meneer Louw vanaand by die huis sal wees en sorg dat daar aandete is.”

      “Ek sorg altyd vir die kos,” sê Anna. “Maar as sy betyds wakker word, sal sý seker sorg. Sy ken van kos. Meneer sê die omelet wat sy vanoggend gemaak het, was so lig jy kon hom wegblaas.”

      “Dankie,” sê Annemie en sit die telefoon neer. Sy staar na die oorkantste muur.

      Vier jaar gelede toe sy Pieter die eerste keer gesien het, het sy besluit hy is die man vir haar. Lank, aantreklik en ryk, maar veel beter: ongetroud. Sy het vantevore ’n stel afgetrap met ’n man wat getroud was, maar haar probeer oortuig het die huwelik is oor die muur. Van toe af loop sy lig en met Pieter was sy veilig. Hy het nóg vrou nóg verloofde en sover sy kon agterkom nie eers ’n vaste meisie nie. Hoekom dit is, kon sy nog nooit vasstel nie. Hy hou van meisies en die kere dat sy hom na een of ander sosiale geleentheid vergesel het, was hy baie hoflik en korrek. Sy het hom al ’n paar keer na haar woonstel genooi vir ete,

Скачать книгу