Flentermens word heelmens. Helena Olivier
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Flentermens word heelmens - Helena Olivier страница 3
Nie maklik nie
Liewe medereisiger op die lewenspad, dit is nie maklik om die W van Wanhoop in die M van Mallemeule om te swaai nie. Die koudheid, leegheid en grysheid van die hartseer wat in elke beentjie van jou liggaam skuilplek gevind het, het jou gees laat afstomp. Jy het gemaklik begin raak daar onder in die donker gat van die v-tregter. Bitterheid en depressie klou aan jou hart, net soos die apatie, twyfel, vrae, vrees vir mense en dinge, en selfs vrees vir die mens wat jy geword het. ’n Mens sonder ’n wil en visie.
Maar jy het ’n kragtige stuk toerusting ontvang om jou te help om hierdie ommeswaai te bewerk: gebed. Wanneer jy bid, beweeg God en wanneer God beweeg, verander mense en situasies. God gee sy Heilige Gees die opdrag om namens jou op te tree. Terwyl jy daar in die donker gat lê, is sy engele rondom jou. Jy kan hulle net nie sien nie.
Toeskouer
Luister onbevooroordeeld.
Moenie oordeel as jy nie eers self in iemand se skoene gestaan het nie.
Bemoedig ander in smart.
Wees deernisvol en goedgesind
Hanteer mense met liefde en geduld.
Wees sagmoedig.
Wees verdraagsaam.
Versterk ander deur hulle met wysheid en insig te leer en te help.
Bid sonder ophou vir ander mense se geestelike en liggaamlike herstel.
Bemagtig ander om op hulle eie bene te staan deur hulle te bemoedig om die Wapenrusting van God (Ef 6:10-20) aan te trek sodat hulle regop kan bly staan.
Omdat Christene weet waar hul aardse reis gaan eindig, kan hulle leef met die wete dat daar wel ’n toekoms bestaan. Troos mekaar dan met die woorde van 1 Tessalonisense 4:13-18:
Ons wil hê … dat julle nie onkundig moet wees oor wat met die ontslapenes gaan gebeur nie. Dan sal julle ook nie treur nie, soos die ander mense wat geen hoop het nie. Ons glo immers dat Jesus gesterwe maar ook opgestaan het. Net so glo ons ook dat God saam met Jesus die ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe sal neem. Dit sê ons vir julle op grond van wat die Here gesê het: Ons wat bly lewe tot met die wederkoms van die Here, sal die ontslapenes hoegenaamd nie voor wees nie. Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan; daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons altyd by die Here wees. Troos mekaar dan met hierdie woorde.
Met God as die middelpunt van jou lewe verander jou perspektief op die lewe:
Sonder God | Met God |
–Begrawe ons ons gevoelens. | –Rou ons oor ons verlies. |
–Vervang ons dit wat ons verloor met iets anders. | –Kyk ons ons pyn vas in die oë. |
–Treur ons alleen. | –Treur ons in gemeenskap met ander mense wat vir ons omgee. |
–Sê ons tyd heel alle wonde. | –Is die Heilige Gees ons Trooster. |
–Leef ons met verwyte. | –Vergewe ons ons en ander. |
–Vertrou ons nie sommer weer nie. | –Vertrou ons God met ons toekoms. |
Met God in ons lewe is dit vir ons makliker om die W van Wanhoop in die M van Mallemeule te verander.
Die emosies van die rouproses
Wanneer jy ’n verlies ervaar – watter vorm dit ook al aanneem – is die gevoel dat dit nie waar kan wees nie, ’n baie normale reaksie. Dit kon nie met jou gebeur het nie. Jy wil die nuus wat jy ontvang het nie glo nie. Wanneer die werklikheid dan insink, is jou reaksie woede. Jy is kwaad. Jy vra: “Hoekom moes dit nou juis met mý gebeur? Dit is so onregverdig!”
Soms wil jy met God onderhandel. Jy dien God, maar jy kan nie aanvaar dat slegte dinge ook met goeie mense gebeur nie. Dit is asof jy dink gelowiges verdien dit nie dat ’n verlies van enige aard hulle tref nie. Jy dink goedheid en guns behoort jou te volg ómdat jy glo en God dien.
Hierdie onderhandelingsproses sluit dikwels in dat jy vir God belowe dat, as Hy jou situasie sou verander, jy en jou gesin Hom sal dien, of dat jy iets wat vir jou belangrik is, sal prysgee. As God dit nié vir jou sou doen nie, sal Hy maar tevrede moet wees dat jou plek in die samelewing waar jy Hom dien van nou af leeg sal wees. Want, só redeneer jy, hoe kan die God van liefde so wreed teenoor sy volgelinge wees?
Afhangende van die soort verlies wat jy ervaar het, kan geestelike en emosionele probleme ná ’n rukkie opduik. Die hartseer kruip oor maande heen tot in elke beentjie in jou lyf, totdat ’n reaktiewe depressie opvlam. Die gevoel dat jy net wil slaap en nooit weer wil wakker word nie spoel oor jou. Jy wil net daar in die diep, donker put bly lê. Jy wil aanmekaar huil totdat daar nie meer trane in jou oor is nie, of totdat jy in jou trane verdrink.
Jy het eenvoudig nie die krag om uit die put te klim nie. Hierdie magtelose lusteloosheid word ’n daaglikse stryd. Jy wil alleen wees, maar voer ’n stryd om oorlewing. Die lewe is nie ’n grap nie. Jy sien geen uitweg uit jou situasie nie.
Dit is normaal om emosies soos vrees, woede, kommer, depressie, verwyt en smart te ervaar wanneer iets of iemand van jou weggeneem word. Jou emosies is immers deel van jou menswees. Dit maak jou nie ’n slegte mens as jy hierdie emosies ervaar nie. Jy hoef nie te probeer sterk lyk nie, want dit is nie die werklikheid nie. Jy mag maar hartseer wees. Jy mag maar huil. Jy is nie ’n superhero nie. Jy is ’n weerbare mens met gevoelens. Dit is soos God jou gemaak het. Enige verlies is ontstellend en jy sal ondraaglik verlang na wie of wat jy verloor het.
Hoe help jy iemand wat oor ’n verlies rou?
Wanneer jy te doen kry met iemand wat rou oor ’n verlies, wees besonder waaksaam en oplettend. Wees bedag daarop dat hul worsteling hulle so kwesbaar kan maak of so kan aftakel dat hulle na verkeerde grashalms gryp bloot omdat dit soos ’n maklike uitweg lyk of omdat dit verligting van die pyn belowe.
Wanneer iemand wat rou oor ’n verlies hulle volkome afsonder van die gemeenskap, familie en vriende, is dit tyd dat dié wat die naaste aan hulle is (familie of vriende), ingryp en hulle probeer oorreed om hulp te aanvaar.
Ons het ander mense nodig. Mense wat ons sal aanmoedig. Mense wat ons sal ondersteun. Mense wat namens ons sal dink en doen wanneer ons nie kan nie.
Dit is egter baie belangrik dat ons sal besef dat ’n tydperk van rou noodsaaklik is wanneer mense enige soort verlies ervaar. Wanneer iets of iemand van ons weggeneem word, moet ons mekaar dra en bemoedig. Niemand weet hoe en hoe lank enigiemand nodig het om ’n verlies te verwerk nie. Elke mens is uniek. Ons moet respek hê hiervoor. Dié wat rou, sal weer die son sien skyn wanneer die tyd vir hulle reg is.
Mense ervaar in hul donkerste tye dikwels die meeste groei in hul lewe omdat God hulle in daardie donker tyd geestelik versterk. Hulle besef dit egter nie op daardie oomblik nie. Dit is eers heelwat later dat ’n mens dit raaksien en insig en wysheid bekom.
Hierdie waarheid is telkens bevestig in die onderhoude wat ek vir hierdie boek gevoer het. Terwyl mense in die rouproses was, kon hulle die gebeure nie verstaan nie. Later het hulle egter besef hulle het nader aan God gegroei, al verstaan hulle steeds nie God se paaie nie.
In My Moquini skryf Karen Tocknell:
It was only when I lost everything and had nothing but God to rely on, that I fully surrendered