Middernagmusiek. Amelia Strydom
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Middernagmusiek - Amelia Strydom страница 10
“Ruik so sexy jy sal my in ’n wip kan vang.”
Wat? Haar keelspiere vergeet hoe om te sluk. Verdomp, hoekom het sy nie daaraan gedink nie? Die geur ís besonder sensueel, veral danksy die sandelhout en patchouli.
“Volgende keer sal ek arnika gebruik.” Dankie tog, hy lê op sy maag, anders het hy haar gesig nou soos ’n rooiwarm stoofplaat sien gloei.
“Dêm, jy breek my hart.”
“Die behandeling sal beter werk as jy ophou praat.”
Hy lag.
Sy moet die impuls onderdruk om ’n handdoek in sy mond te prop.
Tot haar verligting help die bekende roetine haar fokus. Haar hande gly werktuiglik oor die spiere aan weerskante van sy ruggraat. Aanvanklik hou sy die streling lig, dan verdiep sy die drukking geleidelik. Sy volg ’n sirkelroete: af by sy rug, oor sy heupe, langs sy sye op totdat haar hande weer by sy skouerblaaie ontmoet.
Oor en oor herhaal sy die patroon – ritmies, byna hipnoties.
Die wrywing genereer hitte in haar handpalms en die spanning in sy spiere smelt weg. Sy vel kry ’n gesonde gloed. Verbeterde bloedsirkulasie, dink sy tevrede. Dit sal die inflammasie teenwerk.
Sy beweeg tot langs die bed en drup nog olie in haar handpalm. Met haar duime takel sy die snaarstywe spiere in sy nek, vryf sy die spasmas uit. Versigtig om nie te na aan sy werwels te werk nie, migreer haar vingers af na sy lae rug, ’n area wat dikwels ongemaklik is na ’n lang motorrit.
Hy trek sy asem skerp in en sy verminder dadelik die druk. “Jammer, is dit seer daar?”
“Nie te erg nie.”
“Jy moet praat, jong, nou is nie die tyd om Superman te speel nie. Ek wil weet waar jou lyf se limiete lê sodat ek daarbinne werk.”
“Jy beledig my limiete. Superman is mos die ou met die speeding bullet problem.”
Isolde pers haar kneukels geniepsig in die spierknope onder sy agterkop.
“Eina, bliksem!”
“Bietjie gevoelig daar?” vra sy liefies.
“Dit was aspris.” Sy rug skud van die lag.
“Nooit nie, my hande het gegly. Bly liewer stil dat ek kan seker maak dit gebeur nie weer nie.”
Voor hy verder kan teenpraat, rol sy die trapesiusspiere in sy skouers tussen haar duime en voorvingers. Dis sy probleem-area, die plek waar haar aanraking die meeste verligting sal bring. Vir ’n sekonde verstyf sy nek, dan maak hy ’n geluid wat vrek baie klink soos ’n oerwoudkat wat spin.
Kolskoot, dink Isolde. Is ek goed of is ek goed?
Toe Hugo se nek- en rugspiere so los is soos wat hulle vandag gaan kom, laat rus sy haar hande op sy skouers vir afsluiting. Sy trek die handdoek hoër op sodat sy bolyf bedek en sy bene ontbloot is. Een palm gaan lê op sy sakrum, die ander op sy hakskeen. Met lang hale smeer sy olie van sy bobene na sy tone. Sy skulp haar hande rondom die spiere in sy agterbene, stryk opwaarts en dan weer af. Eers veerligte effleurage, dan kragtiger drukking om die dieper weefsel te bereik.
Sy asemteue word langer en dryf verder uitmekaar. Hy het sowaar ingesluimer. Sy hou haar linkerhand op sy kuit en trek met die regter nog ’n handdoek oor sy bolyf sodat hy nie koud kry wanneer sy basale temperatuur val nie.
“Moenie sê jy’s klaar nie.” Hy is dadelik wakker toe haar hande stil word.
“Ek’s halfpad.” Sy hou sy voete vir tien tellings vas. “Sodra jy gereed is, kan jy omdraai.”
Sy draai weg om hom privaatheid te gee en gebruik die geleentheid om die spanning uit haar hande te skud.
“Massage is harde werk,” sê hy. “Jy’s sterker as wat jy lyk.”
“Dankie.” Sy drapeer die handdoek oor hom en lê haar regterhand op sy voorkop. “Maak jou oë maar weer toe.”
“Ek wil liewer vir jou kyk.”
“Jy gaan na die plafon kyk.” Sy doen haar bes om normaal te klink, maar die woorde kom kortasem uit. “Ek gaan by jou voete werk.”
Op hierdie punt sit sy altyd haar ander hand op die kliënt se midderif om sy bewustheid daarheen te verskuif, maar ook om sensitiwiteit te kommunikeer. Mens voel blootgestel só op jou rug. Kwesbaar. Sy weet – op kollege het hulle mekaar as proefkonyne gebruik.
Snaaks genoeg voel sy nou bietjie so. Is dit omdat hy haar nog dophou?
Sy skraap haar moed bymekaar en laat sak haar linkerpalm tot op sy sespak. Elke tassenuwee in haar vingerpunte staan op aandag: registreer die karteling van sy maagspiere, sy gladde vel, die hitte wat hy uitstraal. Haar polsslag verdubbel. Goeie hemel, hoe lank kyk hy nou al na haar? Iewers het sy gelees ’n man wat langer as agt sekondes oogkontak hou, is reeds besig om jou met sy oë uit te trek. ’n Gevoel wat dêm naby aan opwinding is, wel in haar op. As een van hulle nie wegkyk nie, gaan sy spontaan aan die brand slaan.
Sy vingers sluit om haar pols, so onverwags dat Isolde soos ’n springhaas wip. Hy sleep haar hand, wat skielik ’n ton weeg, tot op sy borskas. Onwillekeurig kyk sy af. Sy vel is ’n paar skakerings bruiner as hare en sy voorarm lyk onweerstaanbaar manlik só met die donker inknote. Haar hand vou soos ’n roosknop oop oor sy pektorale spiere.
“Ek wou net sê . . .” Hy maak keelskoon. Sy hart tamboer teen haar vingerpunte. “Thanks. Ek voel klaar soos ’n ander mens.”
“Dis my werk.”
“Jy’s goed daarmee.” Hy los haar pols en kyk op na die plafon. “Kan jy, um, vir my ’n glas water kry?”
“Natuurlik.” Met die omdraaislag tref dit haar hoekom hy so selfbewus lyk. Bliksem-donner, die man het dan ’n ereksie onder die wit handdoek. ’n Indrukwekkende een, in haar beskeie opinie. Nie dat sy ’n ekspert is – of behoorlik gekyk het nie – kwalifiseer sy die gedagte gou.
Bleddie sandelhout en patchouli! Hopelik weet hy nie sy het gesien nie.
Hy praat eers toe sy voor die wasbak staan, haar rug na hom. “Sorry, bokkie. Dis moerse embarrassing, ek wil jou nie ongemaklik maak nie.”
“Toemaar, jy’s nie die eerste of die laaste man om so iets oor te kom nie.” Net die eerste een wat daarin slaag om haar verbouereerd te maak. Sy draai die kraan so klein moontlik oop sodat die straaltjie die glas tydsaam vul. “Maar daar’s één ding waaroor ons mekaar mooi moet verstaan. Sien jy daardie gat in die koppenent van die masseertafel?”
Hy gee ’n instemmende “hm”.
“Noem my nog een keer ‘bokkie’ of ‘baby’ en ek druk jou kop dwars daarin, seer nek ofte nie.”