Die liefde oorwin. Schalkie van Wyk
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die liefde oorwin - Schalkie van Wyk страница 6
“Maar as sy hom dalk liefhet?” vra hy vertwyfelend.
“Wie? Vir Bruce? Moenie laf wees nie, Henk!” raas Sonja onthuts toe sy ’n tweede beker koffie langs hom neersit. “As Ilse op Bruce verlief was, sou sy elke aand haar oë uitgehuil het omdat hy so dikwels ander meisies uitneem, maar sy steur haar nie eens daaraan nie. Ilse se probleem is dat sy nog nooit werklik op ’n man verlief was nie. Of miskien is sy, sonder dat sy daarvan bewus is.”
“Hoe bedoel jy nou? Op watter man is sy verlief?” vra Henk skerp en daar is kommer in sy oë.
Sonja lag goedig en skud haar kop. “My liewe Henk, moenie so besorg lyk nie. Dis maar net ’n vermoede wat ek het, maar dit sal dislojaal wees om iets meer daaroor vir jou te sê. Ek begin net wonder of jy nie dalk besluit het dat Ilse die regte meisie vir jou is nie, want jy is darem té bekommerd oor haar en Bruce. Is dit in die kol?”
“Niks is onmoontlik nie,” lag hy en daar is ’n ligte kleur op sy nek en gesig, “maar eintlik bekommer ek my al vier jaar lank oor julle twee meisiekinders. Veral oor Ilse – sy ’s so ’n ou kleintjie dat enige man haar sal wil beskerm.”
Of liefhê, dink Sonja en kyk met iets soos jammerte na die groot man oorkant haar in die leunstoel.
’n Rukkie later keer Henk terug na sy kamer. Hy kyk sonder belangstelling na die oop boeke op die groot skryftafel voor sy venster en keer onwillekeurig terug na die oop kamerdeur. Hy leun teen die deurkosyn en suig ingedagte aan sy pyp terwyl hy die motors wat in die straat verbyflits, fronsend dophou. Links voor hom klap ’n motordeur toe en ’n kleinerige gestalte kom met vinnige, kort stappies in die donker tuinpaadjie opgestap. Henk loop met lang treë oor die donker stoep, glip by die voordeur in en skakel die stoeplig aan.
“Goeienaand, tannie Nicky,” groet hy die kort, fyngeboude Nicky de Villiers. Ondanks haar twee-en-vyftig somers straal Nicky se gesig ’n byna tasbare lewensvreugde uit. Haar figuur lyk jeugdig in die netjiese broekpak, haar grys hare is glinsterend en sag en in ’n byna sorgelose bolla laag in haar nek vasgevat. Maar dis die stille blyheid in die vrou se groenblou oë wat Henk weer eens boei en hom laat wonder wat die geheim van haar geluk is.
“Hallo, Henk,” groet die vrou en hou ’n pakkie na hom uit. “Hoe gaan dit, ou grote? Ilse het my die ander dag vertel julle klompie leer druk vir die eksamen. Is sy hier? Ek moet die pakkie gou vir haar gee. Leon rook weer die motor vol blou dampe as ek hom te lank laat wag.”
“Ilse het saam met Bruce gaan koffie drink, maar ek sal die pakkie vir haar gee as tannie te haastig is,” bied hy aan.
“Bruce?” ’n Fronsie keep tussen die vrou se wenkbroue. Sy kyk op in Henk se sterk gesig en lê haar hand vertroulik op sy arm. “Jy moet ons meisiekind oppas, Henk. Jy weet ek en oom Leon keur nie haar vriendskap met Bruce goed nie. Waarom dóén jy nie iets daaraan nie, kind? Of het ek my misgis toe ek al ’n paar jaar gelede besluit het jy het ’n sagte plekkie vir ons meisiekind in jou hart?”
Henk glimlag en wonder vir die soveelste keer waarom die vrou met soveel eerlikheid oor sy diepste gedagtes kan praat sonder dat dit hom ontstel. Moontlik omdat haar belangstelling eg is en nie aan vulgêre nuuskierigheid grens nie, mymer hy. “Tannie het reg besluit, maar ek glo nie Ilse sal in hierdie stadium in my belangstel nie, nie solank sy deur Bruce se blink geld verblind word nie.” Hy lag gedwonge en haal sy skouers op. “Wie weet, dalk word ons meisie eendag groot.”
“Moet net nie te lank wag nie, Henk,” waarsku Nicky, kyk ’n oomblik ernstig in sy oë en draai haastig om. “Sê vir Ilse julle twee moet weer kom kuier, Henk, en dra my groete aan haar oor. Tot siens!”
“Ek sal so maak, tannie. Tot siens,” sê Henk en kyk haar glimlaggend agterna.
Agter hom brul ’n kragtige rooi sportmotor die erf binne en kom onder die peperboom langs sy motortjie tot stilstand. Hy sien Ilse uit die motor klim en hoor die deur agter haar toeklap. Sy kom haastig om die motor geloop.
“Moenie uitklim nie, Bruce. Ek sal nou dadelik weer moet gaan studeer,” hoor hy Ilse sê.
“Dis nou my meisie,” kom Bruce se stem uit die donker. Hy draai na die jong man wat agter Ilse gesit het en nou vorentoe in haar leë sitplek klim. “Wat het ek vir jou gesê, Karel? Ek kan maar die hele kerkraad saambring as ek haar uitneem, want sy behandel my soos ’n stiefbroer of ’n sieklike ou oom. Nag, mooi ding!”
“Dankie vir die koffie, Bruce. Lekker slaap!” roep Ilse en stap na haar kamer voordat Bruce ry.
In sy kamerdeur glimlag Henk tevrede. Hy draai om en sit Ilse se pakkie op sy skryftafel neer. Dan sak hy op ’n leunstoel neer, soek sy sakkie tabak op die koffietafeltjie voor hom en begin sy pyp tydsaam stop.
Dan het Sonja tog die waarheid gepraat, peins hy, besef dat hy nog glimlag en vee half ergerlik oor sy gesig. Maar hy was nie die enigste een wat bekommerd was nie. Tannie Nicky en oom Leon voel nes hy oor Ilse en Bruce se verhouding. Maar na daardie toneeltjie onder die peperboom weet hy vir seker dat sy nog nooit op Bruce verlief was nie, al oorweeg sy dit ook om ter wille van sy pa se geld met hom te trou.
Hy steek sy pyp op en suig daaraan totdat dit goed brand. Dan leun hy behaaglik terug teen die stoelleuning, terwyl sy oë op die oop deur rus. ’n Mooi meisie, sy Ilse, mymer hy. Hy frons ongeduldig toe sy blik op die foto van ’n middeljarige man en vrou op sy skryftafel val. As hy en sy pa nie vyf jaar gelede rusie gehad het nie – en as hulle siening van boerdery nie so hemelsbreed verskil het nie …
Rykdom. Hy glimlag wrang en kyk met iets soos bitterheid na die man op die foto. O, hy ken rykdom – hy, die enigste seun van ou ryk Hendrik Retief. Maar vyf jaar gelede het sy pa hom reeds onterf, hom as ’t ware weggejaag, en al sy ma se gepleit en trane kon nie weer ’n versoening bewerkstellig nie.
Hy maak ’n ongeduldige handgebaar, asof hy die probleme van gister soos spinnerakke voor sy gesig wil wegvee, en staan op. Rusteloos kom hy orent en stap buite op die stoep uit. Hy leun teen ’n pilaar en kyk na die twee meisies by die groot tafel in die kamer aan die onderpunt van die stoep.
Hy kon sy eie plaas gehad het, een van sy pa se talle plase wat tog eindelik syne sou gewees het. Dan sou hy vir Ilse kon gesorg het. Vir haar en haar mense … beter as wat Bruce Reyneke ooit sou kon doen.
Hy byt op sy onderlip en ’n frons keep diep tussen sy donker wenkbroue. Stadig skud hy sy kop. Nee, dis nie wat hy wil hê nie. Die dag as hy met Ilse – of met enige ander meisie – trou, sal dit wees omdat sy hom liefhet, en hy vir haar. Maar as hy geld gehad het, as hy sekerheid oor sy toekoms gehad het, as hy Ilse se vrees vir armoede vir altyd kon wegneem, haar sekuriteit kon gee … Waarom moet geld dan so ’n allesoorheersende faktor wees? Hy is tog jonk en bekwaam en hy sal vir haar kan sorg, al moet hy dan ook ’n plaasbestuurder wees. Waarom juis glinsterende rykdom? Nee, hy het lank genoeg getalm en aan haar gevoelens gedink. Hy sal sorg dat sy hom liefkry! Maar dis hierdie … armoede wat hom soos ’n wurm laat voel! En tog, daar is ander meisies wat bereid sal wees om met hom te trou ondanks sy armoede. Dis hoe Ilse hom moet liefhê – vir hom, sonder geld of besittings. En dis hoe sy hom gáán liefhê, buig of bars!
Hy sal die pakkie vir haar neem en dalk ’n oomblikkie kry om alleen met haar te gesels – sommer nou! Driftig begin hy na sy kamerdeur stap, maar steek vas toe hy ’n vinnige beweging uit die hoek van sy regteroog gewaar. Hy draai na die deur van die middelste kamer en sien Tanya in ’n sagte, deurskynende kamerjas uit haar kamer stap. Sy hou ’n handboek in haar hand.
“Henk! O, daar is jy!” fluister sy. Haar stem is hees en sy kom