Satyn Omnibus 5. Wilmari Jooste
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Satyn Omnibus 5 - Wilmari Jooste страница 4
Meneer Bremer kyk op sy horlosie en soek sy motorsleutels. “Ons moet ry. Ek sal op pad ’n paar besienswaardighede vir jou gaan wys,” bied hy aan. “Of wou jy nog ’n rukkie vir jou vriend gewag het?”
Clio sou graag wou, maar sy wil nie die mense verder verontrief nie. Sy kan langs die pad weer probeer bel. En as dit moet, kan Arnold haar môre in Pretoria kom haal. Mits hy bereid is … Dis nie hoe sy hom onthou nie – so onseker en wispelturig. Hy torring al so lank aan haar en het gretig geklink om haar te sien, selfs aangebied om haar vliegkaartjie te betaal. Iets rym nie …
Is hy dalk siek? As hy ’n skielike blindedermaanval gehad het of in ’n ongeluk was, sou hy nie kon bel nie. En Jurg sou hom nie verwerdig het om moeite te doen nie. Vir ander meisies, ja … Hy is bekend as ’n rokjagter, het glo altyd een of ander skoonheid op sleeptou. Arnold spot dat sy broer énigiets sal doen vir ’n mooi meisie, selfs sy laaste stukkie klere uittrek …
Maar nie vir háár nie, dit weet sy goed. Jurg beskou haar as ’n voorwerp wat in ’n rioolpyp uitgebroei het. En die gevoel is wedersyds.
Meneer Bremer draai van die snelweg af en ry ’n ompad om vir hul oorsese kuiergas die voorstede, Uniegebou en Voortrekkermonument te wys, asook ’n paar strate in Brooklyn waar die jakarandas op hulle beste lyk – oortrek met massas wasige pers blommetjies. Clio maak ’n plastieksakkie vol bloeisels vir haar ma; sy sal dit pars en saamneem later.
“Kan ek asseblief netnou julle telefoongids gebruik?” vra sy toe sy in die motor terugklim. “Ek wil Vuurfontein toe bel. Talien sal weet wat met Arnold aan die gang is.”
Aloma haal haar skouers op. “As jy so dink …”
Haar oë is nog pofferig, maar sy het die snesies gebêre, sien Clio. “G’n ploert is dit werd dat ek ’n enkele traan op hom mors nie,” het Aloma ’n rukkie tevore verklaar. “Ek het daardie hoofstuk van my lewe afgesluit en begin vandag op ’n nuwe bladsy. Ek sal huil oor my honde, my papegaai en my marmot, maar beslis nie weer oor flippen Rinus de Wet nie. Eendag gaan jy nog dieselfde voel oor Arnold van Deventer – dankbaar wees jou oë het betyds oopgegaan en jy is van die boef ontslae.”
Clio byt op haar onderlip. Miskien is Aloma reg. Miskien moet sy Arnold afskryf, hom vergeet. Maar eers láter … Nou wil sy antwoorde hê. Uitvind wat gebeur het om hom in sy kokon te laat terugklim. Hy kan nie net sommerso verdwyn nie, hy skuld haar ten minste ’n verduideliking. ’n Goeie rede. En ’n groot verskoning.
“Face die feite: jy’s ook gedump,” vryf Aloma dit in. “Dit gebeur nie net met rooikoppe nie, dit kan selfs sexy blondes tref. Jou en Arnold se e-posvryery was soos die internet-kletskamers s’n: 99% van die kandidate is kansvatters wat nie in die samelewing tot ’n normale verhouding in staat is nie en van wie jy moet wegbly. Eintlik moet jy bly wees jou ou het nie opgedaag nie, anders het jy ook met ’n boks snesies gesit.”
Aloma oordryf, soos gewoonlik, besluit Clio en probeer afskakel. Sy let nie die swaar ysterhekke op waardeur die motor indraai en die imposante dubbelverdiepinghuis nie.
Voor haar geestesoog is ’n skraal, sensitiewe gesig met blinkbruin hare wat oor sy voorkop val en ’n paar eerlike grys oë wat sonder skroom van agter die bril na haar kyk … Arnold is nie ’n kansvatter nie. Hy is ’n sagte, weerlose mens wat niemand sal skade aandoen nie. Sy weet hy is lief vir haar en hy wou haar sien, wou haar op die plaas hê … Hy sou haar nie sonder ’n grondige rede in die steek gelaat het nie.
Op vier-en-twintig het sy darem al iets van die lewe ervaar. In Kanada was daar ander seuns met wie sy vriende was; op universiteit selfs een of twee wat vir haar meer beteken het: sterre in haar oë gesit het en haar knieë lam gemaak het. Deel van die grootwordproses, het sy besef, en haarself nie toegelaat om té lief vir hulle te word nie.
Want iewers diep, in ’n baie spesiale plekkie in haar hart, was die buurseun in Suid-Afrika. Die sagte, geduldige buurseun wat altyd daar was wanneer sy hom nodig gehad het. Wat haar in die vlak water van die rietkuil leer swem het, wat haar leer perdry het, die voëls wat Lallie gevang het gesond gedokter het, wat in die skoolbus vir haar plek gehou het langs hom.
Wat een aand buite op die patio, toe dit volmaan was, haar hand vasgehou en haar sag op die mond gesoen het. Dit was so natuurlik, amper vanselfsprekend, dat sy hom met kinderlike onskuld teruggesoen het. Eers op die wang en toe ook op die mond. ’n Baie lekker soen, waaroor sy romantiese dagdrome gehad het, pleks van in die klas op te let en haar skoolwerk te doen.
Arnold het haar boekesak gedra, ’n paar keer by die kafee vir haar ’n melkskommel gekoop en in die bus haar hand vasgehou. Maar hy het haar nie weer gesoen nie. Net die aand op die lughawe toe hulle vertrek het, het hy haar styf vasgehou, sy mond warm teen hare gedruk en belowe hy sal vir haar wag. Wag tot sy groot is. Wag tot sy eendag terugkom …
“En nou?” frons Aloma toe Clio met haar hand oor haar oë vee. “Hoekom klim jy nie uit die kar nie? Vanwaar die skielike waterwerke? Moenie vir my sê dis wraggies oor daardie slapperd nie!”
Nee, Clio was sommer sentimenteel, aangedaan by die gedagte dat sy uiteindelik weer in haar eie land is … Sy mompel ook iets van hooikoors, van die stuifmeel aan die blommetjies, klim uit en haal haar bagasie uit die kattebak.
Aloma stap vooruit deur die ingangsportaal, met die wenteltrap op en in ’n lang gang af, waar sy ’n deur oopmaak. “Die slaapkamer langs myne. Jy het ’n uitsig oor die Magaliesberge, jou eie TV en badkamer. Daar’s seep, handdoeke, sjampoe en gesigroom. Het jy als? Of is daar nog iets wat jy nodig het?”
“Daar is …” Clio huiwer, maar dis belangrik en sy kan dit nie sommer net los nie. “Daardie telefoongids, asseblief?”
2
Anders as Arnold se selfoon, gee Vuurfontein se huisfoon skaars drie luie, toe tel iemand op.
“Hallo, Jurg wat praat.”
Dáárop was Clio nie voorbereid nie. Sy was ingestel op Talien of Betta, selfs dalk Arnold. Die stem is voller, meer bariton as elf jaar gelede, maar die klank daarvan is in haar geheue afgeëts en onaangenaam bekend. Sy voel hoe haar nekhare rys en maan haarself tot kalmte.
“Is Arnold daar?” vra sy kil.
Haar vraag word deur ’n stilte begroet. Dan vra hy skerp: “Wie is dit wat praat?”
Sy ignoreer die vraag. “Ek het gevra of Arnold daar is?”
“O heng! Dessit!” mompel hy onderlangs, en nog ’n erger woord, wat Clio gelukkig nie hoor nie. “Wat’s die datum vandag?” wil hy weet.
“Wat de joos maak dit saak?”
Hy lag saggies. “My ore en geheue het my nie bedrieg nie … Dis inderdaad die skone Cleopatra. Nog net so ’n kapokhennetjie soos altyd. Daardie aggressiewe reaksie en rasperstem sou ek uit duisende ander herken het.”
“En ek joune ook!” kap sy terug. “Dit gee my nou nog nagmerries en slegte spysvertering.”
“So, jy is sowaar terug in die land …” mymer hy. “Wie het gedink die Yskoningin sou haar verwerdig het? Ek het geweet jy kom die een of ander tyd gesig wys, maar het die datum vergeet. Jammer, ek het nie besef dis vandag nie. Waar’s jy?”
Yskoningin.