Hammie. Ronelda S Kamfer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Hammie - Ronelda S Kamfer страница 2
my ma is die spook wat langs die strand stap
my ma is water
sy was eers brood
ek dink aan Krismisoggend jare gelede
my ma in die kombuis neurie
die treurigste happyste song
terwyl ek in my bed rondrol en religion haat
ek staan stadig op en loop tot by haar en moan
ek kan nie wag vir Krismis om verby te wees nie
Sterk staan vir plat skoene
toe ek jonger was
het ek helde gesoek
verby my ouma
ver van my ma
Amerikaanse feminisme
het my geleer
dat vrouens als kan doen
wat mans kan doen
hulle het gefight vir equality
my ma’le het gefight vir survival
dit was ’n tyd in my lewe
toe alles verkeerd was
maar nou is alles reg
en ek kan sien waarvoor
my ma’le gefight het
om van hulle knieë af te kom
omdat die rewolusie
nie vir hulle sexual was nie
Lae lewens
daar was ’n vrou in my lewe
wie so baie verraai was
dat haar hart ’n sirkel was
sy het haar vernederings
saam met haar badolie
in haar vel gevryf
sy was my ma
en sy het my geleer
hoe om nie lief te wees
vir myself nie
Nathan
ek sit en wag
in die ICU
langs my ma se bed
my ma gaan dood
my ma is dood
Nathan
het ’n song
op my phone gesit
wat hy insist ek moet luister
sodra ek by die hospitaal kom
tannie Margot en Liesel sms
elke paar minute
hulle wil nie wag vir die oproep nie
hulle wil daar wees
hulle wil hulself in my kop sit
om te keer dat ek my kop verloor
die verpleegster kom en vra
of sy gou my ma
kan gemaklik maak
ek gaan lê op ’n bank
in die wagkamer
sit my earphones in en begin
Nathan se song luister
in the still of the night,
in the world’s ancient light
ek voel asof die klank in
die wêreld sag gedraai is
by die einde van die song
wag ek nie meer vir die dood nie
ek wag vir hom
om langs my te kom staan
vandag was veronderstel
om ’n boring dag te wees
ek en my ma was van plan
om my babaklere uit
die lay-by te gaan haal
Immigrant
die dag toe ons trek uit Eersterivier uit
was ek veronderstel om happy te wees
ek het gedink as ek net uit daai plek kan kom
sal die lewe beter wees
ek het als omtrent dit gehaat
die gangsters
die taxis
die man by die winkel
met die gun
die childless couple wat lekkers verkoop het
die maer man met die motorbike wat langs ons gebly het
die stukkende karre
die ou mense in werksklere
tot ons in Blackheath gaan bly het
toe haat ek al
die wannabe gangsters
die ver stap vir taxis
die man by die winkel
met die Bybel
die newlywed couple wie se pa
vir hulle ’n sesslaapkamerhuis gekoop het
die ou vrou wat alleen gebly het
die blink duur karre
die ou mense in hulle lawn chairs