7 Dae. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу 7 Dae - Deon Meyer страница 1
Vir Anita
Dag 1
Saterdag
1
Hy wil net nie ’n gat van homself maak nie.
Speurder-kaptein Bennie Griessel is in ’n nuwe stel klere wat hy nie kan bekostig nie, met ’n bos blomme op die passasiersitplek, sy hande swetend op die stuurwiel, sy hele wese hunkerend na die helende, senu-kalmerende kragte van drank. Want vanaand wil hy asseblief tog nie ’n gat van homself maak nie. Nie voor Alexa Barnard nie, nie voor musieksterre nie, nie ná al die voorbereidings van die afgelope week nie.
Maandag al het hy sy hare laat sny. Dinsdag was Mat Joubert se vrou, Margaret, sy klere-konsultant by Romens in Tygervallei. “Dis smart casual, Bennie, net chino’s en ’n mooi hemp,” het sy geduldig in haar sjarmante Engelse aksent gesê.
“Nee, ’n baadjie ook,” het Griessel vasgeskop, baie bang vir te “casual”, en nie “smart” genoeg nie. Want daar gaan smart mense wees.
Hy wou ’n das ook hê, maar Margaret het haar voet neergesit. “Overdressed is erger as underdressed. No tie.” Toe is hulle daar uit met kakie-chino’s, ’n ligblou katoenhemp, swart gordel, swart skoene, ’n byderwetse swart baadjie en ’n kredietkaartrekening wat hom laat sidder het.
En van Woensdag af berei hy homself geestelik voor, want hy weet dié ding, hierdie geleentheid, het die potensiaal om hom heeltemal te oorweldig. Sy grootste vrees is vloek, want dis wat hy doen as hy benoud raak. Hy sal ’n wag voor sy mond moet plaas, die hele aand lank. Geen polisietaal nie, geen kru woorde nie, mooi praat, kalm bly. Daarom het hy dit alles deurdink, “geprevisualiseer”, soos Dok Barkhuizen, sy borg by Alkoholiste Anoniem, voorgeskryf het.
Vir Anton L’Amour sal hy sê: “Kouevuur’ is briljante kitaar.” Dis al, moenie begin liries raak en kak praat nie. Vir Theuns Jordaan: “Ek hou baie van jou werk.” Dis ’n goeie ding om te sê, vol respek en waardering, waardig. Here, en as Schalk Joubert daar is, gaan hy wat Bennie Griessel is diep asemhaal, bladskud, net sê: “Aangename kennis, dit is ’n groot voorreg.” Dan moet hy liewer loop voor die stortvloed van heldevererende, baskitaar-bewonderende woorde oor sy keerwalle spoel.
En dan, sy groot bekommernis: Lize Beekman.
As hy net een dop kan maak voor hy haar ontmoet. Om te keer dat sy senuwees handuit ruk.
Hy sal sy hand eers aan sy nuwe broek moet afvee, want hy kan nie vir Lize Beekman groet as dit so gesweet is nie. “Juffrou Beekman,” sal hy sê. Met ’n beheerste, vriendelike glimlag. “Juffrou Beekman, dit is ’n uitsonderlike voorreg.” Nee, nee, dis nie die woord wat prof. Phil Pagel, die staatspatoloog, voorgestel het nie. Dit was “sonderlinge”.
“Juffrou Beekman, dit is ’n sonderlinge voorreg. Jou musiek gee my groot genot.” En sy sal “baie dankie” sê, en dan sal hy sy bek hou en vir Alexa gaan soek, want dit is al manier hoe hy nie ’n gat van homself gaan maak nie.
* * *
Die wit Chana-paneelwa hou stil onder die bome in Tweedelaan, tussen die Hoërskool Livingstone en die agterplaas van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se Claremont-stasie.
Dit is ’n onopvallende voertuig, ’n 2009-model wat die letsels van harde werk dra – ’n duik in die voorste buffer, skaaf- en krapmerke agter by die laaideur. Die vensters in die middel en agter is ondeursigtig gemaak met goedkoop wit verf. Buite verskil die sypanele se kleur effens van die res van die voertuig.
Agter die stuurwiel skakel die sluipskutter die enjin af, plaas al twee sy hande op sy knieë en sit net vir ’n oomblik, doodstil.
Hy het ’n blou werkersoorpak aan, effe verbleik. Blonde hare lê lank teen sy rug af, ’n bruin bofbalpet is laag oor sy oë getrek.
Hy kyk met doelgerigte fokus eers deur die linkervoorvenster, na die verlate skoolgronde. Dan regs. Hy bestudeer die hoë heining oorkant die straat, die dubbele draadhek, en daaragter, die SAPD-werf, in die vroegaand in Tafelberg se skaduwee gehul. Dit is stil en verlate.
Hy maak seker die twee deure voor is gesluit, klouter oor die sitplek na agter. Die pakruimte is deurmekaar, kiste en kaste van metaal, hout en karton. Hy gaan sit op ’n houtkassie en maak die tuisgemaakte skerm van verbleikte geel materiaal teen die tapytbeplakte dak los. Dit skei hom af van die stuurkajuit , maak hom onsigbaar vir verbygangers.
Hy haal die pet af, plaas dit eenkant, bewus daarvan dat sy asem begin jaag, dat sy hande effens bewe. Hy ontspan sy skouers met ’n gedwonge sug, leun af en maak ’n lang, verweerde gereedskapkis oop, en verwyder die uittellaai. Dit is swaar, gevul met goedgebruikte gereedskap – hamers, ’n versameling skroewedraaiers, knip- en knyptange, ystersaaglemme. Hy plaas dit sag langs die kis neer, op die rubbermat wat die Chana se vloer bedek.
Daar is twee artikels onderin die rooi kis – ’n vuurwapen en ’n K-Way Kilimanjaro Trekking Pole.
Hy haal die wandelstaf eerste uit, en laat dit teen sy skouer staan, tel die geweer op, druk die knaldemper voor versigtig deur die swart lusband aan die punt van die staf, sodat die teleskoop aan die vuurwapen onaangeraak bly, en draai die staf antikloksgewys, tot die band styf is.
Hy druk sy wang teen die kolf, toets dan die hoogte van die wandelstaf-stut, en maak ’n verstelling.
Hy skuif die Chana se regtersypaneel met drie sentimeter na regs, aan die klein handvatsel wat hy aangebring het. Daarna die magnetiese paneel buite, sodat hy die loop en teleskoop na buite kan rig.
Hy druk die kolf teen sy skouer en kyk deur die skoop, na die SAPD-parkeerterrein. Hy stel die fokusring.
* * *
Voor die groot Victoriaanse huis in Brownlowstraat vat Griessel die blomme, klim uit en loop deur die tuinhekkie voordeur toe.
Alexa Barnard is besig om die huis op te knap. Voor teen die heining is die lelike, reusagtige kaktus onlangs verwyder, teen die huis staan die verwers se stellasies hoog.
Alles deel van haar herstelproses, dink hy. Haar nuwe lewe.
Hy gaan staan voor die deur, kyk af na sy skoene. Hulle blink.
Hy haal diep asem. Sê nou maar hy het die ding verkeerd verstaan, en dis ’n pikkewynpak-en-strikdas-ding vanaand, en Alexa maak die deur in die een of ander eksotiese aandrok oop? Of dis heeltemal informeel, denims en oop hemde. Hy was nog nooit by ’n musiek-skemerkelk nie.
Hy lui die voordeurklokkie, hoor hoe sy afkom met die trappe.
Die deur gaan oop. Hy sien haar.
“Jissis,” sê Griessel.
* * *
Deur die loergat sien die sluipskutter die polisiebakkie wat hier reg langs die Chana verbyry, stadig, om by die groot hek in te draai.
Hy wag dat dit weer in sy gesigsveld kom, in die parkeerterrein. Hy druk sy wang teen die geweerkolf, volg die bakkie met die teleskoop.
Net een insittende, in uniform.
Die