Letitia en die lektor. Anita du Preez
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Letitia en die lektor - Anita du Preez страница 2
Die parkeerruimte wemel van vier-by-viers met poppies agter die stuur. Verkeerde tyd van die dag. Letitia is nie lus vir die rondomtalie om op ander parkeervlakke na ’n gaatjie te soek nie. Die spasie wat sy soms skelm as parkeerplek gebruik, is al wat oop is. Sy trek haar motor sommer gou teen die verste muur tussen die twee rye parkeerplekke in. Gelukkig pla niemand haar ooit daar nie.
Twintig minute op die oefenfiets plus twintig op die trapmeul laat haar bloot soos ’n hamster voel. Dis nie genoeg om die donderweer uit haar siel te dryf nie, en sy draf sommer die Super Circuit ook supervinnig kaf.
Natgesweet stap sy terug na haar kar. En net daar wéét sy. Die ellende het haar ingehaal, oorgekook en oor die rand van haar uithouvermoë gemors. Want van ver af sien sy die A4-kennisgewing op die Fiestatjie se ruit. En goudgeel, soos ’n spinnekop van staal, sit ’n wielklamp aan die regtervoorwiel.
’n Verwoede vrou met ’n yslike agterstewe in glimmende lemmetjie lycra storm op haar af. Die een wie se kar sy vasgeparkeer het.
Nog ’n onnodige halfuur en R250 later kners Letitia ten minste die helfte van die tydelike stopsel uit haar tand al die pad tot by haar huisie in Harfield waar sy die Fiesta sidderend voor haar hek tot stilstand bring. Sy slaan haar voordeur agter haar toe, plak haar skootrekenaar neer en slinger handsak en briewetas eenkant toe. Albei beland net-net op haar nuwe rusbank van Mr Price Home.
Toe grawe sy haar selfoon uit. Sy moet met iémand praat of ’n aar gaan bars. Haar vinger gly oor die knoppies. Een na die ander kry sy dieselfde reaksie van die vermakerige geblikte vrouestem: “The subscriber you have dailed is currently unavailable … blah blah …”
Die foon beland naelskraap langs die twee sakke op die goed gestoffeerde rusbank en glip iewers in ’n gleuf in. Dit begin dadelik gesmoord lui. Haar vingers grawe tussen die twee gepofde kussings met populêre afdrukke van proteas en windpompe.
Dit hou op lui die oomblik toe sy dit raak vat, net agter die fraai gefraiingde mosgroen strooikombersie van Woolworths. Sy stryk die kombersie weer mooi in sy voue reg en onnadenkend skuif sy die kussings oudergewoonte elk eers ’n aks na links, dan na regs, al verbeter dit niks aan die komposisie nie. En skielik is alles vir haar so onuithoudbaar lelik. So voorspelbaar. Proteas? Windpompe? Soos elke tweede yuppie sonder identiteit.
Liewe genade! Dis die resultaat van die skielike inkopie-aanval verlede Saterdag in Cavendish Square? Wás dit nou regtig nodig? Wat het haar besiel? Veral aangesien niks daarvan regtig by haar styl pas nie. Beslis nie by een van haar geliefde Tretchikoffs nie. Nie dat sy meer seker is wat haar styl nou eintlik is nie. Negosiewinkel? Kraaines? Superkitch? Nee, wag, wat was die term wat die een vindingryke joernalis ná haar laaste uitstalling vir Letitia le Roux se eklektiese styl uitgedink het? Postpop. Sy hou nogal daarvan. Maar Gunther het nie.
“Horror vacui,” het die ewige pedant haar altyd gespot wanneer sy met trots soos ’n eekhoring haar kosbare vondste van Milnerton se mark of die Parow-stalletjies aandra. “Fear of empty space, my liewe Tish, ook bekend as kenofobie, is waaraan jy ly, my mens. Was dit nie wat daardie resensent ná jou laaste uitstalling geskryf het nie? Dat die komposisies van al jou skilderye en tekeninge so oorvol soos ’n Victoriaanse vrou se dresskas is?” Die feit dat hy die resensent se woorde heeltemal uit konteks aangehaal en misverstaan het, het hom nie van sy slotsom laat afwyk nie. “En dit, my liewe skat, kan selfs ’n artistieke leek soos ék vir jou verklaar, is alles te wyte daaraan dat jy so lief vir opgaar is.”
Maar dit het hom nie gekeer om al die goed wat iets werd was saam met hom te neem nie, of hoe? Vir haar het die plek ontsettend kil en kaalgestroop gelyk nadat Gunther sy goed kom haal het. Later was sy net eenvoudig keelvol vir die vervlakste armoedige look. Sy haat minimalisme en na haar mening kan ’n mens shabby chic ook net só ver vat, so sy moes iets gedoen het. Maar jeesh! Windpompe? Kon sy nie self iets meer oorspronklik ontwerp het nie?
Sy onderdruk met moeite die yskoue gedagte dat die mislike meneer Swart dalk reg is. Dat sy haar cutting edge verloor het. Die pad heeltemal byster geraak het. Dat sy haar vinger regtig nie meer op die pols van kontemporêre tendense in die kreatiewe wêreld het nie. Dat al haar helde soos James Jean, Diane Victor en William Kentridge dalk oornag ou nuus geraak het. En dat leë galerye en rooi geverfde planke, soos dié van Yves Klein of John McCracken van die sestigs nou skielik weer stilletjies die in-ding geword het. Kan dit wees dat oorvol komposisies geheel en al passé geraak het terwyl sy oor Gunther sit en treur en anderpad gekyk het en dat die kunswêreld deesdae weer uitsluitlik kwyl oor white space en eenvoud? En dat Chris Swart dit raakgesien het?
Hý, nogal, wat van sy eerste dag op kampus rondloop soos die koning van die kuberruim asof hy die enigste mens op aarde is wat ’n meesters in grafiese ontwerp behaal het. Hmmmpffff! Asof digitale kuns die tradisionele dissiplines soos skilder en teken heeltemal vervang het en háár werk en háár M.A. in beeldende kuns die laaste stuiptrekkings van ’n verdwynende tradisie is.
Die gedagte smaak skoon bitter in haar keel, veral wanneer sy dink aan die yslike onvoltooide flop van ’n tekening op die esel in haar kamtige ateljee waarin sy so lanklaas was. So asof sy die oomblik van waarheid vermy soos sy die oop deur vermy elke keer wanneer sy in die gang na haar slaapkamer toe stap. So asof syself nie meer glo in haar eie vermoëns as kunstenaar nie.
Maar sy sal weer regkom en ’n comeback maak. Al het sy nou nie meer die groot ateljee wat sy in haar en Gunther se huis in Oranjezicht gehad het nie, en ook nie meer so baie tyd vandat sy voltyds moet werk nie, het sy immers al ’n hele paar groot uitstallings by al die mees invloedryke galerye in die land gehou. En naam gemaak. En sy sal weer. Sy sal maar net moet uithaal. Uithaal en die ondraaglike know-it-all meneer Swart wys presies waartoe sý in staat is.
Die foon piep weer huiwerig in haar hand. Natuurlik. Gunther. Wil sy regtig nóú met haar eks praat? Na die dag wat sy gehad het? Gunther, wat alles tog te mooi rasioneel en rustig vir haar sal uitlê? Gunther, sielkundige wat hy nou eenmaal in murg en been is, sal goed sê soos dat hy jammer is om te hoor dat sy so voel. Dat sy nie uit die oog moet verloor dat sy effens obsessief-kompulsief is nie en dat sy moet onthou dat sy soms geneig is om te oorreageer. En dan gaan sy heel moontlik die horries kry en op hóm begin skree en sal hy weier om kwaad te word. Selle ou storie. Nee, dankie, vir Gunther se irriterende kalmte en sy versigtige persoonlikheidsanalises is sy rêrig nie nou lus nie.
Sy het ses jáár daarvan verdra, dink sy. No, she paid her dues.
Aan die ander kant, beggars can’t be choosers. Gunther is darem iemand, for crying out loud. En luister is mos wat hy doen vir ’n lewe, of hoe? Boonop hét hulle mos nou kamtig ’n “amicable divorce” wat in die nuutste Elle beskryf word as die beste soort egskeiding. Ironies. Byna soos om die beste opsie uit ’n lys van dodelike siektes te moet kies.
Sy het nie juis “amicable” gevoel toe Gunther haar ewe kalmpies van hom en Jennifer se verraad vertel het nie, maar woede en trane werk in elk geval nie op meneer Sielkunde nie. Hy het alles tog só vrééslik rasioneel benader en verbeel hom dat hy haar blitsvinnig deur die vyf stadiums van verdriet en verlies begelei het. Nou ja, hulle praat darem steeds, so dit kon erger gewees het. Sy sak op die bank neer en kyk na die foon wat eenvoudig weier om op te hou lui. Dalk moet sy tog maar antwoord. Solank sy net nie weer oordryf of verder uitfreak nie.
Sy haal diep asem, en druk die groen knoppie.
“Tish?” sê Gunther.
Die diepe sekerheid van sy stem ontlok tot haar ergernis onmiddellik weer die hele stortvloed opgekropte woorde in haar: “My tand pyn en ek moet ’n wortelkanaal ondergaan en die een