Louisa du Toit Omnibus 10. Louisa du Toit
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Louisa du Toit Omnibus 10 - Louisa du Toit страница 26
Elzar weet dat dit onbeleef is om mense in die rede te val. Dis een van sy pastorale voornemens om iemand altyd die geleentheid te bied om klaar te praat en uit te praat. Om nie premature antwoorde te sit en bedink nie, net eers luister. Hy oefen fluks, en hy vorder. Maar op hierdie oomblik kan hy hom nie keer nie. “Met tyd wat ek waar kry? Ek is nie meer ’n sorgvrye student nie. Jy werk in die week, ek werk in die week én naweke, Tanja. Kry dit in jou kop, liewer te vroeg as te laat.”
“Elke liewe naweek?”
“Behalwe as ek behoorlik en betyds verlof insit. Sodat die konsulent kan kom preek. En die meeste Saterdae is daar ’n troue of twee.”
“Arme ou Haan. Toe maar, binnekort is ek deel van die opset. Liewer te vroeg as te laat, soos jy sê. Dan help ek jou al hierdie laste met vreugde dra.”
Daar kom dit nou, dink hy, haar vorstelike voortvarendheid. En sy wil die troudatum ryp druk. En sy gebruik troetelname oor die foon. Môre lê die dorp vol van “ou Haan”. Dis sy bynaam, nadat hy etlike ander tokkelokke uitgestof het by die bekwame mooi maatskaplike werkstudent. Wat sal Bina tog hiervan sê?
Hy wonder nog wat presies aangaan. Haar skielike weggaan, wie se inisiatief was dit eintlik? Hy brand om te weet. En is sy al op pad? Hy onthou dat Tanja op sy reaksie wag. Of dink sy? Ja, sy dink. Want sy praat weer eerste: “Nie in die pos nie, nee. Dan bring ek dit liewer self.”
“Wat?” skrik hy. “Ek bedoel, wat bring jy?”
“Maar Het Melkmeisje; het jy niks gehoor van wat ek sê nie? Dit grief my dat ek nog nie by jou is nie, aan jou sy. Ek dink aan die Bybelse beeld ‘braakland’. Sê my, ek wou al vra: as ek daar is, en jy het vergaderings, soos kerkraad of kommissies, mag ek by wees? As ek agterlangs op ’n stoel sit? Ek belowe ek sal nie ’n woord praat nie, behalwe natuurlik as ek iets werklik sinvols te sê het.”
Elzar se droë mond is dus nie net vanweë die wreed afgeknipte slaap nie.Vergesog. Daar is geen ander woord voor nie. Maar hoe bring hy haar dit aan die verstand? Hy kry darem uit: “Moenie haastig wees nie, die melkmeisie is met verlof en bly lank weg.”
“Ek sit nogtans self solank verlof in,” belowe sy. “Dan kan hulle betyds ’n afloswerkster hierso kry.”
“Ja, ja,” mompel hy. “Dit gaan ook maar dol hier. Later dalk beter. Wil jou darem nie afskeep …”
“So jy verlang my darem ’n bietjie?”
“Natuurlik,” sê hy opreg. “Nie ’n bietjie nie, en glad nie net af en toe nie.”
“Ek laat jou weet. Ek doen my bes.” Soengeluide, haar mond teen die foon.
Toe Elzar terugkruip onder die beddegoed, is dit nog skaars lig. Hy wens hy kan verlaas indommel, maar hy glo vas dat hy nooit weer in sy hele lewe sal kan slaap nie. Hierdie vroumens weet hoe om hom deurmekaar te klits, vanaf sy hormone tot by sy daaglikse program, sy hoop en sy wanhoop, sy drome en nagmerries. En makliker sal dit nie word nie. Hy kry ’n prentjie van haar, stigtelik op ’n stoel “agterlangs” terwyl hy en die sogenaamde swartspan, ten alle koste outonoom, in aller-geskoktheid vergader.
Toe kan Elzar Enslin aan niks anders dink om te doen nie: hy trek sy kop toe.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.