Ena Murray Keur 11. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 11 - Ena Murray страница 24

Ena Murray Keur 11 - Ena Murray

Скачать книгу

groter as haar eie.

      Karlien is verslae oor die storm wat in haar woed. Dis nie ek nie, vertel sy haarself oor en oor. Ek is nie ’n jaloerse mens nie. Ek is nie ’n mens wat haat nie! Of leer ek myself nou eers werklik ken? Noudat Eden die lagie vernis afgevryf het? Sy voel hoe sy bewe. Sy verag haarself vir die ontembare emosies wat so skielik in haar losgebars het, maar selfs haar selfveragting kan dit nie keer nie. Dis dáár. Sy kan dit nie ontken nie.

      En daar is niks, niks wat sy kan doen nie. Tog … Haar oë vernou die eerste keer. Miskien is daar … As sy Julius van haar bewus kan maak as vrou, nie as ’n opgeskote kind nie … As sy hom, soos Carroll, doelbewus uitlok? Hy is maar net ’n man. Hulle is alleen in die lang, tropiese nagte. As sy …

      Sy dwing haar gedagtes met ’n byna bomenslike poging tot stilstand. Nee. Hoe desperaat sy ook al mag raak, dít sal sy nooit regkry nie. Sy sal haarself nie goedkoop maak nie. Dis al wat sy sal oorhê die dag wanneer sy vaarwel moet sê – haar selfrespek. Die waagstuk is ook te groot. Sy sal sterf as Julius haar pogings om sy aandag te trek as amusante tydverdryf beskou. Sy sal sterf van vernedering as hy haar openlik uitlag.

      Daar is net een weg vir haar oop. Hierdie mooi, nuwe, wonderlike liefde moet sy diep in haar hart wegsluit waar niemand dit kan sien nie; waar niemand dit ooit sal ontdek nie. Sy het dit weliswaar aan John erken, maar al sou dit Julius se ore bereik, sal hy niks daarvan dink nie. Hy sal aanvaar sy was net besig om haar rol oortuigend te speel, dis al.

      Sy sluit haar oë moeg. Eden … Maar dit is geen paradys nie.

      Toe Malcolm die volgende dag daar aankom met ’n tas klere, is hulle ’n oomblik alleen terwyl Daphne iets te drinke gaan haal, en Karlien neem haar kans waar.

      “Hoe voel jy, Malcolm? Is alles … reg?”

      Sy glimlag is breed, te breed na Karlien se sin.

      “Daar is niks verkeerd nie. Ek is piekfyn. Asseblief, kleintjie, vergeet van nou die aand. Moenie spoke sien waar geen spoke is nie.”

      Maar die bruin oë bly bekommerd. “As dit dan niks is nie, hoekom moet ek soos die graf daaroor swyg? Julius is tog jou vriend, Malcolm. Hoekom mag hy nie weet dat jy aanvalle kry nie?”

      “Ek het jou reeds gesê –” Daar is nou ’n ligte frons tussen sy wenkbroue.

      “Ja, ek weet, maar ek is nie oortuig nie,” val Karlien hom haastig in die rede. Haar blik huiwer nie voor syne nie. “Jy steek iets vir ons weg, Malcolm.”

      “Asseblief, Karlien, jy verbeel jou dit …” Hy sug en neem haar hand in syne, maar sy oë ontwyk hare en Karlien weet dat sy die spyker op die kop geslaan het. Malcolm is siek. Dis seker. En hy steek dit weg. Dit was net toevallig dat sy dit agtergekom het. Sy is ook oortuig daarvan dat dit ernstig is. Hoekom sal hy ’n kleinigheid so naarstiglik probeer wegpraat en wegsteek?

      Dan kyk hy op en sy trek haar asem skerp in. Soveel pyn het sy nog nooit in ’n volwasse man se oë gesien nie.

      “Nou goed, Karlien. Dink wat jy wil. Onthou net, ek het niks erken nie. Maar oor een ding moet ons mekaar goed verstaan. Nie ’n woord nie, nie ’n enkele woord aan enige mens nie. Verstaan ons mekaar, Karlien?”

      Sy lek eers oor haar droë lippe en vang dan haar onderlip vas. “Maar hoekom, Malcolm? Hoekom mag niemand weet nie?” pleit sy dringend.

      “Omdat ek dit so wil hê,” sê hy en sy stem was nog nooit so kortaf teenoor haar nie. “Dis ’n belofte wat ek van jou eis, Karlien. Niemand mag weet nie, en ek bedoel niemand nie.”

      Sy blik hou hare gevange en sy wil protesteer, maar dan klink Daphne se naderende voetstappe op en sy het geen ander keuse as om te beloof nie.

      “Goed. Ek beloof, maar as jy … hulp nodig het …”

      “Natuurlik.” Hy glimlag verlig. Dan keer hy hom na Daphne wat uitgestap kom. “Ek sê nou net vir Karlien sy moet maar gou gesond word. Julius loop soos ’n kopseer bul op Praslin rond.”

      “So? Hoekom het hý dan nie die klere gebring as hy so danig verlang nie?” vra Daphne laggend.

      “Hy was van plan, maar daar het ’n moeilikheidjie op Félicité opgeduik, en toe moes hy daarheen.”

      “Waar is Carroll? Het sy nie saamgekom nie?”

      “Nee. Sy is saam met Julius na Félicité. Sy wil glo die een of ander rokpatroon by die bestuurder se vrou kry.”

      Op daardie oomblik kyk Julius en Carroll mekaar strak aan.

      Julius het ’n onheilspellende frons tussen sy wenkbroue. “Ek hou nie van jou insinuasies nie, Carroll. Karlien is my vrou. Daar is niks aan die gang, soos jy dit stel, tussen haar en John Roderick nie.”

      Carroll lag saggies. “Niemand is so blind as hy wat nie wil sien nie. Maar laat dit dan maar daar. Ek wou jou maar net as vriendin waarsku, dis al.” Sy aarsel berekenend. “Daar is nog iets, maar miskien moet ek liewer swyg. Dis egter vir ’n vrou swaar om alles veil te hê vir haar man, en dan flankeer hy met ander vroue rond.”

      “Jy praat nou twak, Carroll. Liewe land, ek glo geen enkele oomblik dat …”

      Die blou oë kyk hom weemoedig aan en weer lyk sy soos ’n verdwaalde meisietjie wat getroetel en beskerm moet word. “Malcolm is jou vriend, Julius. Ek wil nie teenoor jou kwaadpraat nie, maar … ek moet met iemand praat of ek gaan ingee. Ek is mos ook maar net ’n mens.”

      Hy kyk haar ondersoekend aan. “Maar om te beweer dat Malcolm ’n verhouding met ’n ander vrou het …”

      “En as dit waar is?”

      Julius se oë vernou en hy sê teësinnig: “Nou goed, Carroll. Wie is die vrou?”

      “Weet jy nie? Is jy so blind dat jy nie sien wat onder jou oë aangaan nie?”

      Julius draai nou direk na haar en sy stem is gevaarlik sag. “Ek weet nie waarvan jy praat nie.”

      “Dan sal ek jou vertel. Ek praat van jou dierbare vroutjie … Ja, moenie my so aankyk nie. Dis die waarheid. Die oomblik dat jy jou rug draai, is sy by hom in die jeep en weg is hulle. Ek, sy vrou, word nooit saamgenooi nie. Dis die waarheid, Julius. Gaan vra hulle as jy my nie wil glo nie. Jou vrou is ’n opperste klein flerrie. Ek gee nie om om dit reguit vir jou te sê nie. Sy het John en Malcolm op sleeptou, en ek … ek moet dit net aanskou.” Die blou oë swem in trane. “Selfs jy het my verlaat. Ek sien jou nooit meer nie. Jy kom nooit meer by my nie. Jy het beloof om my by te staan.”

      “Carroll!”

      Haar kop ruk op en sy kyk verslae terug in die granietharde oë. Die eerste keer sedert sy Julius Schreider ken, raak haar weerloosheid hom nie. Sy het hom, om die waarheid te sê, nog nooit so woedend gesien nie.

      “Nou luister jy na my. Dis hoog tyd dat jy ophou om jouself so te bejammer en die rol van martelares te vertolk. Dis tyd dat jy ophou om net aan jouself te dink en ’n slag ook ander se gevoelens in ag begin neem. As Malcolm geselskap gaan soek – maak nie saak by wie nie – dan lê die skuld by jou. Dan kry hy nie by jou wat hy nodig het nie. En op een punt moet ons mekaar vanmiddag baie goed verstaan. Karlien is my vrou. Moenie, asseblief, moenie – ek vra dit baie beleef – ooit weer probeer om haar by my swart te smeer nie. As dit weer gebeur, sal dit jou berou.”

Скачать книгу