Grenslose liefde. Malene Breytenbach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Grenslose liefde - Malene Breytenbach страница 4

Grenslose liefde - Malene Breytenbach

Скачать книгу

sê dokter Fraser. Sy klink kil en formeel en haar gesig bly ernstig.

      “Jy doen aansoek om ’n pos by ons,” sê Colin Mackenzie. “In jou brief noem jy dat jy na jou tyd by Dokters Sonder Grense weer gaan studeer en addisionele kwalifikasies gekry het. Die pos van verpleegster is al wat tans hier by ons beskikbaar is. Ons het net gewonder, wou jy nie eerder as sielkundige gepraktiseer het nie?”

      “Ek kan altyd hier in Suid-Afrika as sielkundige praktiseer, maar ek wil graag ’n ruk lank in die buiteland werk. Ek is bereid om weer verpleegwerk te doen. Ek glo dat die kennis wat ek opgedoen het, nuttig in julle soort opset kan wees.”

      Hy knik, maar daar is ’n klein fronsie tussen sy donker wenkbroue wat Carly ongemaklik maak.

      “Daar is duisende verpleegsters uit ontwikkelende lande wat in die Verenigde Koninkryk kom werk, maar deesdae is die immigrasiereëls strenger en baie sal moet teruggaan na hulle lande van herkoms,” maak dokter Fraser beswaar. “Ons moet voorkeur gee aan ons landgenote.” ’n Frons wat haar afkeurend laat lyk, keep tussen haar blonde wenkbroue. “Ons het aansoeke van plaaslike mense gekry waarna ons eerder moet kyk.”

      “Daar is deesdae streng vereistes waaraan ’n buitelander moet voldoen,” sê dokter Mackenzie. “Dit is goed dat jy darem ’n Britse paspoort het. ’n Werksaanbod van ons kant af sal dit natuurlik makliker maak vir ’n buitelander om ’n pos by ons te kry. Daar is heelwat rompslomp wat afgehandel moet word as jy hier wil kom werk. As verpleegster moet jy aan al die reëls en vereistes van die National Health Service kan voldoen.”

      Dokter Fraser se gesig word groter soos sy nader aan die skerm beweeg. “Ons het reeds een verpleegster van Suid-Afrika wat dokter Mackenzie voorheen geken het, daarom weet ons hoe dit werk. Verpleegsters wat oorsee gekwalifiseer het, moet by die Nursing and Midwifery Council se Overseas Nursing Programme registreer om in die VK te werk. Hulle moet aan die minimum NMC-opleidingsvereistes voldoen, soos basiese Engelse taalvaardigheid, en hulle moet ’n twintig dae lange program van beskermde leer volg. Daarna kan hulle, sodra hulle geregistreer het, aansoek om ’n visum doen.”

      Carly wonder of hulle haar nou waarsku dat sy die pos nie sal kry nie. Sy kyk hulle om die beurt stip in die oë. “Ek sal alles doen wat nodig is, mits julle my aansoek goedkeur.”

      Dokter Mackenzie glimlag. “Ek kan sien jy is gretig. Doen aansoek om ’n Tier 2 permit. Dit geld vir werknemers wat na die VK kom omdat hulle ’n gelisensieerde VK-werkgewer het en ’n pos kan vul waarvoor ons nie ’n persoon uit die Europese ekonomiese gebied kan kry nie. Ons moet die pos egter adverteer en bewys lewer dat ons nie ’n geskikte kandidaat kon kry nie, voordat ons dit vir jou of iemand anders kan aanbied. Mense uit Suid-Afrika is darem gesog, want hulle is bekend as harde werkers. Ek het gesien hoe hard jy kan werk, daar in Suid-Afrika.”

      Het hy dit regtig gesien? Het hy opgelet wat sy doen? dink Carly in verwondering. Hy was dan self so besig. Of sê hy dit net om haar te laat goed voel en dan bied hy tog nie vir haar ’n pos aan nie?

      “Ek sal enige toetse of eksamens skryf wat vereis word,” verseker sy die twee gesigte.

      Hulle kyk vlugtig na mekaar, en weer na haar.

      “Ons het reeds ’n Employer Sponsorship Licence om buitelandse werkers in diens te kan neem,” sê hy. “Ons moet dit hê om geskoolde werkers met spesifieke vaardighede aan te stel wat ’n tydelike leemte vul. So ’n werknemer kan tot drie jaar in die VK bly en vir ons werk. Eers daarna kan die werknemer om permanente verblyf aansoek doen.”

      “Goed, dis nou die basiese vereistes om die land binne te kom en hier te werk,” sê dokter Fraser saaklik, die frons steeds tussen haar blonde wenkbroue. “Ek het die CV gelees wat jy aan dokter Mackenzie gestuur het, maar vertel my asseblief self van jou vorige werkondervinding.”

      Carly vertel van haar werk vir Dokters Sonder Grense en brei uit oor haar studies. Die twee gesigte konsentreer op haar en luister aandagtig. Sy kyk meer na dokter Fraser as na dokter Mackenzie, want selfs oor Skype is dit onthutsend om in sy blou oë te kyk. Haar hart wil eenvoudig nie normaal klop nie. Sy hoop hulle kom dit nie agter nie.

      Toe sy klaar is, is daar ’n kort stilte.

      “Ons oorweeg jou aansoek, maar soos jy weet, is daar heelwat vereistes en ’n paar hekkies om oor te spring,” sê dokter Mackenzie met ’n toemondglimlag. “Ons sal jou laat weet. Dankie vir jou tyd, juffrou O’Neill.”

      “Ja, dankie, ons sal jou van ons besluit in kennis stel.” Dokter Fraser glimlag steeds nie.

      Carly glimlag en probeer om nie onseker te lyk nie. “Dankie. Ek hou styf duim vas.”

      Hulle groet almal, en die Skype-sessie skakel aan hulle kant af. Carly kom agter dat haar handpalms klam en haar rug stokstyf is. Sy draai haar kop heen en weer om haar skouers te laat ontspan. Maak haar hande oop en toe. Sy het geen idee of haar aansoek gaan slaag nie. Colin Mackenzie is wel vriendelik, maar sy vennoot lyk veeleisend, puntenerig en nie juis tegemoetkomend nie.

      Hulle het darem ’n ander Suid-Afrikaanse verpleegster aangestel. As hulle dit een keer kon doen, waarom nie ’n tweede keer nie?

      Dalk hou daardie dokter Fraser nie van wat sy sien nie. Sy het bykans negatief geklink, terwyl dokter Mackenzie neutraal was.

      Sjoe, nou moet sy in spanning vir die uitkoms van die onderhoud wag. Om vir daardie man te gaan werk, is ’n droom wat sy net kan bid bewaarheid sal word.

      3

      Carly sleep haar groot tas deur die skare mense wat saamdrom in die aankomsaal in die lughawe van Inverness. Na al die hekkies waaroor sy moes spring om hier te kan wees, is sy uiteindelik in Skotland, land van mistigheid, berge en koue grys see, van Hoogland-clans wat teen mekaar oorlog gevoer het, wat doedelsakmusiek speel en steeds kilts dra. Dit was nog altyd vir haar so ’n romantiese land.

      Dit is die land van Colin Mackenzie, die Skotse laird. Sy kan nie wag om hom weer te sien nie. Die afgelope maande het vreeslik lank gevoel nadat hy haar per e-pos laat weet het dat hulle haar ’n pos as verpleegster aanbied. Daardie dag het sy amper van blydskap bollemakiesie in haar meenthuis geslaan. Maar toe kom al die administrasie van aansoeke doen, permitte reël, haar vertrek reël, vriende en familie groet. Alles was tog die moeite werd, want hier is sy nou uiteindelik. Sy sien geweldig uit na die avontuur wat voorlê.

      Colin Mackenzie het gesê ’n drywer sal haar kom ontmoet, maar sy sien niemand met ’n kennisgewing nie. Sy staan en wag. Kyk na die vreemde mense wat mekaar groet, lag, soen en omhels.

      Uiteindelik kom ’n fris jong man met wortelrooi hare in tweedklere aangeloop. Hy kyk rond asof hy na iemand soek. Sy blik talm op haar.

      Hy kom nader. “Miss Carly O’Neill?”

      “Yes, I’m Carly O’Neill.”

      Hy steek sy hand na haar uit. “Goeiedag. Ek is Duncan Urqhart, die algemene bestuurder van Strahan. Welkom in Skotland.” Sy Skotse aksent is swaarder as Colin Mackenzie s’n, wat sag op die oor geval het. Dié man se r’e rol soos die geroffel van tromme.

      “Dankie.” Sy gee hom die hand.

      Hy neem haar tas by haar en loop so vinnig dat sy moet draf om by te hou. Hulle vleg deur die skare tot by ’n parkeerterrein waar hy haar na ’n nuwe Land Rover neem. Op die deur sien sy die logo: Strahan Castle. Hy laat haar voor by die passasierskant inklim en laai haar tas agter in. Hy klim in en trek

Скачать книгу