Piekfyn Afrikaans Graad 5 Leesboek vir Huistaal. Fanie Viljoen
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Piekfyn Afrikaans Graad 5 Leesboek vir Huistaal - Fanie Viljoen страница 5
Opmerking: In Untombinde se verhaal is die monster se naam “Isikqukqumadevu”. Dit word nie genoem in die verhaal nie om lees te vergemaklik.
Woordverklarings
alge – waterplant
assegaai – Zoeloe-spies
onteer – beroof van eer; skend
oorblyfsels – reste, dit wat oorgebly het
teëkom – ontmoet
vasbeslote – jy het ’n vaste besluit geneem; jy gaan nie jou besluit verander nie
wiere – waterplant
Beantwoord die volgende vrae in julle groepe:
1.Wie is die hoofkarakter in hierdie verhaal? Gee bewyse.
2.Hoekom wil Untombinde se pa haar nie na die poel toe laat gaan nie?
3.Wat gebeur met Untombinde?
4.Hoe voel die koning toe hy hoor van sy dogter se dood?
5.Werk die koning se plan om wraak te neem? Motiveer jou antwoord.
6.Watter bekende sprokie eindig amper soos hierdie verhaal?
7.Watter les kan jy leer uit die verhaal?
Woordeloos
Fanie Viljoen
’n Maanligstraal val deur die venster van die biblioteek. Dun. Silwer. Al die boeke is netjies weggepak. Elkeen staan op sy regte plek, geruisloos in hul rakke. Niemand fluister die woorde wat binne-in hulle lê nie. Die tafels in die naslaanafdeling is leeg, die stoele ingeskuif. Die rekenaars is afgeskakel. Daar is geen voetstappe, geen stempels, geen deure wat oopgaan, geen stemme nie. Net stilte.
Dan . . . ’n sagte plofgeluid!
Iets beweeg.
’n Hand skuif oor ’n rak. Die maanlig verf die vingers silwer.
Dit skuif verder oor die rak.
In die donker blink ’n oog. Daar is net een kolletjie wit in die swart spieël-oog. Die oog knip nie. Dit kyk net. Nuuskierig kantel die kop kant toe. Die kop is te groot vir die klein lyf. Die oë is te groot vir die kop. Twee dun splete vorm die neus. ’n Klein, skewe spleet is die mond. Hy het nie lippe nie. Sy mond maak effens oop. Dis swart binnekant, sonder tande.
’n Aardige geluid ontsnap uit die vreemdeling se keel. Dalk kom dit diep uit sy maer borskas.
“Oei-oui.”
Die vreemdeling gee ’n versigtige tree. Hy kyk om hom rond. Luister. Hy loer om ’n rak. Niemand weet hy is daar nie.
As hy kon frons, sou sy voorkop nou seker in plooie wegvou. Maar sy kopvel span snaarstyf oor sy harde skedel.
“Oei-oui,” maak hy weer.
Sy kop draai weer na die boeke langs hom toe. Sy dun vingers vat versigtig aan die rugkante. Hulle gly oor die name van die boeke. En dan verdwyn die letters. Stil-stil. Asof die vreemdeling se vingers hulle opslurp. Wegtoor.
“Oei-oui.”
Hy kyk na sy vingerpunte. Die letters sit nie aan sy vingers vas nie. Hulle is nou in sy kop. Weggebêre, diep binne-in sy donker brein.
Sy mond gaan eers oop, dan toe. Hy vee oor die ander boeke se rugkante. Hulle letters verdwyn nou ook. ’n Rilling trek soms deur die vreemdeling se lyf. Ander kere wil sy skouers begin ruk, asof hy wil lag. Of ten minste hom net saggies wil verkneukel. Soms kry sy swart oë ’n hartseer trek. Of dit blink van opwinding.
Hy skuifel verby elke boek, elke woord in die biblioteek.
En die woorde verdwyn misterieus onder sy uitgestrekte vingers.
Toe hy klaar is, kyk hy om hom rond. Hy is steeds alleen in die biblioteek.
“Oei-oui.”
Sy borskas ruk. ’n Ligte trilling gaan deur sy een neusspleet. Toe ook die ander een. Sy oë trek effens nouer, maar gaan nie heeltemal toe nie. En toe nies hy!
In ’n oomblik is hy weg. Net die eggo van ’n sagte plofgeluid bly in die biblioteek oor.
Nee, daar is nog iets. ’n Groot, swart ding bly op die mat agter. Reg in die middel van die vertrek, daar waar mevrou De Lange altyd vir die kinders sit en stories voorlees.
Vroeg die volgende oggend sluit mevrou De Lange die biblioteek se deur oop. Sy dink nog aan die vreemde droom wat sy die vorige aand gehad het. Maar haar aandag word gou teruggeruk na die hede. Iets ruik vreemd. Sy snuif die lug. ’n Suur reuk, besluit sy. Het sy dan gister ’n venster oop gelos? Nee, sy het tog dubbel seker gemaak, soos altyd. Alles was toe. Niemand sou kon inkom nie.
Versigtig loop sy verby die ontvangstoonbank, haar handsak onder haar arm geklem. Haar oë gesper. En toe sien sy dit . . . die swart, bolvormige ding op die mat.
Wat is dit? Sy frons. Dit is waar die reuk vandaan kom, weet sy nou. Die bol het ’n blink slymlagie bo-oor.
Is dit ’n eier? ’n Groot swart eier? Nee, sy tree nog nader. Toe sien sy die letter a, ’n g, ’n p, ’n hoofletter R en die syfer 3.
“Letters,” sê sy sag. “En syfers.”
Sy steek haar hand uit na ’n d wat net aan ’n dun slymdraadjie hang. Die d beweeg effens asof haar vinger dit aantrek, soos ’n magneet.
“Goeiste!” fluister mevrou De Lange paniekerig.
Sy kyk na die boeke in die rakke. Hulle het nie meer name nie! Sy haal een uit en maak dit oop. Die woorde aan die binnekant is ook weg. Die blaaie is leeg! Sy gryp ’n volgende boek. Dieselfde. Leeg.
Haar oë draai bang na die swart bol letters en syfers op die mat. En sy wonder of sy hulle almal op hulle regte plekke sal kan terugplak voordat die eerste mense vanoggend kom boeke uitneem.
Beantwoord die volgende vrae in julle groepe:
1.Hoe verander die biblioteek in die eerste paar paragrawe?
2.Hoe dink julle het die vreemdeling in die biblioteek gekom as alles toegesluit was?
3.Dink julle die vreemdeling was baie braaf toe hy in die biblioteek beland? Verduidelik.
4.In die verhaal staan: “’n Rilling trek soms deur die vreemdeling se lyf. Ander kere wil sy skouers begin ruk, asof hy wil lag. Of ten minste hom net saggies wil verkneukel. Soms kry sy swart oë ’n hartseer trek. Of dit blink van opwinding.” Hoekom dink julle gebeur dit?
5.Dink julle mevrou De Lange weet presies wat die aand in die biblioteek