Schalkie van Wyk Keur 13. Schalkie van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Schalkie van Wyk Keur 13 - Schalkie van Wyk страница 1

Schalkie van Wyk Keur 13 - Schalkie van Wyk

Скачать книгу

p>

      SCHALKIE VAN WYK

       Keur 13

      Môre bring ’n nuwe daeraad • Gevangene van gister • Iemand soos jy

      Melodie

Môre bring ’n nuwe daeraad

      1

      Lelani Wessels staan aan die hoof van die lang geelhouteet­kamertafel, haar hande kneukelwit om die rand van ’n stoelrugleuning geklem. Haar oë flits oor die vier persone om die tafel, maar sy sien hulle nie regtig raak nie. Sy hou haar kop effens skeef en luister; die klank van die stilte laat haar ril.

      Dood. Vier dae gelede het haar stiefpa, Werner Boonzaaier, gesterf en gister het hy ’n finale rusplek tussen die wuiwende sipresse, waar die melankoliese gekoer van tortelduiwe altyd hoorbaar is, gevind. Vandag staan sy op sy plek aan die hoof van die tafel en luister na die klank van stilte … en die dood. Want Huis Winterrus en die lewe wat sy tot dusver geken het, het saam met Werner Boonzaaier gesterf.

      In die verste hoek van die ruim eetkamer tik ’n antieke staanhorlosie die sekondes af; die horlosie tik ritmies, sonder haas. Sy kyk na die staanhorlosie en hou onwillekeurig haar asem op: wanneer gaan die horlosie ophou tik? wonder sy. Die tikkende horlosie versinnebeeld die polsslag van Huis Winterrus – die huis, wat net soos Werner Boonzaaier, binnekort tot niet sal gaan.

      Die harde knak van ’n suiglekker wat deurgebyt word, ruk haar terug tot die werklikheid. Sy kyk na oom Barend Stoltz wat skuldig oor sy mond vee, sy blik neergeslaan, terwyl ’n blos van verleentheid oor sy ronde gesig kruip en selfs sy glimmende pankop ligroos verkleur.

      Sy sal oom Barend met sy immerteenwoordige suiglekkers mis, dink sy. Haar oë dwaal na tant Charity en tant Patience Freeman met hulle silwerwit hare wat in sorgelose bollas op hulle koppe saamgevat is. Hulle groot, ligblou oë waaroor die ouderdom ’n sagte waas geverf het, betrag oom Barend met gekrenkte afkeer. Hulle is nie kwaad vir hom nie, sê hulle gesigsuitdrukkings, maar ’n ware heer sal nie op so ’n gewigtige oomblik ’n suiglekker kou nie.

      Aan die onderpunt van die tafel kug oom Giepie Taljaard agter sy hand om Lelani se aandag te trek. Lelani kyk afwagtend na hom, maar hy trek ’n groot kristalasbak nader en gaan voort om die bol van sy kromsteelpyp met die pyplepeltjie van sy silwerkleurige knipmes skoon te maak. Asof deur onsigbare draadjies beheer, draai tant Charity en tant Patience se koppe na hom toe en hulle slaag daarin om heelwat meer gekrenk en afkeurend te lyk. Oom Giepie is ’n rebel, sê hulle oë. Toe Werner Boonzaaier nog geleef het, was dit ’n ongeskrewe reël dat daar nie in die eetkamer gerook word nie. Dat oom Giepie so uitdagend, so onhoflik teenoor twee Engelse dames kan optree, vervul hulle met skok en ontsteltenis.

      Lelani sien hoe tant Charity en tant Patience na die kante van hulle stoele gryp asof hulle orent wil kom, en sy skraap haar keel. Hulle sak terug op hulle stoele en staar haar afwagtend aan.

      “Ek weet nie waar om te begin nie,” sê sy en maak ’n hulpelose gebaar met haar hande. “Sewe jaar is seker nie lank vir mense van oor die sestig nie, maar vir my … Dit voel vir my asof ek julle my lewe lank ken, asof julle my eie mense is. Ek dink nooit aan julle as loseerders nie. Vir my is julle Huis Winterrus – deel van die ou huis en deel van my, maar …” Sy swyg en sluk aan die seer knop in haar keel, ’n warm waas van trane in haar oë.

      “Jy was vanoggend by die prokureur,” sê oom Barend en probeer ongemerk ’n suiglekkertjie in sy mond prop.

      “Jou oorlede vader se prokureur,” beaam tant Charity. Haar stem is duidelik en sag en sy het ’n onbetwisbare Engelse aksent.

      “Meneer Kritzinger,” voeg tant Patience by. Haar stemtoon is identies aan dié van haar ouer suster.

      Lelani se oë rek verras. “Hoe het julle geweet?”

      “Ons weet alles, ounooi,” klink oom Giepie se swaar, diep stem van die onderpunt van die tafel af op. Hy lê sy pyp in die asbak neer en vou sy hande saam op die tafelblad. “Werner Boonzaaier het onoordeelkundige beleggings gemaak en homself uitgeroei, maar hy was nie ’n dwaas nie. Hy het besef sy einde is naby, daarom het hy met my gepraat. Ek kon die ander waarsku wat om te verwag as Werner nou sterf.”

      “Dan weet oom-hulle dat Huis Winterrus nie myne is nie?” vra Lelani aarselend en hou tant Charity en tant Patience bekommerd dop. Mans kan skokke verduur, maar vroue – veral twee verfynde, hulpelose dames soos die Freeman-susters – moet teen die wrede realiteit van die lewe beskerm word.

      Tant Charity en tant Patience glimlag met opregte medelye en begrip. “Ons weet, Lelani,” sê hulle tegelykertyd.

      Oom Barend kou sy suiglekkertjie knarsend. “’n Onaangename wending … ’n beslommernis en ’n irritasie, maar nie onoorkombaar nie. Ek het my dogter gebel. Sy sê my woonstel wag vir my en die kinders is almal sewe jaar ouer. Die jongste is in matriek en die ander twee studeer aan die universiteit. Dit sal stiller wees. Gillende, jillende kinders onder my voete – dis wat my hierheen laat vlug het. Maar noudat hulle groot en uit die pad is … Moenie jou oor my kwel nie, Lelani.” Hy vroetel ’n pakkie lekkergoed uit sy baadjiesak en hou dit na haar uit. “Wat van ’n suiglekkertjie, ou kintatjie?”

      “Meneer Stoltz!” kom dit berispend van tant Charity. “Besef jy nie die erns van hierdie gelykenis … e …”

      “Geleentheid,” fluister tant Patience.

      “Dankie, Patience,” sê tant Charity sonder ’n sweem van verleentheid en kyk weer streng na oom Barend. “’n Suiglekkertjie is welkom na ’n ete, maar nie op ’n geleentheid soos hierdie nie.”

      “Dis mý lekkers,” sê oom Barend geraak en prop twee in sy mond.

      “Ek is dankbaar oom het die nodige reëlings getref, maar …” Lelani swyg en blik hoopvol na die bejaarde susters.

      Tant Charity vee-vee met haar slanke, wit hande waarop enkele blomme van die ouderdom in donkerbruin vlekke uitslaan, oor die skouers van haar fleurige, geblomde rok en glimlag kopknikkend met tant Patience. “Jy is jonger as ek, Patience. Jou oë is ook beter. Ek kan nie so gereeld lees nie. Jy praat die taal beter.”

      “Net ’n klein bietjie beter, Charity,” antwoord tant Patience, maar lyk nietemin gevlei. Sy wend haar na Lelani. “Ons het ook reeds die nodige reëlings getref, Lelani. Ons jongste suster, Faith, wat met Thomas Carrington getroud was, het vyf maande gelede ’n weduwee geword. Haar twee dogters is getroud en haar seuns woon in Johannesburg. Hulle is sakemanne, verstaan? Sy wil nie haar en Thomas se huis verkoop nie. Sy het my en Charity genooi om by haar in Honeysuckle Cottage te gaan woon.”

      “Op Kampsbaai?” vra Lelani en wonder waarom sy wil huil. Sy behoort dankbaar te wees dat die bejaarde loseerders betyds reëlings getref het om elders verblyf te kry, maar die teendeel is waar: sy wil soos ’n baba huil omdat die mense wat sy liefhet, vir goed uit haar lewe gaan.

      “Op Kampsbaai,” beaam tant Patience.

      “Dis ’n strandhuis met ’n gesig …” Tant Charity swyg en frons.

      “Met ’n uitsig op die see, net soos Huis Winterrus,” help tant Patience.

      Net soos Huis Winterrus … Die woorde vorm ’n refrein in Lelani se gedagtes. Maar Honeysuckle Cottage is nie Huis Winterrus nie; en Kampsbaai is nie Sekelbaai nie. Sy twyfel nie daaraan dat tant Charity en tant Patience gelukkig sal wees nie. Hulle sal soggens in hulle sagte, pastelkleurige rokke en seilskoene lang ente op die strand gaan stap; daarna sal hulle teruggaan huis toe en hulle met naaldwerk of ligte takies soos blomme rang­skik, besighou. Na middagete sal hulle

Скачать книгу