Man van Cirene. F.A. Venter
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Man van Cirene - F.A. Venter страница 10
’n Waansin dryf Simon terug na die donker. Hy sluip om na die afdak wat hy vir sy gereedskap gemaak het; staan hygend daar. Al wat hy nou ondervind, is haat. Haat teen die adelaar van Rome wat groter geag word as die Ster van Dawid.
Al die jare van verbittering maak hom vanaand ’n blinde dwaas.
Hy buk en soek na die ou kruik met olyfolie wat hy altyd daar bêre. Hy swaai die kruik op sy skouer en hardloop daarmee uit.
’n Verskrikte soldaat sien Simon eers toe hy op die koringhoop klouter en olie oor die koring uitgooi.
Voordat die soldaat tot verhaal kom, spring Simon van die koringhoop af, gryp ’n fakkel by ’n slaaf en druk dit teen die koringsakke. Die vlamme huiwer ’n oomblik, maar dan spring hulle dartelend omhoog en die koring begin brand.
Toe Simon hom gewaar, is die voorste soldaat amper op hom, sy swaard omhoog. Maar Simon spring opsy en slaan sy aanvaller met die fakkel deur die gesig sodat hy skreeuend vassteek.
Daar is ’n geharwar van soldate en slawe. Simon spring onder hulle in, sy fakkel ’n vurige boog soos hy dit swaai.
Dit is ’n kort geveg. ’n Soldaat sluip om en slaan Simon met die steel van sy spies oor die nek sodat hy vooroor val. ’n Ander soldaat slaan hom met sy fakkel tussen die skouers, en dit breek hom in. Sy gesig is in die geurende koringkaf. Hy wil opstaan, maar hy kan nie.
Twee slawe tel hom op, hou hom vas sodat hy kan regop staan. ’n Soldaat slaan hom met die plat hand deur die gesig.
So deur die warm seer hoor hy ’n man kerm en onthou hy het ’n soldaat met ’n fakkel geslaan. Daar is ’n geknetter van vuur en ’n rooi gloed verlig die aand. Hy weet sy koring brand en hy smaak die oorwinning.
Toe lei hulle hom weg. Hy skuifel tussen twee slawe en hoor die ritseling van die wingerd.
“Debora …” prewel Simon, “my koring kry hulle nie.”
’n Rukkie later skrik Sextus Quirinius uit ’n sluimering op sy vergulde ledekant wakker en kyk op in die gesig van sy kamerheer.
“Wat is gaande, Lucius? Wat is so dringend dat ek wakker gemaak moet word?”
Lucius buig eerbiedig. “Dit is in verband met Markus Vitellius, Hoogedelagbare – hy is dood.”
Quirinius sit regop. “Dood? Wat praat jy, man?”
“Vermoor deur die Jood Simon Niger.”
Quirinius sak op sy kussing terug, sy mond hang oop. “Die dwaas … die stomme dwaas,” slobber hy half deur die slaap. “Was dit oor die koring?”
“Oor die koring, Hoogedelagbare. Hy het die koring aan die brand gesteek en ’n soldaat met ’n brandende fakkel deur die gesig geslaan. Dit lyk of hy nou blind is.”
Sextus Quirinius se mond verstyf. “Waar is die Jood nou?”
“In die kerker by die kaserne, Hoogedelagbare.”
“Maak alles gereed vir ’n verhoor môreoggend vroeg; dan sal ek hom straf. Dit is al, Lucius.”
Die kamerheer buig weer en draai om. “O Lucius,” sê Quirinius agterna, “sê vir Markus Camillus hy moet die wagte versterk en die garnisoen op hul hoede stel.”
Lucius doof die fakkel uit wat hy by die deur aangesteek het.
Toe dit donker is, kyk Quirinius teen die traliewerk van sy venster vas, swart teen die lig van die sterre.
Die traliewerk vorm ’n duidelike kruis.
Hy draai op sy sy en hoop die slaap kom gou.
5
Die son stoot uit die see op en sy lig skitter teen die granietmuur van die kerker.
Die lig in sy oë laat Simon heeltemal wakker word uit die slaap wat eers teen rooidag gekom het.
Heel eerste dink hy aan Debora, en toe vat hy aan sy gesig waar die pyn klop. Dit laat hom orent sit. Die haal waar Vitellius hom geslaan het, voel klam, brand soos ’n vuurstreep oor sy wang.
Hy sukkel op en loop na die venster, vat die sederbalkies van die traliewerk vas en soek na sy grond, sy huis, maar die praetorium, waar Quirinius woon, versper sy uitsig.
Al wat hy gewaar, is drie watervoëls wat na die ooste vlieg waar die kuile langs die waterleiding lê – die kuile waar Debora altyd biesies pluk om mee te vleg. Hy maak sy oë toe en sien haar hande beweeg, haar donker kop laag gebuig.
Die twee Romeinse wagte voor die agterpoort van die praetorium met hul spiese roerloos langs hulle geplant, trek Simon se aandag en ’n skerp angs stoot in hom op.
Iemand blaas op ’n trompet en dit laat hom opnuut besef hy het teen Rome gesondig.
Die trompet laat Rome se dag hier in Cirene begin. Hy draai van die venster af weg en dink aan die plat heuwel anderkant die stalle van die Romeinse ruitery, aan die westekant van die stad, duskant die woestyn, waar hy al manne aan die kruise hoor skreeu het.
Dit is toe Simon hom omdraai dat hy dit sien, terloops, uit die hoek van sy oog.
Wit skrif teen die grys graniet.
Lelike, skewe skrif. Op ’n plat granietklip net langs die venster. Sommer daar met iets uitgekrap. Miskien met ’n gespe, of die punt van ’n mes of iets.
Hy staar daarna, sy kop ver vooruit. ’n Paar oomblikke haal hy omtrent nie asem nie.
Iemand wat hier ingekerker was net soos hy, het seker hier kom staan en na die wêreld gekyk; miskien gekyk wanneer ’n paar soldate die kruis van die timmermanswinkel af oor die plein voor die kaserne aandra …
En toe uit radelose angs ’n naam op die graniet uitgekrap – omdat hy nog gehoop het redding sou iewers vandaan kom.
Moet ’n Romein gewees het, dink Simon Niger.
Want daar op die graniet staan die naam van ’n Romeinse god: Jupiter. Dit is skeef en krom geskryf.
Dié een woord lyk soos die gebed van ’n man wat moes sterf.
Maar die gebed is vernietig. Dit is deurgekrap en daaronder is ’n duidelike uitdaging aan Rome geskryf, asof met drif.
Jesus Christus.
Simon druk sy hande oor die skrif asof hy dit so wil uitwis; vryf met sy klam handpalms daaroor.
Maar dit bly daar … Dit lyk asof dit gloei … Hom uitdaag, tart.
Jesus Christus.
Watter gek het dit geskryf? ’n Jood … ’n Romein … ’n Numidiër … ’n Egiptenaar … ’n Griek?
Wie ook al, hy was ’n gek, dink Simon woedend. Het hy nie geweet dié Man