Jou Romeo. Fanie Viljoen
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Jou Romeo - Fanie Viljoen страница
Fanie Viljoen
Na ’n storie en draaiboek deur
DANIE BESTER, TINA KRUGER EN BERDENE BURGER
Tafelberg
1
#DramaGeeks
Rook krul oor Hoërskool Monument se verhoog toe Yvette Verwey in beweging kom. Sy leef vir oomblikke soos hierdie. Sy hoor nie eens die stoel skuif in die donker gehoor nie. Ook nie hoe iemand saggies hoes nie. Hierdie is haar oomblik. Hare en die res van die Dramabrigade s’n.
Die Dramabrigade: Yvette, Tyler, Kumi, Beast en Vera.
Maar vir nou, weet Yvette, is almal se oë op haar. Op ’n manier is dit skrikwekkend, al het sy en die ander spelers hierdie toneel honderde kere geoefen.
Die tromslae is eers ’n fluistering. Dan pols dit harder, hamer dit in Yvette se borskas.
Twee skagte lig gloei deur die rook. Dit blink in haar lang rooi hare soos dit met haar rug afkrul oor die swart leotard. Haar gesig is towermooi. Passievol, soos haar bewegings. Sy is eintlik ’n dramageek, maar dit sal jy nie nou van haar sê nie, want sy ontvou soos ’n skaars blom. Oomblikke later ontplof die energieke bewegings uit haar lenige lyf.
Tollend draai sy. Haar ligte oorslaanrompie wat oopwaaier totdat sy haar been hoog bo haar kop lig. Tone gepunt. Oë vasgebrand in die niet.
Die verhoog behoort aan haar. Dis soos haar asem. Haar hart se klop.
Die tromslae donder steeds asof dit van haar lyf besit neem. Totdat sy neerstort en spartelend bly lê.
Uit die skadu agter Yvette verskyn ’n seun. Hy is haar ouderdom. Sewentien. Tyler le Roux betree die verhoog dramaties. Hy is gebaai in rooi lig. ’n Stywe spanbroek klou aan sy bene. Sy gespierde bolyf is witgekalk en skyn helder in die rooi gloed. Oor sy gesig hou hy ’n houtmasker. Sy oë blink misterieus daaragter.
Nog ’n seun, Kumi Asmaal, slaan op die tromme. Dit pols harder totdat Tyler die masker afruk. Sy hele gesig is besmeer met bloed.
Die spanning is tasbaar wanneer nog ’n skag lig deur die mistige donker gloei. Kgosi Makololo – of Beast, soos die kinders hom noem – slaan die verhoog met sy hand. Stof waaier op. Hy kom regop. Sy aantreklike gesig is vir ’n oomblik in skadu gehul, totdat hy begin dans. Oor sy skouers glim die lig. Skuins agter hom kry hy ’n rooi lint beet. Hy trek daaraan. Tollend kom die vyfde lid van die Dramabrigade in beweging. Vera Kruger se hare waaier op om haar kop. Die rooi lint wat van die dak af strek en haar gevange gehou het, draai los. Sy krul haar been daarom. Vries.
Voor op die verhoog help Tyler vir Yvette op. Sy voel hoe sy hand boontoe gly oor haar rug, tot agter haar kop. Die ander hand bring iets donkers nader. Die masker. Hy druk dit oor haar gesig.
Die laaste tromslag weerklink in die skoolsaal. Die ligte doof.
Dan is alles stil.
Alles swart.
Die applous bars los uit die klein gehoor van tien, vyftien mense.
Dis nog iets waarvoor Yvette leef: daardie applous, al is dit vandag min. Die meeste mense is seker by die flippen krieket daar buite op die sportveld, dink sy. Wat anders kan jy verwag as mense moet kies tussen sport en kultuur op ’n weeksmiddag? Sport wen mos altyd. Maar daaroor gaan sy haar nie nou bekommer nie. Sy is op die verhoog. Dis wat saak maak.
Wanneer die verhoogligte verhelder, staan die Dramabrigade skouer aan skouer. Hand aan hand. Saam maak hulle ’n buiging toe die applous voortduur. Hulle gooi hulle hande in die lug. Triomfantelik. Die glimlagte op hul gesigte is van dankbaarheid na weke se harde werk. In daardie wonderlike oomblik voel Yvette die trots in haar opwel. Sy wil die vreugde indrink en vir altyd onthou.
Uit die hoek van haar oog vang sy Tyler se rooi gesig. “Romeo,” fluister sy speels.
Sy wenkbroue lig effens. “Juliet,” antwoord hy harder.
Hulle kyk vir mekaar. Glimlag. En buig ’n laaste keer.
2
#Krieketheld
Die son bak in Marko Marais se nek waar hy op die krieketkolfblad staan. Kriekethelm op die kop. Handskoene. Sy klere in blou en goud. Oorkant Marko maak Brink, die ander kolwer, bietjie litte los. Brink – die span se kaptein met die stoute glinstering in sy oë, voorliefde vir partytjies en moeilikheid maak, en Marko se jarelange pel.
Van die vol paviljoen se kant af dreunsing die skare: “Mar-ko! Mar-ko! Mar-ko!”
Die skoolkinders staan ingehaak by mekaar. Hulle buig ritmies vorentoe, dan agtertoe terwyl hulle stemme al hoe harder word. Dit moedig Marko aan. Moet net nie nou opmors nie, dink hy. Hy versit die krieketkolf effens. Gluur deur die kriekethelm na die bouler wat die blinkrooi bal tussen sy vingers spin. Die ou knik in Marko se rigting. Marko se hart hamer teen sy ribbes. Uit die hoek van sy oog sien hy hoe ’n veldwerker in ’n nuwe posisie inskuif.
Hy haal diep asem. ’n Sweetdruppel loop langs die kant van sy kop af.
Tok-tok, kap hy met die kolf teen die blad.
“Mar-ko! Mar-ko!” dreun dit steeds van die paviljoen af. Die skare is ’n waas van afwagtende gesigte. Moenie opmors nie, sê hy weer vir homself.
Hy vee die sweetdruppel wat al op sy gesig brand met sy duim af. Sal die ou nou flippen boul en klaarkry? Nee, hy wil hom op sy senuwees maak. Dis nie net ’n krieketspel nie, dis ook ’n kopspel.
Agter Marko moedig die paaltjiewagter met die rooi krieketklere sy span aan. Stof slaan op uit sy handskoene soos hy hulle teen mekaar slaan. “Yes boys, fokus, fo-o-ku-u-us!”
Meteens is dit asof alles in stadige aksie om Marko gebeur. Die paaltjiewagter se stem wat sê: “Moet net nie choke nie, Marko.” Die bouler se naderhardloop. Die draai van sy arm. Die loslaat van die bal.
Marko staal hom. Hy wag vir die bal. Lig sy kolf.
TWOK!
Kontak!
Daardie een sien ons nie gou weer nie, is Marko se eerste gedagte. Sy nougetrekte oë volg die bal soos dit deur die lug trek.
Die skeidsregter beduie: Dis ’n ses. Natuurlik. Wat anders kan jy verwag van die skool se krieketheld?
Hi almal
Dis Mildred Groenewald, of sommer kort, Mildred G, hier – onbetwiste sosiale-mediakoningin, VJ, trendsetter en thought leader.