Satyn Omnibus 6. Ettie Bierman
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Satyn Omnibus 6 - Ettie Bierman страница 6
Na afloop van die skeisaak het sy hom laat weet dat sy haar nooiensvan teruggeneem het – ter wille van administrasie en om verwarring te voorkom. Maar ook uit ordentlikheid omdat sy gereken het sy is dit aan hom verskuldig om te meld dat sy nie meer sy naam dra nie; nie meer Arabel Reynecke is nie. Henning het nie die moeite gedoen om te antwoord nie. Dit was duidelik hy wou haar uit sy lewe sny en vergeet. ’n Ander lugmagbasis soos Hoedspruit of Waterkloof was nie ver genoeg nie. Hy het uit die Suid-Afrikaanse Lugmag bedank en is Australië toe – aan die ander kant van die aardbol. Met net ’n posbusnommer …
Henning het seker gedink sy is nog in die Kaap, by haar ouers of ’n nuwe man, en dat dit ná ses jaar in ballingskap veilig is om terug te kom. As hy geweet het sy is in Kempton en ’n lugwaardin by Jakaranda, sou hy ver weggebly het.
Wat gaan sy doen as hulle ’n week lank op dieselfde vliegtuig is? wonder Arabel radeloos. Sy kan nie sewe dae lank wegkruip nie. Of ’n donkerbril dra of ’n serp om haar kop nie. Dis te laat om te sê sy het oorpyn, sy kan nie vlieg nie. Kan sy op die roltrap val en voorgee sy het haar enkel verstuit?
Martie kom in terwyl Arabel haar kuif onder die kraan druk en vorentoe kam, laag oor haar oë. Die kamoeflering laat haar anders lyk, maar nie anders genoeg nie.
“Ook maar goed dit was nie tee nie,” sê Martie. Arabel staar haar verward aan. “Tee vlek erger as koffie,” verduidelik Martie. “Sukkel jy om jou romp skoon te kry? Jy het so lank weggebly, Tess het my gestuur om te kom kyk of jy hulp nodig het.”
“Ek kom reg, dankie.”
Arabel is trots daarop dat haar stem normaal klink. Soos ’n eend op ’n dam: bokant die water swem hy heel rustig, maar onder die water trap en roei daardie twee pote soos besetenes. Totdat hulle die dam onder die eend uitruk … Soos nou met haar gebeur het.
Martie is nie geflous nie. “Wat makeer? Jy lyk soos iemand wat ’n spook gesien het.”
Arabel se vingers klem die wasbak vas. “Miskien hét ek …”
“Hoe bedoel jy? Voel jy nie lekker nie?”
“Seker iets wat ek geëet het …”
“Moet ek vir jou iets vir naarheid bring?”
Asof pille sal help. As dit maar so maklik was … Arabel skud haar kop. “Gaan hy saam Hongkong toe?”
“Wie?”
“Die kaptein.”
“Kaptein Reynecke? Ja. Wat ’n fees van ’n man. Vriendelik, bedagsaam en nog mooi daarby. Hy gaan ’n droom wees om mee saam te werk.”
’n Droom? ’n Nagmerrie, ja …
Sy moes daarop bedag gewees het, besef Arabel. Hongkong is ’n gewilde oornagstop Australië toe en ’n roete wat Henning goed sal ken. Dis logies dat Jakaranda hom op die roete sal gebruik. As sy haar kop gebruik het, kon sy met ’n ander waardin vlugte geruil het. Sy sou selfs op die binneland gewerk het – die “melktrein” kuslangs, of die Durban-“klimtol”, wat niemand wil doen nie.
“Bedagsaam?” herhaal Arabel. “Ek stem nie saam nie. Ek het gedink hy gooi sy gewig rond. Kom daar aan asof hy vreeslik belangrik is en verwag dat ons alles net so moet los vir die hengse voorreg om hom te ontmoet.”
Martie kyk haar skuins aan. “Ons het dan net rondgesit. En hy ís belangrik. Liewe land, hy is immers ons bevelvoerder, of jy nou van hom hou of nie.”
“Nié,” herhaal Arabel. “Hou nié van hom nie.”
“Maar jy kan nie stry nie: hy is nogal iets om oor huis toe te skryf.”
“Ek sal nie ink of papier op hóm mors nie.”
“Jy moet jou breinselle laat tel. Hoekom nie?”
“Nie my smaak nie. Te oorweldigend. Ek hou nie van die kastige lang, donker en aantreklike tipe wat dink hy is die kat se snor en jy moet aan sy voete swymel as hy hom verwerdig om te glimlag nie.”
“Hoe weet jy hoe hy lyk as jy heeltyd jou rug op hom gedraai het?” vra Martie nuuskierig. “Het jy oë in jou agterkop?”
Arabel is ’n oomblik van stryk en verander vinnig die onderwerp. “Jy en Tess is ewe erg. Dink die son skyn uit al wat broek dra. Is daar nie iets nuttigers om julle mee besig te hou nie?”
“Nie wat ek van weet nie,” grinnik Martie. Sy steur haar nie aan die suur kyk wat sy van Arabel kry nie. Een of ander liefdesteleurstelling, nou loop sy draaie om mans. En die aantreklike nuwe kaptein is blykbaar nie ’n uitsondering nie. Tess sal bly wees, want dis minder kompetisie vir haar. Sy het dadelik haar wimpers vir hom gefladder en haar kleim afgesteek.
Arabel wag tot die laaste minuut voor sy aan boord gaan, totdat sy seker is die vlieëniers is veilig in die stuurkajuit. Sy kontroleer die kroegvoorraad en kleinkas; maak seker dat die BBP-sitkamer op die boonste dek netjies en die toilette volledig toegerus is. Toe die passasiers opdaag, wys sy sitplekke aan, deel koerante uit en bedien vrugtesap. Maar sy doen alles werktuiglik, soos ’n robot wat geprogrammeer is.
Dis nie ’n geval van net die volgende sewe dae moet oorleef nie. Haar toekoms by Jakaranda-lugdiens is ter sprake. Dis hoekom sy Berna probeer voorberei het dat sy moontlik kan bedank. ’n 747-makrostraler is te klein vir haar en Henning. Soos die eenslaapkamerwoonstel in Langebaanweg. Hulle het gedurig baklei. Oor alles gestry, gewoonlik tot hy die rusie kortgeknip het deur haar om te dop en te soen … Dan het sy met alles saamgestem en hom alles vergewe. Hy was ’n wonderlike minnaar. Romanties, sensitief en passievol. Maar hulle kon nie hulle hele lewe lank net op ’n wolk van hartstog en lyflike genot bly sweef nie.
Daar was te veel buitefaktore wat spanning veroorsaak het. Henning het Impalas gevlieg, as lid van die Rooi Arende, die prestige-vliegspan, toe daar skielik tydens ’n roetinemediese toets bevind is dat hy 5/6-visie het. Hy kon perfek lees, selfs die fynskrif; TV kyk, rekenaarwerk doen – alles sonder ’n bril of kontaklense. Maar op die nabootser, op kunsmatige nagvlug, was sy visie 5/6 en dit het hom gediskwalifiseer vir die Arende. Dit was ’n skok, en vanselfsprekend was Henning gestres.
Maar dit was nie háár wêreld nie en sy het nie werklik begrip gehad nie. Sy was heimlik bly omdat hy tydelik gegrond was en oorgeplaas is na die vliegskool se instrukteursafdeling. As instrukteur sou hy van agt tot vyf kantoorwerk doen en naweke tuis wees. Mahogany pilots, oftewel lessenaar-vlieëniers. Sy was bly, maar hy was gefrustreerd en uit sy plek. Hy het hom onttrek en haar vermy; gevoel hy is ’n mislukking en sy vliegloopbaan is verby. Dit het ’n negatiewe uitwerking op hul daaglikse omgang en hul huwelik gehad.
Sy het gedink afleiding sal help; as hulle meer uitkom, gaan fliek of uiteet of vakansie hou … Maar sonder die ekstra inkomste uit lugskouvertonings was daar nie geld nie, nie eens genoeg vir hul daaglikse uitgawes nie. Sy het haar studie opgeskop en gaan werk soek. Sy was jonk, sonder ervaring of kwalifikasies, en al werk wat sy kon kry, was by ’n apteek. ’n Sesdagwerkweek en bitter lang ure.
Saans was sy gedreineer. Permanent moeg en prikkelbaar, en sy’t haar man afgeskeep. Sy kon nie kook nie. Die kos was elke aand ’n mislukking – óf ’n pappery, óf gebrand. Sy het ’n peperduur resepteboek gekoop, maar niks daaruit