Ena Murray Keur 13. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 13 - Ena Murray страница 26
Hy beweeg effens nader en kyk in haar koel oë af. Teen haar sin bemerk sy die moeë lyne om sy oë en op sy voorkop, maar sy verhard haar hart.
“Elmarie, asseblief, ek is totaal uitgeput. Solank jy staan, kan ek ook nie sit nie. Sit tog, asseblief!”
“Nog altyd die fyn beskaafde heer wanneer dit jou pas, Hoessein?” ’n Sarkastiese glimlaggie plooi om haar mondhoeke. “Dink jy nie dis ’n bietjie kinderagtig om daardie klug voor my te probeer handhaaf ná alles wat gebeur het nie?”
“Ek weet nie wat jy daarmee bedoel nie, maar as jy nie nou gaan sit nie, sal ek jou dwing.” Hy vee moeg oor sy oë. “Moenie my te ver tart nie, Elmarie. Ek is ’n mens van vlees en bloed.”
“Net soos ek gedink het!” Haar stem is sag, beledigend. “Dis maar ’n dun lagie beskawing wat jy om jou dra. Goed. Ek sal sit, maar maak asseblief hierdie onderhoud so kort moontlik. Spaar jou asem as jy my weer wil vra waar die hangertjie is.”
Haar oë ontmoet syne uitdagend en hy staar haar ’n oomblik stilswyend aan. Vlugtig dwaal sy blik oor haar skraal gestalte, die fynbesnede gesiggie, en daar kom teësinnige bewondering in hom op.
“Ek wonder of jy werklik weet wat jy praat. Ek kan doen wat ek wil. Besef jy wat dit kan beteken, wat dit alles vir jou kan inhou?”
“Ek begryp maar te goed ná wat ek alles die afgelope paar dae van jou gesien en gehoor het. Maar jy sal my nie afskrik nie, Hoessein. Ek sterf liewer as om van jou nog ’n groter skurk te maak as wat jy reeds is!”
Hy kyk vinnig op; sy oë vernou. Dit is lank stil. Dan buk hy vooroor, gooi vir hom ’n drankie in en neem tydsaam ’n sluk. Dan steek hy ’n sigaar aan en dis eers toe hy die rook uitblaas en ontspanne agteroor terugleun in sy stoel dat hy praat.
“Jy glo so maklik wat ander jou vertel, Elmarie. Hoekom vind jy dit so moeilik om te glo wat ek jou vertel?” Hy sit vorentoe, sy blik priemend in hare. “Sal jy my glo as ek jou weer die versekering gee dat ek nie is wat jy dink ek is nie?”
Sy kyk in sy donker oë terug en weet dat hy haar weer na sy kant wil wen. Nie weer nie! Nie weer nie!
“Nee, Hoessein. Ek sal jou nie glo nie.”
Hy sug en sak weer terug in sy stoel. Sy stem klink skielik moeg.
“Waar is die hangertjie, Elmarie? Ek gee jou hierdie laaste kans. Waar is die hangertjie?”
Sy kyk hom stilswyend in die oë. Laat kom wat wil, sy sal nie praat nie. Daar is ’n vreesband om haar hart omdat sy weet waartoe hy in staat is, maar selfs dit kan haar lippe nie beweeg om haar geheim te verklap nie.
Maar skielik kom daar verwikkelinge uit ’n ander oord. Deon tree uit die skaduwees nader; ’n Deon wat duidelik verby sy perke gedryf is. Daar is iets koorsigs in sy stem en oë en sy asem jaag toe hy vorentoe storm.
“Ek sal jou sê waar die hangertjie is! Ek sal, maar dan moet jy ons vrylaat. Belowe dit en ek sal jou vertel waar die hangertjie is!”
Hoessein en Elmarie spring albei op.
“Moenie, Deon! Moenie praat nie!” roep Elmarie uit.
“Ek belowe dat jy en jou verloofde sal vrygaan.” Hoessein se kalm stem kloof soos ’n kapmes deur haar smekende uitroep.
“Deon, moenie …”
“Die hangertjie …” Sy oë is verwilder asof hy nie meer heeltemal by sy sinne is nie. “Die hangertjie sal jy kry in Elmarie se juwelekissie wat in die brandkas van die bestuurder van die Kaïro Grand is.”
Elmarie sak stil op haar stoel terug. ’n Stadige, tevrede glimlaggie begin om Hoessein se lippe speel. Dan roep hy hard vir die drie mans wat ongemerk hul verskyning gemaak het.
“Gryp hulle!”
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.