Melodie Omnibus 2. Wilmari Jooste
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Melodie Omnibus 2 - Wilmari Jooste страница 2
Ná die koffie en ’n stort voel sy sy kan weer die wêreld in die oë kyk. Sy oorweeg dit om die restaurant te gaan soek. Sy wonder wie kom almal reünie toe, en of hulle mekaar nog sal ken. Waaroor gesels ’n mens ná soveel jare? Sy het net met Mitzi Coetzee kontak behou, maar sy bly op die dorp en sal beslis nie by die vakansieoord tuisgaan nie.
Ou Mitzi! Vir haar sal sy darem graag weer wil sien. Met haar kort, ronde lyfie kon Mitzi maklik die slagoffer van die skoolboelies se gespot geword het, maar haar vrolike, ongekompliseerde geaardheid het gemaak dat almal van haar hou. Dat haar pa skatryk is, het natuurlik ook gehelp.
Mitzi kon haar vriende uit enige sosiale kring kies, maar sy het verkies om Fransien se maat te wees. Fransien wat in die spoorweghuis gewoon het, wat arm was, wat kroeshare gehad het, wat …
Sy skud haar kop heftig. Nee! Sy gaan nie daaraan dink nie!
Sy gaan ook nie nou restaurant toe nie. ’n Stewige toebroodjie en nog ’n beker koffie sal haar deur die nag hou. Môre, as die son skyn en alles anders lyk, sal sy die spoke uit haar verlede besweer. Vanaand kan hulle maar nog rus.
2
Ten spyte van al die emosies en die vreemde bed slaap Fransien soos ’n klip. Sy word wakker met die gefluit en gekwetter van honderde voëls. Goeiste, wat ’n Babelse lawaai! Almal skinder deurmekaar.
Dis tyd vir koffie. Terwyl die water kook, trek sy vinnig ’n sweetpak en oefenskoene aan. Staan-staan sluk sy haar koffie weg. Nou vir ’n bietjie verkenning in die vrye natuur!
Watter rigting sal sy vat? There were two roads. I took the one less travelled, and that made all the difference. Of iets dergeliks.
Hier is ook twee paaie, albei goed gebruik. Die een waarmee sy gisteraand tot by die chalet gekom het en een wat rivier toe gaan. Dalk sal ’n pad wat glad nie gebruik word nie, nog beter wees.
Sy kies koers die bosse in, weg van die geboue en weg van die rivier af. Stroomop, soos gewoonlik!
Die dorings en takke is dig en geniepsig en sy vorder maar stadig. Dan, net toe sy op die punt is om die stryd gewonne te gee, kry sy waarna sy onbewustelik op soek was. Tussen die bome en bosse is ’n oop kol waar amper niks groei nie. ’n Brak kol, sou Pa gesê het. Maar dis net wat sy nou nodig het.
Jare terug, toe sy net in die stad gekom het, was sy in een week ooggetuie van twee gebeurtenisse. In albei gevalle het straatdiewe ’n vrou se handsak gegryp. In die eerste geval het die vrou hulpeloos gestaan en huil nadat die jong boef met haar handsak weggekom het. In die tweede geval het die vrou die skelm agternagesit, ’n ordentlike loesing gegee en hom daarna doodkalm in ’n stewige greep vasgepen tot die polisie opgedaag het.
Dit was genoeg motivering vir Fransien. Sy het dadelik aangesluit by ’n plek waar vroue selfverdediging en aanvalstegnieke leer. Boonop het sy ’n besondere talent daarvoor getoon. Al haar opgehoopte aggressie en woede kon sy uitwoed sonder dat enigiemand ’n wenkbrou lig. Maar baie min mense weet hiervan. Dis ’n deel van haarself wat sy privaat hou.
Sy trek haar sweetpakbaadjie uit en hang dit aan ’n boomtak op. Dan neem sy die kenmerkende gevegshouding in, haal diep asem, fokus haar konsentrasie op ’n denkbeeldige opponent en gaan blitssnel tot die aanval oor. Gewoonlik oefen sy met musiek, maar vandag is die polsslag van haar hart en die natuur genoeg.
’n Halfuur lank skop en tol, rol en blok, kap en slaan sy, tot die sweet donker vlekke op haar T-hemp maak. Dan verlangsaam haar bewegings; die geweld is uitgewoed. Daar is ’n aangename tamheid in haar ledemate toe sy terugstap chalet toe.
Nadat sy vinnig gestort en haar hare drooggemaak het, wend sy ’n bietjie grimering aan. Met haar wit vel lyk grimering maklik oordoen; ’n sagte lipstiffie en maskara is gewoonlik voldoende. Vandag sit sy ’n vegie oogskadu ook aan, net om haar moraal ’n ekstra hupstootjie te gee. Die reünie begin amptelik tienuur, met ’n informele Ken-mekaar-oggendtee in die skoolsaal. Sy het nog oorgenoeg tyd om ontbyt te gaan eet en ’n draai in die dorp te maak.
Dis jammer Mitzi is so besig met die reëlings, anders kon sy by haar ook aangegaan het. Dis daaroor dat sy liewer by die vakansieoord bly. Mitzi het haar genooi om by haar tuis te gaan, maar dan sou sy ook gemoeid moes wees met die reëlings, en daarvoor het sy nie kans gesien nie. As sy besluit sy het genoeg gehad, moet sy kan padgee.
Sy glip in ’n ontwerpersdenim in wat soos ’n tweede vel pas, en huiwer net ’n oomblik voor sy ’n donkerrooi moulose toppie aantrek. Dis ’n opvallende kleur en sy weet sy gaan uitstaan, raakgesien word. Maar dit maak nie meer saak nie. Die dae toe sy haar bes gedoen het om nie raakgesien te word nie, is verby! ’n Tikkie parfuum, gemaklike stewels, selfoon, beursie en lipstiffie in haar handsak, en sy is gereed vir die dag.
Voor die restaurant steek sy vas en haal diep asem voor sy regop instap. Onmiddellik is sy bewus van die oë op haar, koppe wat buig, stemme wat fluister. Innerlik bewe sy, maar sy maak of sy nie van die kyke bewus is nie.
Sy neem plaas by ’n onbesette tafel naby die deur en kyk kamma ongeërg rond. Daar is ’n hele paar gesigte wat sy dadelik herken, maar daar is net verwarring in die oë – geen herkenning nie.
Hulle ken my nie! juig dit in haar. Hulle het nie ’n idee dat dit ou Fransina van die stasie is nie!
Dan kyk sy vas in Chris de Wet se oë. Dis die een oomblik waarvoor sy die bangste was. Ook in sý oë lees sy verwarring, maar ook bewondering en eg manlike belangstelling.
Die jare het hom goed behandel. Hy het steeds ’n digte bos blonde hare, en sover sy kan waarneem, nog nie ’n beduidenis van ’n boepie soos baie van die ander mans nie. Steeds vrek mooi, moet sy toegee, al is daar ’n effense sakkerigheid onder sy oë. Waarskynlik gisteraand, en baie ander aande tevore, woes partytjie gehou. Hy was op skool al lief vir die bottel, onthou sy bitter.
Sy skerts met die kelner wat haar bestelling kom neem en ignoreer die nuuskierige kyke doelbewus. Daarna bepaal sy haar by haar ontbyt. Niemand het blykbaar die moed om te kom uitvind wie sy is nie, en dit pas haar. Dit sal haar triomf soveel soeter maak wanneer sy opstaan en haar naam sê by die Ken-mekaar.
Sy eet vinnig klaar, staan dan doelgerig op en stap uit voor iemand ’n praatjie kan kom aanknoop. Buite moet sy haar met geweld in toom hou, want sy voel skielik so uitgelate soos ’n jong vul, lus om te huppel en te spring. Sy is oor die eerste hekkie!
In haar motor kies sy ’n opgewekte laserskyf en sing uit volle bors saam, tot sy in die hoofstraat indraai. Dan stel sy die klank sag en maak haar venster oop, asof sy so beter kan inneem wat om haar aangaan.
Daar is heelwat uitbreidings, groot kettingwinkels wat opgeskiet en kleiner besighede uitgedruk het. Die hoekkafee is weg; in die plek daarvan is ’n koffiewinkel met die naam Coffee@T. Mmm … Daar sal sy moet inloer.
Die materiaalwinkel is nou ’n internetkafee. Sjoe, praat van vooruitgang! Wel, die poskantoor en die kerk is darem nog waar hulle was. Dis toe nie net ek wat verander het nie, grim sy met wrange humor.
Stadig ry sy nog ’n paar draaie deur die dorp, terwyl die onvergenoegdheid in haar bly groei. Vooruitgang is ’n goeie ding, maar dit moet darem nie alles wat bekend is, verswelg nie. Dit voel asof sy iets kosbaars verloor het, net omdat sy die waarde daarvan nie verstaan het nie. Dan maar die beste van ’n