Uit die beek 2018. Barend Vos
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos страница 2
____________________
Here, dra my mooi in die nuwe jaar, asseblief.
U weet mos hoe broos ek is. Gee my tog die rus en vrede waarna ek so smag, en blink oë as dit kan.
Dinsdag 2 JANUARIE 2018 Lees Psalm 148:1-6
Prys Hom, julle daarbó!
Prys Hom, hoogste hemele … (v. 4).
Dit is nie moeilik om jou dit te verbeel nie: hoe die maan en die sterre hul Skepper se Naam verkondig. Daar is mos min dinge wat die Goddelike handtekening so onnabootsbaar uitwys soos die Januarie-naghemel in hierdie Suiderland. Kyk net ’n slag óp, wys met die vinger en sê verwonderd: Daar is hy! En hý en hý …
En wanneer die son voordag sy verskyning maak, duur dit nie lank nie of jy, aardgebonde skepsel, leer ken jou Heiland opnuut. Die somerson laat jou koes en skuiling soek, hy is nie jou speelmaat nie. Vir hóm hoef jy nie te soek nie, hy vind jou dadelik – en jy wéét dit.
So kom die son op en gaan weer bloeiend onder. En soos gisteraand verskyn die sterre en gaan hul skitterende gang. Alles verloop volgens plan. Volgens Plan.
Meestal laat dié voorspelbare patroon geen spoor in ons stoftrappers se gemoed nie. Dit is soos dit hoort, reken ons terwyl ons onder ons elkedagse las voortsteier.
Maar soms, net sóms, kyk ons op en sien God se vingerafdrukke in die hemelruim raak. Hoe die son se dartelende, vuurwarm dans die lug in beweging bring. En snags, wanneer dit milder geword het, hoor jy die ritme in die sterre se vonkelende naglied.
Spits dan maar ook jou ore vir die vlerkgeklap van ’n uil of ’n engel. Dalk kom daar ’n boodskap vir jou, vannag nog, spesiaal vir die begin van hierdie jaar.
____________________
Here in die hemel, God van my hart: Hoor ook mý pryslied. Só wag ek op U.
Woensdag 3 JANUARIE 2018 Lees Psalm 148:7-14
Prys Hom, julle hieronder!
Prys die Here van die aarde af, seediere … berge … vrugtebome, al die seders … wilde diere, al die vee, al wat kruip of vlieg, konings … jong manne en meisies, grysaards … (v. 7-12).
Dit is ’n groot koor hierdie, dié van die aarde se bewoners. Daar is hulle wat loop en hulle wat swem, daar is die vlieërs en die kruipers en die voortbrengers van vrugte en van hout.
Jonk en oud, man en muis. Bloubloed en onderdaan.
Hulle is almal deur die wind en die weer versamel met die opdrag om God te prys. Sy Naam is groot! moet hulle sing. Sy gesag, sy eer, strek van horison tot horison.
Vir die psalmdigter kom hierdie uitgebreide stuk lofbeeldspraak asof dit die natuurlikste ding ter wêreld is. Wat hom betref, is dit vanselfsprekend dat alles en almal wat deur God se hand tot stand gekom het Hom sal loof.
Vanselfsprekend? Regtig? Is “prys die Here!” dan ooit ’n natuurlike reaksie? Ook vandag, by mense soos ons? Wanneer het lofliedere dan ons geloofskenmerk geword?
Het hierdie halleluja-uitroepe nie maar intussen ’n soort beïndrukwaarde gekry nie? ’n Luidkeelse manier om God en medemens te laat verstaan dat hier darem ’n skitterende voorbeeld van vrome dankbaarheid aan die woord is?
Hopelik sorg die dawerende lof uit die skepping dat ook die skepsels – juis hulle wat God met woord en lied en groot gebaar aanbid – by die massakoor inval. Sonder voordoen of vertoon. Net maar om dié rede: Grote God, aan U die eer! Heerlik is waar U regeer.
____________________
Hemels is u majesteit, heilig u geregtigheid. U wat alles onderhou, U is ewig en getrou.
Donderdag 4 JANUARIE 2018 Lees Galasiërs 4:4-7
God se tyd
Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur (v. 4).
Dit is ook maar goed dat God se horlosie en kalender gans anders funksioneer as ons s’n. Daarom kán dit op hierdie vierde dag van die nuwe jaar steeds Kersfees wees, en op elke dag in die jaar wat voorlê.
Wie wil tog die invloed wat die radikale ingryping van God op ons lewe het aan tyd koppel? Nee, ons sal elke uur van elke dag van elke jaar en tot in ewigheid dankbaar wees vir die vryheid wat sy Seun vir ons bewerk het.
Hy het ons losgekoop, sê Paulus hier, niks minder as dit nie. Dit is deur Hom dat die Heilige Gees in ons hart woon, dat ons God “Vader” (v. 6) mag noem. Dat ons sy erfgename geword het. Dit is vir ons dus elke dag Kersfees, en vir altyd.
Omdat God se tyd die regte tyd is.
Want as Hy vir óns moes wag om in ons wêreld in te gryp, sou Hy – met alle respek gesê – steeds gewag het. Ons is net nooit reg nie, ons vra gereeld uitstel. Ons beroep ons altyd en in byna alles op God se geduld: Gee net kans, Here, ek sal U laat weet wanneer ek gereed is. Ek sál nog u wil leer ken; wag net asseblief nog ’n bietjie.
Goddank: Hy het toe nie gewag nie. Hy weet watter keuses om aan sy kinders oor te laat en watter nié. Hy kom maak dit ewig Kersfees in ons lewe – omdat Hy ons ken. En omdat Hy ons so bitter liefhet dat Hy nie kanse waag nie, nie met ons soort betroubaarheid nie.
____________________
Dankie, Here, dat u genade vir my genoeg is. En dat dit altyd betyds is.
Vrydag 5 JANUARIE 2018 Lees Lukas 2:22-40
Kyk, hierdie Kindjie
Sy vader en moeder was verwonderd oor
die dinge wat van Hom gesê is (v. 33).
Reeds die skaapwagters het ’n vreemde verhaal by die Kindjie se geboortekrip vertel – kan jy jou indink: engele wat uit ’n oop hemel sing! En nou kom ’n ou man, ene Simeon van Jerusalem, boonop met ’n nuwe, salwende storie vorendag: Here, my oë het u verlossing gesien, ’n lig tot verligting van die nasies.
As hy maar daar opgehou het, ou Simeon … Maar eensklaps kry sy sagte lied ’n onheilspellende klank: oor val en opstanding, oor ’n teken wat weerspreek sal word. Van mense se gesindheid wat aan die lig sal kom en ’n swaard wat deur die moeder se siel sal gaan.
Dit was natuurlik die res van die waarheid, dit wat ons eeue later alte goed sou leer ken: Kersfees hou nie vir altyd nie. Die feesvrolikheid is net ’n deel van die werklikheid, en soms is dit ’n bitter klein deeltjie. Ons is gouer as wat ons gereken het weer terug in ’n wêreld vol onsimpatieke uitsprake en klipharde eise, en sonder musiek.
Ja-nee, ons word nie té lank toegelaat om ons bekommernisse te vergeet nie. Daar kom ’n tyd dat ons dit nie meer kan miskyk of probeer ontken nie.
Maar laat ons tog ook nie ons vermoë om verras te word prysgee nie. Te midde van die klipharde werklikhede wat ons elke dag bestorm, breek daar soms ’n onverwagte lig deur.
Verwonder jou dan aan God se helder goedheid,