Katastrofes. Breyten Breytenbach
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Katastrofes - Breyten Breytenbach страница
Breyten Breytenbach
Katastrofes
Human & Rousseau
“Nee, die heelal bly donker/Ons is diere oorval deur katastrofes … /Maar ek het skielik ontdek dat vervreemding, uitbuiting van die mens deur die mens, ondervoeding, die metafisiese euwel wat ’n weelde is op die agtergrond skuif/Honger is ’n euwel: dis al …/Ek is aan die kant van hulle wat dink dat dinge beter sal gaan as die wêreld verander het”/Jean-Paul Sartre in ’n onderhoud met Le Monde
Aan my ouers en vlinders
OOPMAAK
Alles kan oplaas tot rus kom in ’n draaikolk van stilte. Die klanke van die dag verflou. Laatson skyn vas teen die ruit, en daardeur tot in die kamer waar die spikkels stof deur die goue streep beweeg soos dansers in kalklig. ’n Wind ritsel die velle getikte papier. Nou kan mens ontspan in die stuurkajuit van die stoel. Mens stuur jou brein se oog op met ’n vlieër tot hoog bo die stad. Sodat die gemaande oog die horisonte kan bespied. Hoe ver is die pers wingerde en geklitste kuste van my land? Is die buitelyne van die heuwels nie die Suiwer Liggaam van Boeddha nie? Waarskynlik nie. Of dit kan net sowel Jan Smit s’n wees.
Ek slaan my oë op na die berge met rakette. Laat hulle op hulle eie gaan aas en die vodde kyk dan terugdra na die nes van my ingewande. Slag die binnepens self oop. Niks behoort aan jou voordat jy dit nie geëet het nie. Hier is die inhoud van my maag dan. Hier staan hulle nou in gelid, elkeen met ’n naam, ek tel die koppe twee by twee. Hulle kom van ver oor die blou berge vandaan. Watter nuus bring jy van die huis Tokkelossie?
Ons is hier om die lewe te slyt. Dis die maand Mei, die bome se gestolde bloed swel uit in groenerwordende plat blare. ’n Hond galop oor die pad. In die park stoot skemer van onder af teen die bome op. Die wind verstil, maar die blomme val nog; ’n voël sing, en die berg hou nog meer misterie in. Vanaand, as die maan vol is, sal Gautama weer sterf, weer gebore word, weer die sagte slakkevlees uit die skulp van onbewussyn graaf, weer sterf. Hierdie nag het Boeddha Nirvana ingegaan; dit was soos hout wat heeltemal uitgebrand het.
My vrou het so pas verjaar en verstaan nog steeds geen Afrikaans nie. ’n Vriend van my het onlangs drie dae lank sonder enige rede in sy bed gesit en huil totdat sy oë in hulle oogkaste soos huisvissies in glasbakke was.
Ek is maar net ’n spioen, elke dag uitgestuur op ’n nuwe verkenningstog, vermom onder hoed en baard en pyp en idees en redes en vel.
Maar ek hoop om sodoende ’n waterdigte saak teen die lewe te kan opbou. So kom daar miskien later ’n slot.
Daarom, om by te las aan die voet is ’n bylae van vlees; om by te las aan die hand is om ’n nuttelose vinger daar te plant.
Die ligte blomblare val oral met harde knalle. Huil soos ’n viool. Huil, huil, huil, huil, huil.
(Parys Wesak 1964)
KERSVERHAAL
Dit was Oukersaand. Wit. Selfs die baarde van die bome wit. Wind loop en snuif oor die sneeu. ’n Dun wind. Die stywe bome skud hul bevrore arms die sneeu val ploef in die sneeu. Die Donou het ’n skil van ys op.
Ons dorpie was ’n klein dorpie. 1 800 inwoners. Almal was saamgehok om die vuurherde. Die klein vensters was soos die geel oë van katte in die nag. Ek onthou. Ons het met ons hande die gloed van die vlamme in die kaggel probeer opvang. Af en toe boontoe getuur. Skeefkop geluister hoe die wind deur die skoorsteen suig en steun (die wind ’n wolf wat die varkies se huise probeer omblaas). Gewip as stukke sneeu soos dooie duiwe van die nok dak-af skuif en ploef in die sneeu val. Dit was Oukersaand. Wit. My oom was aan ’t blaas op sy bekfluitjie. Stille Nag. My broertjie (hy was slegs 5) se kop was aan ’t knik. Sy kop was te swaar vir sy nek. Hy was altyd ’n lafaard my broertjie.
Toe. Skielik. Die wit nag was versplinter soos ’n glasbal o ’n gejoel gek geskreeu gegil gesketter van die onderdorp af aan geblaf van honde hoë getjank geweerskote soos klappers met nuwejaar gedoefdaf kabaal. Wind het verskrik aan die ruite kom ruk. My oom het opgespring. Die stoel omgeskop. Die lamp doodgeblaas. Vir laas kon ek sien sy oë was wild en wyd om beter te kan luister. My broertjie het begin huil. My tante kla soos ’n kat in pyn. Ssjjjtt. Te laat. Geweerkolwe spat deur die wasemvaal vensters iemand skop die deur oop dronk soldate met stewels wat knars met bloedvuil oë bars binne met lanterns. (Hulle had dik militêre jasse aan. En skaapvelmusse op.) Wind blaas die rook af in die skoorsteen. Rook dwarrel dronk rond in die kamer. Gordyne wapper wit soos bevreesde diertjies. Iemand keer die tafel om. Iemand steek die gordyne aan die brand en vlamme vreet op teen die mure. Iemand stamp my in die klein holte van my rug. My broertjie huil vir sy skoene. Hulle skiet my oom voor die agterdeur by die houthok in die sneeu (hy sterf op ’n hopie soos die mossies in die winter). My tante se hare het uit haar bolla geval. Sy ploeter deur die sneeu soos ’n histeriese heks. En sy skreeu skreeu skreeu. ’n Soldaat sonder broek sleep haar by die naaste dooie huis in. Ek klou my broertjie se hand vas. Hy huil vir sy skoene. Hy was altyd ’n lafaard my broertjie.
Ons was almal op die markplein. Daar was ’n groot vuur reg in die middel (die sneeu rondom was oranjegoud) en daar was mense in die vuur. Mense bulk soos beeste. Maal rond. Skuim om die monde. Mense swaai aan die deurposte met geknakte nekke en slap hande en uitpeuloë. Groot oop oë soos dié van duiwe. Ek dink: Salomo sing o jou oë soos duiwe-oë my beminde. Mense lê verskeur in die sneeu met stywe hande en hulle boude hoog in die lug. Huise brand soos vreugdevure. Mense hardloop struikel karring roer in die sneeu. Soos ’n dans. ’n Helse dans. Die soldate is hees. Hulle hammer witwarm ysterpenne deur die ore van mense. Mense sterf gekniel in die sneeu verdwaas starend na die hopies harsings in hul hande. Hulle bind mense aan mekaar vas en steek hulle aan die brand. Mense hardloop soos vuurperde (pegasus) oor die wit sneeu. Ek dink: Simson laat los die jakkalse met fakkels in die sterte in die wit koringlande van die Filistyne. Hulle sny die borsies van meisies af en vryf growwe sout in die mote. Meisies grawe gate in die sneeu soos mal hase. Hulle hang mense koponderstebo aan die verandas en kloof hulle met bajonette. Halwe mense hang in rye en die bloed drup pief pif paf in die sneeu. Hulle monde is wyd soos die monde van idiote. ’n Dans. ’n Helse dans.
Die markplein was te klein. Ons kinders moes almal na die kerk. Die skool was net langsaan. Die dooie kinders word in die gemakshuisies van die skool gegooi. (Die kerk had geen gemakshuisies nie.) Soldate kap gate in die ysvel van die Donou. Mense word onder die ysvel gestop. Honderde. 1 500 mense sterf met hulpelose hande met vrugtelose oë met vertrekte monde. Die mans word gekastreer. Almal word afgemaak mans vroue kinders (die honde hardloop weg).
’n Soldaat gryp ons en hardloop met ons na ’n huis met leë oë. Hy versteek ons onder ’n bed. Die kamer ruik na appels. Die soldaat se oë rol hy huil sy baard en ooghare is geskroei sy wange is swart sy hande is rooi. Hy was ’n buurman. Hy stamp ’n stoel by die deur om. Dit klater. Hy vloek. Hy hardloop tjoef-tjaf weg deur die sneeu. Ek hoor kinders huil in die kerk. Hulle moker die kinders dood met stoele.
En toe word dit stil. Die wit wind is weg. My tong sit vas in my keel my oë is kurk. My broertjie klou aan my rok hy druk sy kop in my jong borsies soos jong granaatjies in die vroeë somer hy bewe verskriklik. Hy was altyd ’n ou lafaard my broertjie.
Ek dink aan die wit lywe van mense in die wit sneeu. En rondom die vlekke rooi. Wit en rooi. Ek dink: en sy was swanger en aan ’t naai by die venster en sy het haar vinger met die naald geprik (daar was sneeu buite) en daar was ’n helder druppel bloed en toe dag sy o dit sal ’n dogtertjie wees met ’n vel soos sneeu en lippe soos bloed en ek sal haar sneeuwitjie noem. Ek dink: môre is die lywe blou en opgeblaas (ek gril) en die lywe onder die ys sal swaar deurweek wees van water en die visse (hulle is ook deurweek van water) sal die lywe eet en vet word.