Katastrofes. Breyten Breytenbach
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Katastrofes - Breyten Breytenbach страница 2
BERGEN
Bergen is ’n stad van seemeeue en wit. Dis ’n kolossale seedier wat eens op ’n lank lank gelede uitgespoel het en nou opgeblaas en dood stadig disintegreer die seevoëls is brommers wat gedurig hoog bo die benerige lyf wiek deur die aaklige skêre van die snawels kla plons en vesels lappies vleis oppik. Die klokke huil soms die klank rol oor die dakke en terug veral as die wit sneeu uitgeskud word oor die stad die kerke die bote alles toegewit is in kokonne sneeu behalwe die seevoëls hulle leef bo die sneeu in die wind. Ek woon in ’n hol kamer en soms moet ek in ’n hoek wegkruip die kwêkende voëls loer met wit oë by die vensters in. Wit stengels reën val altyd langs die dun ruite verby behalwe as dit sneeu en die wit meer gaasagtig word die vlokke kom lê en stuiptrek op my vensterbanke maar in die somer is dit alles anders en nou ’n onmenslike harde wit lig wat dag en nag teen die ruite stamp. Die ganse wêreld is wit daar is niks om te eet nie maar nogtans swel vreemde karbonkels gesaai oor die aardoppervlakte en woeps bars oop en kopknikkende wit blomme groei daaruit die seemeeue stryk neer en bekyk die blomme met gekantelde beenkoppe. In die kamer langsaan myne sterf ’n ou man met rukke en stote ek kyk soms deur ’n skrefie in die muur na sy manewales hy sit regop in die bed en beduie rasend met sy deursigtige hande en staar na die gordyne voor sy venster wat wit bol in die wind en kwak nee nee. Dit sal hom nie veel help nie die seevoëls sal hom bykom. Die vrou met die geronde kuite en die oë soos voëls klim soms die trappe na my kamer op om gulsig onder my op die bed te kom lê en in die somer bring sy ’n bossie kopknikkende wit blomme mee en ek steek dit in ’n bottel op die tafel. In die nag hoor ek ’n lawaai en as ek vervaard wakker skrik het die blomme reeds die venster uit opgevlieg en kwê-kwê fladder nou in die wit nag buite en loer na my met knoopoë. Verraaiers en lokvinke! Die ou man wat met ’n gesukkel sterf kerm ek kan sy lippe hoor sputter. Ek kruip onder die bed in. Maar dit sal nou nie veel meer help nie. Hulle het gewis die lê van die kamer deeglik bespied.
DIE BOENK
Die boenk is ’n nuwe dier: met 3 oë en 5 bene en dus altesaam 31 tone. Dit dra stewels want dit se voete is teer. Die ore is lank en pesig en bedek met hare wat dien as skokbrekers of klankkussings want die geluide van dié wêreld is te brutaal vir sy oordromme. Sy ore is van meer nut, of dien as vlerke. Alhoewel die boenks lomp in die lug rondval is hulle geharde vlieërs. Hulle leef op land of in die water. Eintlik is hulle gek na water en dis glad nie verrassend om soms as jy jou hande wil was ’n boenk uit die kraan te sien peul nie. Hulle is rustige diere en byna heilig omdat hulle so nutteloos is. Soms in die somer kan jy ’n boenk pylregop in die lug sien opvlerk (-oor) tot bo-op ’n wolk waar dit dan hemels op die rug gaan lê en snork. Soms loer hulle af oor die rande van die wolke en roep. Dié klank ontstel vele aardlinge want dis kompleet asof hulle onbedaarlik skater oor iets wat belaglik is hier onder. Hulle leef van boomvisse maar hulle klim met moeite want met hulle stewels aan is dit moeilik om vas te trap en te klou. Snags hoor mens hulle in die bome vroetel en as hulle versadig is kraai hulle van die lag met doodernstige gesigte. Ki-ki-ki-ki-ki-ki-ki-ki-ki-ki-ki giggel die wyfies (met plat sterte) en die reuns antwoord met ’n skommelende ku-ku-ku-ku-ku-ku-ku-ku-ku-ku-ku. Hulle sou graag groter geluide wou maak maar omdat hulle bril dra vir hulle swak knippende oë is hulle beperk tot die klank wat die mins moontlike wasem op die brilglase sal blaas. Hulle hou daarvan om oor hul mae te streel.
SELFMOORD 1
(aan Jim)
Was dit selfmoord? En indien wel, waarom sou dit wees? Dit was eens op ’n somerdag en die hele land was geel en die skilferige aarde onder ons voete was kokend. Daar was ’n fees in die dorp maar ons was sat daarvan en het omgedraai en weggeloop tot op hierdie baar kneukelrige plato. Ver agter ons was die wit brandende dorp. Hy het met hoë oë vir ons vertel dat die aarde hier vyandig is maar ons wou hom nie glo nie. Ons het met ons oë op die heet grond verder geloop en toe ons ’n kreet hoor verbouereerd omgewiel en hy was weg, net sy bundel gedigte lê in die stof. Sy hol weergalmende hopelose skreeue het vanuit die binneste van die aarde gedemp na ons toe opgevlieg. O God J. het in die aarde ingeval het Arlene begin skandeer en ook my vrou huil blink deur die neus en ek voel leeg op my maag. Ek loer af deur die gleuf en sien jou vér onder omgedop op jou rug en kriewelend met arms en bene in die lug soos ’n bulkende gogga. Bulk stringetjies onverstaanbare woorde op na bo. Wat kon ek doen? Eenkant was die oog van ’n ondergrondse stroom wat naby jou moes verbyvloei. Ek het my voorlyf in die blou gat gewikkel (om eers te spioeneer) en toe weer my kop proestend uitgetrek en my vrou het met wurmrige hande gevra of dit diep is. Maar ek is braaf en het diep asem geskep en afgeswem vroetel in die maalgat om ’n draai en na die ondergrondse wateroppervlak geskiet soos kurk. Uitgeklim en op my hurke met jou gaan sit en praat. Jy glimlag breed met jou bruin en besproete kop. Jy was swak en dronk en witoog maar ons kon jou dalk ophys aan ’n tou deur die skreef in die aardvel waar die lig insyfer en ons die vier angstige oë van die twee vroue kon sien (soos fosforiese eiers in ’n nes). Die lap blou lug was geheimsinnig soos ’n gebrandskilderde kerkvenster. Arlene kronkel die een end van ’n bergklimmerstou af. Ek verduidelik laggend vir jou hoe kinderspeletjies dit is en klouter dan met fluitende lugpyp tou-op uit deur die kraak tot bo-op die aarde en loer terug en moedig jou aan kom kom nou J. Jy vat die tou vas tussen jou rye vingers en begin klimskuif maar toe halfpad na bo huil jy en laat los en val knallend in die water. Dop weer eens op bo die malende blou loei en verdwyn dan. Lank het ons net so op die grond bly sit. Toe het ek geloop na waar sy boek in die stof lê en dit opgetel en oopgeslaan. Skielik was daar ’n wirr vanuit die boek en die klank van ’n swaar vlerkgeklapper in die lug.
WEDREN
En toe ons die gejuig hoor het ons geprikkel oor die balkontralies geleun maar ons kon drie huise verder deur die oop venster in ’n kamer net die rûe in pienk hemde van ’n ry gespierde mans sien. En dof die klank van ’n stem wat afgemete sekere voorwaardes en moenies uitlê. Die skeidsregter! Met ander woorde die resies gaan oplaas ’n aanvang neem. Enige minute later brul die eerste trekker dan ook en trek weg met die stank van geskroeide teer. ’n Jeep met twee konstabels in blou oorpakke daarin volg, hulle moet toesien dat die reëls gehandhaaf word. Ons hou dop van die balkon af, dis so donker soos olie, Stockholm slaap en deur die hol strate brul die trekker soos die kreet van ’n verwoede dier in ’n vanggat. Dan steek die ligte uit die koplampe eensklaps deur die duister op die promenade en die trekker jaag skreeuend die eerste golwe in. Dis ’n gevaarlike spel. Die trekker moet genoeg spoed kan volhou om die water voor hom te kan sny, as hy verslap word hy oorweldig deur die muur van bottelgroen borrels. Die jeep volg op die trekker se hakke om munt te slaan uit die lap tydelik droë seevloer. Die roete is deur die see tot in Duitsland en dan droëgronds terug tot in Stockholm. Ons hou dop van die balkon af, dis so donker soos gestolde bloed, waar die trekkers deur die see ploeg duik boë fosfories-glimmende water op soos silwer tornyne. Dan verdwyn hulle om die kaap waar die vuurtoring vee en die gebrul verdof tot ’n veraf ronk. Ons hou almal duim vas vir Sven, hy is ’n huisvriend en hy sal ons morele ondersteuning nodig hê want hy ken nie die roete so goed soos die ander mededingers nie. (Hy is van Lapland.) Fruke staan met ’n stophorlosie in die hand. Na twaalf minute loop ons uit tot in die agterplaas want hulle sal die wenpaal van die stad se agterkant af benader. Sven het ons later vertel dat met die uit op die wal klim in Hamburg, hy die roete kwyt geraak het. Alhoewel sy begeleiers, met hulle uniforms nat en soutwit teen hulle dye gevly, hom nie durf help het nie, het hulle tog, met glimlagte en knikke, sy kop in die vermoede van die regte rigting versterk. Tuis aangekom moes hy self die pad deur die huis vind, hy moes eenvoudig deur want die eindpaal was voor die huis op die dorpsplein. Hy het al die kamers oopgedraai. Een was ’n kombuis, ’n ander ’n toilet, die derde ’n hol waar twee mededingers wat reeds die paal voor hom gehaal het gelê en snork het. Maar met die vierde deur kom hy uit op die balkon, a, voor hom lê die dorp, Fruke slaan haar arms om sy klam lyf en sê: my liefling, as hulle jou nie verneuk