Vroue van die Bybel 2. Esté Geldenhuys
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Vroue van die Bybel 2 - Esté Geldenhuys страница 5
God is heilig (Lev 11:44). Sy heiligheid is sekerlik een van sy diepste kenmerke. Heilig beteken rein, skoon, onbesmet. Dink daaraan: Daar is heeltemal niks negatiefs aan die God in wie ons glo nie. Hy versorg en kan niemand seermaak of op enige manier te na kom nie (Jes 58:11). Hy is nie ’n mens dat Hy kan lieg nie (Num 23:19). Hy is net goed (Ps 136). Hy vergeet van niemand nie (Heb 13:5). Sy karakter is volkome bo verdenking (Jes 46:9-11). Omdat Hy so rein en so suiwer is, kan geen onreinheid in sy teenwoordigheid bly staan nie.
Kyk watter groot rol speel bloed en vuur in die hele Bybel. Alles wat onrein is, moet verbrand of simbolies deur bloed bedek word.
Hoe gebeur dit? Ons moet heiligheid en heiligmaking begin verstaan en dan oefen om hierdie pad te stap.
Om te groei in heiligmaking vra vir ’n gesindheidsverandering. Slegs as ons ’n leerbare gees het, sal die Gees van God ons kan oortuig van dinge in ons wat moet verander. Dinge soos gewoontes, ’n liefde vir dinge wat ons weghou uit ons Skepper se teenwoordigheid. Ook byvoorbeeld onvergewensgesindheid en bitterheid, selfs rassehaat.
Deur skulderkenning en belydenis sal ons dinge kan aflê en stelselmatig nader groei in sy teenwoordigheid. Heiligheid en heiligmaking is ’n vereiste vir ware intimiteit met die Groot EK IS. In die hele kwessie van heiligmaking speel die bloed wat Jesus aan die kruis gestort het ’n baie belangrike rol. Jesus se bloed het betaal vir die ongeregtigheid van die ganse mensdom. Ons het nodig om dit te glo en ons eie te maak.
Glo jy dat Jesus ook vir jou gesterf het? As daar dinge is wat jou pla en wat jy weet tussen jou en ons Vader staan, bely dit met opregte berou. Spreek dan die woorde hardop uit dat jy vas glo Jesus se bloed kanselleer dít wat jy bely heeltemal uit. En leef dan met ’n begeerte om nie weer in dieselfde slaggat te trap nie.
Wanneer ons kies om hierdie pad van reiniging voor ons Vader te stap, moet ons ook leer om onsself af te sonder van dít wat ons van voor af gaan besoedel – in ons gedagtes, gesindheid en optrede.
Waarom vasgenael voor die televisie bly sit wanneer die aankondiging kom dat die volgende program ’n gradering van seks, geweld en vuil taal het? Sit dit af. Moenie jouself daarmee besoedel nie. As ons Vader ons leer dat ons nie twee here mag dien nie, waarom steeds loterykaartjies van allerlei aard koop? Alle gelukstrekkings dien die geluksgodin. Kies wie jy wil dien, die Groot EK IS of die geluksgodin. As ons weet dat ons woorde saad word wat oor ’n dag of ’n maand soos ’n oes na ons gaan terugkom, waarom dinge praat wat God nie eer nie en ook nie uit geloof of ’n Goddelike verhouding kom nie?
As ons streef na heiligheid moet dit ons ingesteldheid word om in ons gees te groei en dít te vermy wat ons in ons sielsdimensie aan gewoontes verknog waarmee ons sukkel om te breek.
Dít is wat Lot nie reggekry het nie. Hy het gedink as hy onder die mense van Sodom bly, sal hy hulle iets kan leer, maar die teenoorgestelde het gebeur. Hul leefstyl het vir Lot so aanneemlik geword dat hy homself nie meer daarvan kon verwyder nie. Vandaar sy getalm om te vlug, vandaar sy vrou wat stokstil gaan staan het om terug te kyk. Vandaar sy dogters se totaal walglike plan om vir hulself ’n nageslag te bewerk.
Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai (Gal 6:7-8).
Hemelse Vader, dankie dat ek uit die Woord leer dat U heilig is. Ek bely dat ek nie regtig weet wat dit vir my beteken nie. In die Naam van Jesus bid ek dat U my asseblief leer wat u heiligheid behels. En leer my dan asseblief deur die krag en inspraak van u Heilige Gees om op die pad van heiligmaking te groei! Amen.
Hagar, die ma van Ismael
Die mens wik maar God beskik
Lees Genesis 16;
Genesis 21:9-21; Genesis 25:12
Hagar het waarskynlik met Abraham se eerste besoek aan Egipte deel van sy geselskap geword. Lees gerus weer die verhaal in Genesis 16 en sien in jou geestesoog die jong meisie wat ’n slavin is. Die Bybel verwys na haar as ’n Egiptiese meisie. Was sy as slavin gebore of was sy ’n gevangene van die een of ander heerser wat haar saam met ander “artikels” as buit in ’n triomftog huis toe gebring het?
Sien die beeld van ’n tenger, mooi meisie met wie jy empatie wil hê. Soos ’n lam ter slagting word sy gelei in ’n lewe waarin sy geen sê gaan hê nie. Wat sou haar geaardheid wees? Verwese en onderdanig? Skielik verander die prentjie, want daarvan weet ’n mens nie so mooi nie. My ouma sou gesê het “sy het lewe in haar lyf gehad”, want dié kind het kans gesien om haar teenoor Sara rammetjie-uitnek te gedra.
Wat ’n verhaal van kontraste is dít tog! Abraham, die sterk man van geloof wie se geloof1 hom tot geregtigheid gereken is (Rom 4:3); hy is die man wat meer as een keer die belofte van die Skepper van die heelal ontvang het ten opsigte van ’n baie groot nageslag. Abraham het beleef hoe dié God van geregtigheid met hom in ’n ritueel ’n verbond gesluit het (Gen 15). Volgens die verbond is Abram se naam ook na Abraham (vader van ’n menigte van nasies) verander (Gen 17:5) en Sarai se naam na Sara (Gen 17:15). Lees gerus die hele deel in Genesis 17:1-21.
Later het die HERE aan dieselfde Abraham verskyn en hy ontvang die blye tyding dat hy en sy vrou binne een jaar ’n baba sou hê (Gen 18:10-14) – ’n kind wat hy later, steeds in opdrag van die God van die belofte, op die berg Moria as offerande moes vasbind.
Hierdie Abraham het twee keer gelieg oor die feit dat Sara sy vrou was. Hy het toegelaat dat sy vrou hom ompraat om by haar slavin in te gaan. Dit is ook hierdie Abraham wat twee keer toegesien het hoe die slavin by wie hy ’n kind verwek het so saam met haar kind, heeltemal op haar eie, die woestyn in vlug.
Die eerste keer was terwyl sy swanger was. Toe dit die tweede keer gebeur het, was haar kind oud genoeg om baie goed te verstaan dat hy ’n pa het wat hom en sy ma weggejaag het. Hoewel ons in Genesis 21:11 lees dat die woord van Sara ten opsigte van Ismael baie verkeerd was in Abraham se oë, het hy dit steeds gedoen.
En dan is daar die genade van die God van liefde wat, ondanks die hele rits kontrasterende gebeure, toegelaat het dat daar na Abraham verwys word as die vader van alle gelowiges (Gal 3:7).
Dit is goed om die gebeure in hierdie verhaal te oorweeg tesame met die hele kwessie van geloof en, daarteenoor, besluite wat toe nié in geloof geneem is nie. Besluite wat nie van God af kom nie, is tog nie geloofsbesluite nie. Ons neem besluite op twee maniere: óf omdat ons beleef dit is juis wat God wil hê ons moet doen, óf vanuit ons eie oordeel sonder om sy inspraak daarin toe te laat. Sulke besluite word vanuit ons sielsdimensie geneem – nie uit ons geesmens nie, maar uit ons vleesmens.
Besluite wat uit die vlees geneem word, baar nog meer vleeslike gedrag en die proses dra in sy momentum die moontlikheid dat baie mense seergemaak kan word.
In die verloop van die verhaal, veral met inagneming van Hagar, staan Sara sentraal. Toe die belofte kom dat daar vir Abraham uit die skoot van Sara ’n seun gebore sou word, het sy in ongeloof gelag. Maar sy was nie ál een wat gelag het nie. Genesis 17:17 onthul dat ook Abraham gelag het.
Ongeloof het die oorhand oor die twee mense gekry. Sou die belofte spanning veroorsaak het? Vanuit ongeloof het Sara besluit om sommer self ’n plan te maak. Sy het haar man oortuig om by Hagar te slaap. Hagar het geen sê daarin gehad nie en Abraham wat veronderstel was om ferm te staan, het Sara (in daardie stadium nog Sarai genoem) nie teëgegaan nie. Toe dit bekend word dat Hagar