Kweek kinders met heel harte. Hettie Brittz

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kweek kinders met heel harte - Hettie Brittz страница 5

Автор:
Серия:
Издательство:
Kweek kinders met heel harte - Hettie Brittz

Скачать книгу

het gesê: “Hatred of the mother is familiar, but the mother’s hatred still comes as a surprise.” Is dit nie so waar nie? Dit is amper normaal dat kinders by die skool of by maats kla oor dit of dat wat hulle ma gedoen het of oor hoe sy is, maar hoe ontstellend is dit wanneer kinders uit ’n ma se gedrag, uit haar afwesigheid, uit haar irritasie, uit haar onverdraagsaamheid die boodskap ontvang dat sy nie vir hulle lief is nie?

      Die teenpool van verwerping is aanvaarding, wat ook deur ons woorde en dade gekommunikeer word. Ek het ongelukkig van nature ’n ernstige gesig. Ai, as ek maar my mondhoeke chirurgies boontoe kon laat krul sodat my kinders op my gesig kon sien dat ek oor hulle glimlag, sou ek dit gedoen het. Maar omdat my gesig dit nie altyd wys nie moet ek ekstra moeite doen om seker te maak my kinders weet ek is lief vir hulle net soos hulle is. Ek spel dit uit: “Ek hou daarvan wanneer jy met my redeneer, want ek geniet so ’n verstandelike toutreksessie. As ek my beste argument uithaal, is dit regtig nie om jou te probeer wen nie. Dis maar net my gimsessie vir die dag. Ek hou van hoe jy dink en jy mag maar anders as ek dink. Bring volgende keer weer jou unieke perspektief. Dis wat die debat tussen ons so lekker maak.”

      Om baie tyd saam met ons kinders deur te bring en die verhouding tussen ons en ons kinders te koester, bou die brug tussen ons harte en hulle s’n. Dit maak dit soveel makliker vir ons kinders om die geestelike aflosstokkie van ons geslag af stewig in hulle hande oor te neem. Koop die tyd uit en doen moeite om die verhouding te herstel wanneer jy die skerwe op die vloer hoor val. Gebruik die brug tussen jou en jou kinders se hart om ’n groot geestelike erfporsie vir hulle na te laat, een wat baie meer werd is as die Krugermiljoene.

      KLANKBORD

      VRAAG: Ek dink ek raas te veel met my kind. Ek is so bang ek mors die eerste sewe jaar van haar lewe op. Op alle terreine. My bang kan ek nie in hierdie min skryfplek inpas nie. Dis baie groter as dit. Vir my lyk dit of sy aandag soek. Of sy probeer snaaks wees. Sy sê nie iets net een keer nie; sy sê dit oor en oor en oor totdat sy ’n reaksie kry. Sy sal kliphard lag of skreeuend praat. Tog het sy ’n baie volwasse kant. Sy kan soms so mooi met haar sussie praat. ’n Regte ousus wees. En sy word nou maar eers vier. Ek kan haar gedrag tot op ’n punt duld, maar dan ontplof ek. Ek is baie, baie bekommerd dat ek hierdie kind van my breek en nie opbou nie. Ek probeer so hard om haar in ’n Christuskind met hoë waardes, goeie maniere en selfvertroue te vorm.

      ANTWOORD: Ek dink dis die ouers wat nié bang is vir droogmaak nie vir wie ons moet bang wees. Ouerskap is oorweldigend. Ek weet daarom wat jy bedoel wanneer jy sê jy breek soms af waar jy moes opbou. Ons almal is skuldig hieraan, maar die goeie nuus is: Daar is ruimte vir foute in ons ouerskap. Daar is vergifnis, genade en wonderlike herstel.

      Ek hoop jy sal die tyd kan vind om jou kind se temperament te leer verstaan (én jou eie), want hierdie insig help ons baie om ons doelwitte in hulle opvoeding vas te stel. Sekere dinge in jou dogtertjie kan en moet gesnoei word, maar ander dinge hoef nie. Jy behoort nie haar persoonlikheid te verander nie, maar wel haar gedrag. Wanneer jy haar belangrikste behoeftes verstaan en vervul, kan jy in ander opsigte baie streng wees sonder om haar te knak. Haar geaardheid bepaal ook waar jou kind die meeste insette nodig het om soos Jesus te kan word.

      Sommige kinders se groot uitdaging is selfsug; ander s’n is opstandigheid. Party kinders moet hulle impulsiewe gedrag leer beheer, terwyl ander moet leer om te glo en te waag. Mag die Here vir jou wys wat die belangrikste kwessie is wat jy moet hanteer en watter kleinighede jy behoort te aanvaar as deel van jou dogter se unieke karakter.

      Hoofstuk 2

      Leer jou kind geloofswaarhede

      Ek sien myself soms in my gedagtes met die geestelike aflosstokkie in my hand. Ek hardloop na my kind toe, wat reeds gereed staan, hand uitgestrek, om die stokkie by my oor te neem. Op die stokkie staan die kern van my geloof geskryf – die Naam Jesus in groot letters. Maar daar staan ook ander woorde geskryf – kernwaarhede waarsonder ek nie my kinders die lewenswedloop wil sien hardloop nie.

      Wat is die heel belangrikste dinge wat ek my kinders oor God, hulleself, ander mense en die lewe wil leer? Wat moet hulle weet sodat die lewe hulle nie breek nie? Ek hoop elke ouer dink oor hierdie vrae, want dit is oneindig belangriker as wiskunde, wetenskap en tale saam.

      Voordat ons na die belangrikste geestelike waarhede kyk wat ons aan ons kinders behoort aan te gee, is daar een praktiese hekkie waaroor ons moet kom: Hoe verduidelik ’n mens geestelike waarhede vir jong kinders wat nog nie abstrak kan dink nie? ’n Moeilike vraag! Eerstens verduidelik ons hierdie waarhede aan ons kinders nie net met woorde nie, maar veral met ons optrede. Die waarhede wat ons verkondig, behoort te bepaal hoe ons leef, hoe ons die lewe behandel en hoe ons ander mense behandel. Anders is ons soos eiendomsagente wat ’n huis net van buite af gesien het, maar dit dan probeer verkoop. Ons moet self eers in hierdie waarhede “woon” voordat ons dit kan oordra.

      Tweedens moet ons in gedagte hou dat kinders se insig mettertyd ontwikkel. Dink aan die konsep dat God groot is. Kleuters verstaan hierdie waarheid letterlik en maak die meegaande gebare met hulle arms en hande wanneer hulle die liedjie “My God is so groot” sing. Dit is ons eerste sleutel: Gebruik beweging en aanraking en begin by jou kinders se lyfies wanneer jy geestelike waarhede aan hulle oordra.

      Later sal jou kinders besef hierdie “groot” is eintlik baie groter as die grootste gebou wat hulle al ooit gesien het. Nou is God groter as die skool of die aardbol. Dit is ons tweede sleutel: Koppel geestelike waarhede aan wat jou kinders kan sien of beleef. Gebruik hulle verwysingsraamwerk.

      Nog later in hulle lewe leer hulle om abstrak te dink. Nou beteken “groot” nie meer net hoog of baie kilometers wyd nie. “Groot” beteken nou “meer as wat ons kan dink en verstaan”. “Magtig” is nie meer die bultende armspiere wat hulle wys saam met die liedjies wat hulle by die Kleuterkerk sing nie. Magtig beteken nou God “bestuur lewensgebeure, die natuur, die heelal”. In hierdie gevorderde stadium kan jy geestelike gesprekke met jou kinders voer. Verwelkom dit wanneer hulle jou oortuigings toets en jy soms die Bybel en ander geestelike boeke moet nadertrek om jou standpunte te staaf.

      Die verskillende ontwikkelingstadiums van ’n gelowige kind kan soos volg opgesom word:

      •Kinders praat na (tot ongeveer 3 jaar): Kinders sing geestelike liedjies en herhaal hulle ouers se oortuigings sonder werklike insig. Die waarde van hierdie stadium is dat hulle nogtans belangrike beginsels leer. Die belangrikste is dat hulle ontdek Jesus het hulle lief, is naby aan hulle, versorg hulle, is sterk en het hulle gemaak. Ouers se belangrikste geloofsrol is om God se liefde en versorging vir hulle kinders voelbaar te maak.

      •Kinders is verwonderd (ongeveer 3-5 jaar): Kinders kom onder die indruk dat God wonders kan doen. In Engels noem kenners dit die magic-stadium. Stories oor wonderwerke en bonatuurlike gebeure soos die tien plae en Simson se kragtoertjies maak ’n groot indruk op hierdie kinders. Ons as ouers se belangrikste geloofsrol in hierdie stadium is om seker te maak ons kinders verstaan God se grootste wonder is dat Hy ons harte kan verander en ons sy liefde kan laat ervaar. God se superpower is sy liefde, en sy liefde is sterker as al die ander wonderkragte van hulle fiktiewe helde.

      •Kinders vermy vrees (ongeveer 6-10 jaar): In hierdie stadium word kinders meer bewus van die lewe se gevare en God as ons beskermer word ’n belangrike perspektief. Dat God siektes kan genees, ons met ons probleme (soos wiskundetoetse en sportwedstryde) kan help en dat sy engele ons oppas, beïndruk kinders in hierdie stadium. Die wêreld wat al hoe groter word, is dan nie meer so skrikwekkend nie. Ons as ouers se rol is om nou ver weg te bly van geestelike foefies of onverantwoordelike teologie. Ons behoort nie vir ons kinders te sê as hulle met die Bybel langs hulle slaap of Bybelversies onder hulle kopkussings sit, diewe nie sal inbreek nie. Ons durf nie vir hulle sê as genoeg mense saam bid sonder om te twyfel iemand nie van ’n siekte sal doodgaan nie. Ons moet eerlik wees dat God altyd naby aan ons is, maar dat dit nie beteken

Скачать книгу