Prooi. Deon Meyer

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Prooi - Deon Meyer страница 15

Автор:
Серия:
Издательство:
Prooi - Deon Meyer

Скачать книгу

      Al wat Daniel kan doen, is om met ’n ompad na sy woonstel te loop, want hy wil nie Grys Baadjie se aandag op hom vestig deur hóm te agtervolg nie.

      Dit neem hom amper twintig minute. Hy kom van die basilika se kant af sodat hy ’n breër uitsig op die klein plein voor sy gebou kan hê, maar hy sien niemand nie. Hy sluit oop, gaan in, draf die trappe uit, hy sweet vryelik van die hitte en die opwinding. Hy stroop sy klere af, trek ’n kortbroek aan, maak die hortjies voor die venster oop en gaan haal ’n kombuisstoel. Hy sit net diep genoeg in die slaapkamer dat hy die plein daar onder kan dophou sonder dat hy maklik gesien kan word.

      Meer as ’n uur-en-’n-half later kom Lonnie May in Rue Marengo aangestap. Haastig, die bleskop draai soos wat die ou man waarneem.

      Lonnie, Lonnie, hoe grys is die bietjie hare wat jy oorhet. Maar jou stap is nog jonk. Daniel se herinneringe word ’n vloed.

      Lonnie se oë kry die adres waarna hy soek. Hy huiwer nie, loop na die deur toe.

      Daniel wag vir die klokkie om te lui. Dit gebeur nie.

      Daar loop Lonnie weer.

      14

      Daniel sit ’n halfminuut lank voor hy besef wat gebeur het. Hy spring op, gaan uit, draf met die trappe af. Die bruin koevert lê daar op die vloer, deur die voordeur se posgleuf gedruk.

      Vir Daniel Darret. In swart ink.

      Hy tel dit op, maar hy weet reeds: Lonnie ken sy nuwe naam. Dit beteken ’n duisend dinge. Lonnie het hom opgespoor en dit moes ’n moeilike, dalk lang, dalk duur proses gewees het, want Daniel het sy spore baie goed uitgevee. Dit beteken Lonnie het besef hy kan daardeur Daniel se nuwe identiteit ontbloot. Immer lojale Lonnie moes dus gedink het die doel heilig die middele. Lonnie is nie hier om te kom gesels oor die ou dae nie.

      Dit beteken Lonnie is in die moeilikheid.

      Dit weet hy voor hy die koevert oopmaak.

      Hy haas hom terug na sy woonstel, kry ’n mes uit die laai, skeur die koevert versigtig oop.

      Umzingeli

      Saint Andrew. Under the organ. 10:15.

      Lonnie

      Dit is die eerste woord, die aanspreeknaam, wat hom laat sidder, wat al die sluise van sy geheue oopmaak.

      15

      Augustus. Bennie Griessel. Kaapstad.

      Die oggend ontmoet hy vir Cupido oorkant die Kaapstad-stasie, voor die ontvangssaal van Rovos Rail.

      “En toe, partner?” vra Vaughn dadelik. “All systems go?”

      Griessel weet waarna sy kollega verwys.

      “Ek het die bespreking gemaak. Vir volgende Sondagaand.”

      “En?”

      “Ek sal haar vanaand vra.”

      “Okay.” Met simpatie, want Cupido worstel self soms met wat hy sy “confirmed bachelor’s commitment issues” noem. Hulle stap in stilte oor die straat.

      * * *

      Mevrou Brenda Strydom, die treinmaatskappy se hoof van kommunikasie, is in haar vyftigs, aantreklik en keurig versorg. Sy het ’n lêer in haar hande. Sy nooi hulle om te sit in ’n hoek van die groot Rovos-vertreksitkamer, ’n mooi lokaal met ’n ouwêreldse atmosfeer. ’n Enkele kelner staan diskreet in ’n hoek. Sy vra wat hulle wil drink, plaas die bestelling, kom sit dan oorkant hulle. Sy skuif die lêer oor die koffietafel.

      “Dankie dat julle hier is,” sê sy.

      “Dis ons jop,” sê Cupido met net ’n skimp van sarkasme. Hy is van nature agterdogtig en aggressief wanneer dit by groot geld en luukse kom.

      Griessel ken dié reaksie. Dit is deel van hul spandinamiek – hulle het deur die jare geleer om dit vir hulle te laat werk. Wanneer Vaughn Cupido hardekwas raak, speel Griessel die meer toeganklike rol.

      Strydom is nie van stryk gebring nie. Sy knik. “Ek weet. Maar die dood van meneer Johnson is vir ons ’n baie ernstige saak, soos julle seker kan verstaan. Ons bedryf die luuksste trein in die wêreld. Die meeste van ons kliënte kom uit die buiteland. Ons reputasie as ’n veilige manier van reis is vir ons alles. Daarom is dit vir ons van kardinale belang om dié saak spoedig en doeltreffend op te los, en ek is hier om te help op enige manier wat julle nodig ag.”

      “Dankie, mevrou,” sê Bennie.

      “Noem my Brenda. Ek het vir julle …”

      “Is dit genuine the most luxurious train in the world?” val Cupido haar in die rede.

      Strydom knik asof dit nie die eerste keer is dat iemand dit vra nie. “Dit is.”

      “Okay?” Steeds skepties.

      Sy tel die redes op een hand af: “Om mee te begin, ons het ’n private treinstasie van drie-en-twintig hektaar in Pretoria. Met ’n museum en ’n werkswinkel waar ons self die trokke restoureer. Daar is selfs ’n paar wildsbokke. Dit is absoluut uniek. Ons slaapkompartemente is die grootste van enige trein op Aarde. Elkeen het sy eie badkamer, wat vyf-en-twintig persent groter is as die mededingers s’n. Die koninklike suites, byvoorbeeld, het elkeen ’n bad én stort. Daar is elf ton trein per passasier, wat ook vyf-en-twintig persent meer is as enige ander trein. Al ons gaste eet gelyktydig – daar is nie eetskofte nie. Ek kan aangaan …”

      “Dis okay,” sê Cupido. En dan, met ’n mate van trots. “Cool. Who would have thunk? In our little corner of the dark continent …”

      Sy glimlag en wys na die lêer. “Ek het vir julle al die moontlike inligting voorberei. Daar is die volledige trajekregister, wat deur die bestuurder bygehou word. Dit sê hoe laat die trein van 5 Augustus by elke stilhouplek aangekom het, wanneer en hoe lank dit stilgestaan het, ensovoorts. Daar is die kontakbesonderhede van al ons personeel wat met die trein gewerk het – hier, op die trein self en op ons stasie in Pretoria. Hulle weet almal van die ondersoek en sal hulle volle samewerking gee. Ons gebruik volgens regulasie drywers van Transnet. Hul besonderhede is ook in die lêer, maar ons het nie beheer oor hul samewerking nie.”

      “Dankie,” sê Griessel.

      “Hier is ook ’n lys van al ons passasiers en hul besprekingsvorms. Die vorms het hul kontak- en paspoortbesonderhede. Die meeste het ook hul reisreëlings ná die treinrit ingevul. Baie van hulle is oorsese toeriste en het dalk al weer die land verlaat.”

      “Hoeveel passasiers was daar?” vra Griessel.

      “Op dié spesifieke trein, vyf-en-sestig. Net sewe was Suid-Afrikaanse burgers.”

      Griessel en Cupido kyk vir mekaar. Hulle weet dit gaan ’n lang en moeilike proses wees om elkeen te kontak en inligting te kry.

      Strydom sien die blik. “Elke treinwa het ’n gasheer of gasvrou, wat na die mense in daardie wa se kompartemente omsien. Hulle ontmoet hul passasiers hier in dié sitkamer voor die trein vertrek. Hulle versorg die bagasie en sien

Скачать книгу