'n Lewe voor God. Stephan Joubert

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 'n Lewe voor God - Stephan Joubert страница 16

Автор:
Серия:
Издательство:
'n Lewe voor God - Stephan Joubert

Скачать книгу

MAART Lees Spreuke 17:22

      Leef jouself gesond

      ’n Vrolike mens is ’n gesonde mens, ’n neerslagtige mens raak uitgeput (22).

      “Lag en almal lag saam, huil en jy huil alleen.” Nogal ’n waar spreekwoord, nè! Net soos antibiotika en hoofpynpoeiers is lag ook medisyne. Vra maar vir navorsers wat op hierdie terrein navorsing doen. Ongelukkig vergeet ons dikwels om die voorskrif vir vreugde by die regte Adres te kom afhaal. Mense wat lag, is gesonder as mense wat altyd terneergedruk is.

      Hoe gereeld lag jy? Maak jy tyd vir humor en vrolikheid in jou lewe, of dra jy die wêreld se probleme op jou skouers? Bekommer jy jou so oor jouself, jou familie, die ekonomie, die kerk, die werk, sport, en wat nog alles, dat jy nie tyd het om te glimlag nie? Trek jy ellende en bekommernis aan soos ’n kers motte aantrek? Wel, hier is die oplossing, direk uit God se skool van wysheid: Hou op om jou te bekommer! Lag ’n slag. Raak vrolik.

      Skep doelbewus geleenthede vir vreugde. Lag saam met vriende oor al julle kaskenades op skool of op universiteit. Vertel vir jou kinders of familie van jou grootste verleenthede, en lag lekker saam hieroor. Moenie die lewe te ernstig opneem nie. Die Here wil hê jy moet ligvoets hierdeur gaan.

      Lewende Heer, dankie dat U my leer lag!

      20 MAART Lees Spreuke 19:23

      Slaap veilig vanaand

      Wie die Here dien, se lewe is veilig; so ’n mens slaap rustig … (23).

      Slaap jy goed? Of laat jou probleme en vrese jou baie nagte rondrol? Dan moet jy iets daaraan doen. Jy moet sorg dat jou geloof ’n verskil maak aan jou manier van slaap, want die Here gun jou elke aand ’n goeie nagrus.

      Wanneer jy in ’n lewende verhouding met Christus staan, het dit nie net ’n impak op jou manier van leef terwyl jy wakker is nie, maar ook wanneer jy slaap. Bekommernisse hou ’n mens wakker; daarom moet jy leer om jou probleme aan God se voete neer te lê. As jy bereid is om Hom hiermee te vertrou, sal Hy aan jou die nodige wysheid gee om elke probleem, elke knik in die pad en elke krisis in jou lewe uit te sorteer terwyl jy bedags wakker is. Nee, Hy los dit sommer al vir jou op terwyl jy in die aand rustig slaap.

      As jy op God se pad van wysheid leef, dan het jou geloof elke dag en elke nag veel meer te make met jou slaappatrone as wat jy ooit kan droom(!). Daarom moet jy leer om die Here van vandag af te vertrou, selfs as jou oë toe is. Dan gaan jy vanaand ’n slag rustig slaap; môreaand ook.

      Here! Laat my in u arms rus.

      21 MAART Lees Spreuke 21:1

      Niemand is te belangrik om te buig nie

      Die wil van die koning staan onder die gesag van die Here … (1).

      Die staat het ’n dure roeping voor God. Dit is nie net gewone burgers wat voor die Here moet buig nie, maar ook die owerhede. Gemeenskapsleiers en politieke leiers moet ook God se gesag oor hulle lewe erken. Maar ons moenie die verantwoordelikheid net aan hulle oorlaat om ’n Christelike samelewing te probeer skep nie. Nee, dit is in die eerste plek ons roeping as gelowiges.

      Dink maar aan iets soos godsdiensonderrig op skool: Te lank het ouers hulle plig versuim deur nie hulle kinders te onderrig in die Here se Woord nie. Dit is mos makliker om van die skool of die kerk te verwag om dit te doen. Hulle betaal immers skoolgeld en gee hulle bydraes aan die kerk!

      Natuurlik het die kerk en die skool ’n plig om kinders in die vrees van die Here op te voed, maar dit mag nooit godsdiensopvoeding in ouerhuise vervang nie. Die Here roep ouers in die eerste plek op om vir hulle kinders voorbeelde van toewyding aan Hom te wees. Om as familie die Here saam te dien, moet so natuurlik wees soos om elke dag te eet en te slaap. Ouerhuise moet veilige hawens wees waar die Here se Woord geken, gelees en beleef word!

      Here, maak ons huise die plek waar U gedien word.

      22 MAART Lees Spreuke 22:1

      Leef eervol

      ’n Goeie naam is meer werd as groot rykdom … (1).

      ’n Wyse mens weet dat hier op aarde, waar diewe inbreek en steel en ouderdom alles laat verweer, niks vir ewig hou nie. Die duurste meubels word oud en die mooiste motors verloor later hulle glans. Maar iets wat vir altyd bly bestaan, is die Here se wysheid. As jy bereid is om dit elke dag uit te leef, leef jy eervol. Dan is jou lewe versier met kalmte en vrede. Dan stroom wyse woorde gedurig oor jou lippe en stille krag vanuit jou binneste.

      As jy wysheid het, weet jy dat ’n goeie naam al is wat jy het. Jou integriteit as ’n man of vrou van die Woord is van onskatbare waarde. Vergeet daarom van geld – dit sal vergaan. Vergeet van roem – môre is vandag se helde oud en vergete. Moenie agter sukses aanhardloop nie – dit hou net vir ’n kort tydjie. Maar kies vir eer voor God en nie mense. Moenie jou eie beuel probeer blaas en jou eie eer soek nie. Streef daarna om God te eer en om ander met groot respek te behandel. Dan sal almal jou op hulle beurt as ’n eerbare mens behandel.

      Leef jy eervol? Of tel jy ook onder diegene wie se godsdiens net Sondae werk, terwyl jy die res van die week jou eie ding doen? Nou ja, stop dit sommer nou dadelik.

      Here, laat my in eer voor U en voor ander leef.

      23 MAART Lees Spreuke 23:1-8

      Moenie geld se slaaf wees nie

      Moet jou nie afsloof om ryk te word nie en moenie jou sin vir waardes verloor nie (4).

      Wat gebeur tans in jou lewe? Werk jy jouself flou om ’n goeie toekoms vir jou gesin te verseker? Al jou pogings gaan waarskynlik geen vrugte afwerp nie. As jy ’n werkverslaafde is, is jy tog al lankal ’n vreemdeling vir jou eie mense. Al wat dan nog tel, is werk en geld! En wat help dit as jy almal naby aan jou verloor het? Daar is geen waarborg dat geld kitsgeluk of sukses waarborg nie. In elk geval, as jy ’n geldslaaf is, sal geen hoeveelheid geld ooit genoeg vir jou wees nie.

      Dit is nie verkeerd om geld te maak nie, maar daar is fout as jy geld se slaaf word. Geld is ’n harde baas en uiteindelik beroof dit jou van jou gesondheid, jou vreugde, jou gesin en jouself … Hou daarom dadelik op om jouself so vir blink goed af te sloof. Jy gaan ’n hand vol wind vang as dit jou enigste ambisie in die lewe is. Boonop gaan jy God ook nog verloor. Dit is nie ydele woorde nie. Wil jy regtig alles verloor, net omdat geld en besittings jou baas is?

      Kies opnuut om saam met God te loop. Dan is jy op koers. Stel jou besittings in sy diens en jy sal altyd meer as genoeg hê.

      Here, leer my om nie ’n geldslaaf te wees nie.

      24 MAART Lees Spreuke 25:27-28

      Bly kalm, wees op jou plek!

      Om te veel heuning te eet, is nie goed nie, ook nie om eer te bly soek nie (27).

      Wanneer jy jouself trommeldik eet aan lekkernye, weet jy wat die gevolge gaan wees: ’n seer maag en ’n groot naarheid. Wel, wanneer jy te veel aandag soek en gedurig in die kollig wil wees, moet jy ook pyn te wagte wees. Jy gaan siek word vir jouself! Jy gaan te vol van jouself raak en dink jy is die middelpunt van die heelal terwyl jy inderwaarheid maar net ’n klein spikkeltjie iewers langs die kantlyn van die lewe is. Moet dus nie gedurig aandag soek en vis

Скачать книгу