Kry styl - Jesus s'n. Stephan Joubert

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kry styl - Jesus s'n - Stephan Joubert страница 6

Автор:
Серия:
Издательство:
Kry styl - Jesus s'n - Stephan Joubert

Скачать книгу

konsep stylvolle geloof wil iets anders kommunikeer as net nog ’n nuwe modieuse geloofspad. Dit gaan nie oor die gewildste terme, idees en dinge op die mark nie. Behalwe dat sulke paaie deur die tydgier aangedryf word, is dit papierdun wat inhoud betref. Stylvolle geloof, soos die term hier gebruik word, drentel nie blindelings agter die tydgees aan nie. Dit wil eerstens by Jesus inval. Jesus se styl is tydloos relevant, maar ook tydig relevant.

      Jesus, wat betyds in ons tydgleuf opgedaag het, se pad is nooit tydgebonde nie. Daarom pas ons nooit Jesus se ewige styl by ons s’n aan nie. Dit gebeur andersom. Ons val in by Jesus. Tydgiere, ideologieë, modes, tendense, en so meer, maak Jesus nooit oorbodig nie. Dit maak Hom nie werkloos of nutteloos nie. Jesus troon uit bo alle tye en alle style. Hy is aan die stuur van alles. Hy gee die pas en die styl aan.

      Ons gedagtes is te klein om die tydloosheid van Jesus te verstaan of in ons eie woorde vas te vang, want Hy is ewig. Van altyd af en ook nou, maar tot in ’n ewigheid anderkant die dood, is Jesus altyd op tyd, in tyd en betyds. Hy is ons Heer hier en nou en vir ewig. Jesus se styl is nooit irrelevant nie. Dit is elke keer, op elke plek en tussen alle mense, vars, nuut en tydig. Dit gee die pas aan. Jesus is tyd-bepaald en tyd-spesifiek, al is Hy self ewig en tydloos.

      Wanneer ons kies om te skuil in godsdienstige vlugtelingkampe ver weg van die lewe en meen sulke “veilige vestings” moet ons isoleer van die invloede van die wêreld, loop ons Jesus se styl mis. Dan kwyn ons weg in ons godsdienstige kwarantyn. Dan is ons irrelevant, uit pas en uit tyd. Want Jesus se pas vat ons altyd na sy gunsteling-mense toe. Ek praat van God se verlore kunswerke, sy wegloopskape. Jesus wil betyds by hulle opdaag met ’n beker hemelse water vir hulle dors en met hemelse brood vir hulle honger. Hy wil hulle wonde verbind. Hy wil saam met hulle kuier en hulle terugdra na die Vader se ruim huis toe. En ek en jy moet Hom dit nadoen. Ons is sy gestuurdes. Jesus se sending is presies ons sending. Daarom is dit broodnodig om Jesus se pad aan te leer. Dan beleef en deel ons ons geloof stylvol.

      Jesus se styl is altyd relevant, al is sy styl nie oral gewild nie

      The disciples of Jesus didn’t choose a subject or a syllabus, they chose a person.

      – Alison Morgan

      Om in te val by Jesus beteken nie ons val uit pas met die res van die lewe nie. Want Jesus is lewensrelevant. Die ware Jesus, bedoel ek, nie die godsdienstig getemde, makgemaakte Jesus-voorstellings wat so gewild is nie. Jesus se relevansie moenie met gewildheid verwar word nie. Jesus het nooit hand om die lyf met korrupte mense, celebrities en supersterre geloop toe Hy op aarde was nie. Nooit het Jesus langs die pad “doen gratis sonde met hemelse komplimente”-kaartjies uitgedeel nie.

      Ja, Jesus was beslis die vriend van sondaars, maar Hy was ook die redder van sondaars. Hulle was en is altyd meer as welkom in sy geselskap. Nogtans het Jesus altyd sy hart met hulle gedeel sodat hulle anders sou begin leef. Vir struikelendes en stukkendes was daar altyd ’n oorbegin en ’n voorbegin saam met die Man van Nasaret. Vanaf voltydse sondaars tot voltydse dissipels – dit was en dit is steeds die Jesus-roete. Só klink die magnetiese Jesus-styl wat ons op unieke maniere in ons tydgleuf op aarde behoort na te leef.

      Jesus deurbreek die stylloosheid van ons dag

      The only wisdom we can hope to acquire is the wisdom of humility: humility is endless.

      – TS Eliot

      ’n Onlangse voorbeeld van hoe die styl van godsdienstiges en van celebrities binne dieselfde situasie kan handuit ruk as dit nie met Jesus se styl deurdrenk is nie, is die gebeure by die begrafnis van die Amerikaanse sangeres Aretha Franklin in Augustus 2018. Dinge het vinnig skeefgeloop toe biskop Charles H Ellis III suggestief aan Ariana Grande geraak het, wat een van Franklin se liedere tydens ’n huldeblyk aan haar gesing het. ’n Twitterstorm het losgebreek oor Ellis se groping en die onsmaaklike grappie wat hy oor Grande gemaak het. Hy het gesê: “When I saw Ariana Grande on the program, I thought that was a new something at Taco Bell.” (Taco Bell is ’n kitskosgroep in die VSA.) Ellis moes ná die tyd om verskoning vra. Sy verskoning was maar flou en deurspek met selfverontskuldigings: “Maybe I crossed the border, maybe I was too friendly or familiar but again, I apologize.” Die ster van Luke Cage, Mike Colter, het toe ’n onsmaaklike tweet oor Ellis se aanraking van Grande die digitale wêreld ingestuur. Hy moes ook jammer sê.

      Asof hierdie komedie van foute nie reeds erg genoeg was nie, het die prediker Rev Jasper Williams jr losgetrek met ’n paar polities onsensitiewe opmerkings wat die familie van Aretha Franklin so ontstel het dat hulle hulle amptelik daarvan gedistansieer het.

      En moenie van Madonna vergeet nie. By die VMA-toekennings op 20 Augustus 2018 is hierdie popikoon gevra om aan Aretha Franklin hulde te bring, maar toe misbruik sy dit as ’n huldeblyk aan haarself. In haar tien minute lange toespraak het sy meer oor haarself as oor Franklin gepraat. Een kritikus het selfs opgemerk: “Aretha Franklin was a footnote in her own eulogy.” Madonna het haarself ná die tyd op Instagram verontskuldig deur te sê dat sy anekdotes uit haar eie loopbaan wou uitlig wat met Franklin se lewe verband gehou het.

      Hierdie chaotiese gebeure illustreer hoe dit in ons wêreld gaan as ons dink elke moontlike geleentheid en platform moet óns bevoordeel en óns beeld bou. Selfs godsdienstiges swig voor hierdie druk. Óns agenda, óns saak, óns gewildheid – dit is al wat tel.

      Hoe anders is Jesus se styl nie!

      Jesus se styl in vier woorde

      God eerste; ander eerste.

      Só klink Jesus se styl. Só gebeur Jesus se styl. Dit is waarvoor Hy aarde toe gekom het. Dit is ook vir wie Hy aarde toe gekom het. Nie net vir goeie ander nie. Jesus het die “ander” meestal op die ashope van die lewe raakgeloop. Jesus was en is steeds kleurblind, statusblind, geslagsblind, godsdiensblind. Hy sien net mense raak. Dis al. Nooit vra Jesus of iemand swart of wit, vrou of man, gay of straight, ryk of arm, Bloubul-ondersteuner of Shark-ondersteuner is nie.

      Jesus hou van mense, álle mense. Jesus weet mense is stukkend. Almal! Hy weet mense is ’n duisend dinge: Verlore. Vreemd. Godsdienstig. Ongelowig. Bygelowig. Vriendelik. Onleerbaar. Verdwaal. Gevind. Selfsugtig. Veroordelend. Oulik. Rassisties. Vreemd. Seksisties. Lojaal. Onbetroubaar. Wreed. Dienend. Narsissisties. Vergewensgesind. Behulpsaam. Genadig. Apaties. Vrolik. Depressief. Verbitterd. Gelukkig. Vroom. Stukkend. Heel. Soekend. Struikelend. Noem maar op. Vir al hierdie mense, en vir al die ander, sê Jesus dat Hy as die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe as losprys af te lê.

      In die woorde van Filippense 2:5-11 het Jesus sy ewige hemelse troon agtergelaat, sy koningsklere uitgetrek en mens geword om stukkende mense te soek en vind. Hy het sy hemelse heerlikheid verruil vir die nederige lewe van ’n slaaf van die hemel hier op aarde. Daarom kan Jesus opkyk na ons. Al dienend, al soekend … só het Hy ons kom opsoek. Só het Hy ons teruggedra na God se arms toe. En Jesus wil dit vandag steeds doen. Hy wil ons ook leer om dit agter Hom aan te doen. En al hoe ons dit kan regkry, is om sy styl van harte aan te leer.

      God eerste; ander eerste.

      Dít is nou ons leuse. Dit is Jesus se styl, en nou ook ons styl. Ons is hier vir Jesus en vir mekaar. Ons word nie gered net om te verander in die een of ander geestelike Ethan Hunt of Clark Kent wat die wêreld eiehandig moet gaan verower nie. Ons word nie verander om ’n Lone Ranger op geestelike steroïede te wees nie. Ons is hier vir God, en ons is hier vir mekaar.

      Tereg sê Alison Morgan in Following Jesus: The Plural of Disciple is Church (2015):

      For Jesus discipleship was not an individual process but a community one. His disciples didn’t choose a subject or a syllabus, they chose a person (or perhaps they were themselves chosen by him); and learned as individuals

Скачать книгу