Ontdek God in die stories van mense. Benescke Janse van Rensburg

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ontdek God in die stories van mense - Benescke Janse van Rensburg страница 6

Ontdek God in die stories van mense - Benescke Janse van Rensburg

Скачать книгу

“My God die Here, U is baie groot. U is die Koning en almal rondom U respekteer U en prys U. Daar is lig rondom U … U ry op die wolke, U loop op die vlerke van die wind. U kies die winde om u boodskappers te wees, die vuurvlamme is u werkers. U het die aarde op sy plek vasgesit, sodat dit nooit sal skud nie.”

      •Psalm 22:4: “U is tog die Heilige wat woon waar die lofsange van gelowiges weerklink!”

      •Psalm 33:16: “Dit is nie deur ’n groot leër dat ’n koning wen nie en nie deur groot krag dat ’n held behoue uitkom nie. Dit is die Here wat sorg vir dié wat Hom eer, vir dié wat op sy mag vertrou …”

      •Markus 9:23: “Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.”

      •Efesiërs 3:20-21: “Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe … deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.”

      Vrae om oor na te dink

      1.Wat beteken dit vir jou dat God oor BUITENGEWONE KRAG beskik?

      2.Lees weer die woorde in Psalm 22:4. Gaan jy volgende keer soos Cat en haar gemeente of Paulus en Silas begin om God in jou storm te loof en prys?

      3.Lees weer die woorde in Efesiërs 3:20. Wat gaan jou reaksie wees as jy soos Sofia met jou rug teen die muur staan?

      week 5 . dag 1

      Chirurg

      Jare lank het die 52-jarige Wally Katzke gerook, gedrink en ongesond geëet. In 2008 het hierdie ongesonde leefstyl hom egter ingehaal en ’n hartomleiding van twee uur (wat deur sowat twee miljoen Suid-Afrikaners regstreeks op SABC3 gevolg kon word) was sy lot.

      Twee dinge het uitgestaan in die onderhoud wat voor die operasie met Wally en die dokters gedoen is. Die eerste was Wally se eerlike opmerking: “ ’n Mens raak gewoond aan jou ongesonde leefstyl. Jy dink jy kan dit volhou, maar op ’n dag haal dit jou in en die gevolge daarvan tref jou geweldig hard.” Die tweede was ’n dokter se opmerking: “As Wally nege jaar tevore na die waarskuwings oor sy ongesonde leefstyl geluister het, sou hierdie operasie nie nodig gewees het nie.”

      Net soos ’n tuinier tydens die snoeiproses siek, onproduktiewe of onnodige dele van die plant wegsny, sny ’n chirurg tydens ’n operasie sekere liggaamlike disfunksies weg sodat die liggaam as ’n geheel beter kan funksioneer. In Wally se geval het hierdie operasie sy lewe gered.

      God is ons CHIRURG. In ons lewens sny God ook dinge weg as dit sal help dat ons meer vrugte sal dra. Net soos ’n chirurg tydens ’n operasie handskoene aantrek om die werk te doen, trek God ons soos handskoene aan deurdat Hy ons as sy instrumente gebruik waarmee Hy sy werk doen.

      Kyk na ’n foto van Wally by www.benescke.co.za

      week 5 . dag 2

      God, ons chirurg

      ’n Sandstorm het net voor sononder in die woestyn opgesteek waardeur die Arabier en sy kameel getrek het. Vinnig het die Arabier sy tent van die kameel se rug afgehaal en dit opgeslaan om te verhinder dat te veel sand in sy oë kom.

      Die Arabier het homself egter net in sy tent tuisgemaak toe die kameel sy snoet by die tent inwurm met die woorde: “Meester, asseblief, dit is baie koud en sanderig hier buite. Kan ek asseblief net my snoet hier binne-in die tent sit?” Die Arabier het die kameel jammer gekry en hom toegelaat terwyl hy weer aan die slaap geraak het.

      ’n Rukkie later het die Arabier wakker geskrik en gesien hoedat die kameel sy hele kop by die tent instoot. “Asseblief, Meneer, dit is baie koud hier buite. Ek wil net my kop hier binne sit.” Weer het die Arabier hom laat begaan en aan die slaap geraak.

      Die patroon het homself weer en weer herhaal. Eers het die kameel net sy snoet, toe sy kop, toe sy voorpote en later sy hele lyf in die Arabier se tent ingewikkel. Die tentjie was klein en beknop. Toe die Arabier sy oë uitvee, was hy buitekant die tent en die kameel snoesig in sy tent!

      Jy het ook daagliks ’n klomp kamele wat aan jou tent se deur kom klop. Kamele wat jou ook smeek om “net ’n neus” of “net ’n kop” by jou tent in te steek.

      Aanvanklik lyk enige kameel onskuldig en soos die Arabier, dink jy dat jy jou kameel kan beheer. Jy gee aandag aan daardie verbode verhouding en dink jy sal weet wanneer om dit te stop. Jy gaan dobbel, maar neem net ’n sekere bedrag saam. Wat jy eintlik doen, is om jou kameel ’n voet in die deur te gee.

      Dawid se kameel was die beeldskone Batseba in die bad. Deur nie sy kop weg te draai toe hy haar van die paleis se dak af gesien het nie, het hy die kameel se snoet in sy tent toegelaat. Toe hy aan sy wagte opdrag gee om die getroude vrou na hom te bring, het hy die kameel se kop in sy tent toegelaat. Toe hy met haar owerspel gepleeg het, sy swanger geword het en Dawid uit wanhoop haar man, Urija, in die voorste linies laat veg het waar hy sou sterf, het die kameel homself heeltemal in Dawid se tent ingewurm, terwyl hy alleen in die koue woestyn agtergelaat is.

      Luister na Dawid se berou hieroor in Psalm 51:3-6: “Wees my genadig, o God, in u troue liefde. Wis my oortredings uit in u groot barmhartigheid! Was my skoon van my skuld, reinig my van my sonde! Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in U oë.” Dan in vers 12: “Skep in my ’n rein hart, o God …” In vers 18-19 kom die belangrikste boodskap van Dawid: “ ’n Offer vra U nie … Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging: U sal ’n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God.”

      Dawid het verstaan dat God ons CHIRURG is. Vir Hom is ’n rein hart die belangrikste. Juis daarom sal Hy uit liefde die skalpel gebruik om iets uit ons harte weg te sny as Hy weet dat dit ons geestelike dood sal veroorsaak.

      Hebreërs 12:5b-6: “My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie, want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem.”

      God is ons CHIRURG. Hoe lyk jou geestelike hart voor Hom? Moenie soos die Arabier aan die slaap raak nie. Stoot die kameel betyds by jou tent uit!

      Vader God, baie dankie dat U my uit liefde sal dissiplineer om te verhoed dat ek later baie seerder kry. Help my asseblief om betyds enige ongewenste kamele in my lewe raak te sien en uit te stoot. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

      week 5 . dag 3

      God, ons chirurg

      Dit is die jaar 875 v.C. en ons staan op Karmelberg. Aan die een kant van die berg staan die Baälprofete. Aan die ander kant, die enigste oorlewende profeet van God, Elia. Op Elia se bevel het koning Agab die hele volk van Israel beveel om hierheen te kom. Vandag sal ’n waterskeiding in die volk se geloof wees. Maar waarom is hulle hier?

      Net soos sy voorgangers, het koning Agab die Israeliete toegelaat om afgode te begin dien. Hyself het so ver gegaan as om vir sy vrou, Isebel, ’n afgodstempel te bou. Isebel het op haar beurt begin om afgodprofete van Baäl en Asjera na Israel in te voer, terwyl sy God se profete uitgemoor het. Slegs Elia het oorgebly.

      Drie jaar tevore het Elia aangekondig dat God die reën en dou sal terughou omdat die volk gekies het om afgode te aanbid. In die drie jaar sedertdien het hongersnood die land getref. ’n Klomp mense het omgekom en uit desperaatheid het koning Agab die losprys vir Elia se kop al hoër bly maak. God het egter vir Elia deurentyd beskerm. Toe die tyd vir die draaipunt aanbreek, het God aan

Скачать книгу