Bruidzilla. Marion Erskine
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Bruidzilla - Marion Erskine страница 3
“Ek sien.” Tillie probeer om haar opgewondenheid ’n rapsie hoër te vat. “En toe, Milanks?”
“Toe wag daar ’n warmlugballon vir ons! Hoe romanties!”
“Dit is,” antwoord Tillie. Sy ís baie bly vir Milanka, want dis presies hoe haar vriendin van dinge hou. Groot en over the top. “En toe vra hy jou tydens die vlug?”
“Nee.” Milanka giggel. “Die ander ballonne was vol mense. By ons was dit net ek en Jacques en die vlieënier! Ons het soveel diere gesien. Kameelperde, sebras, ’n vlakvark met babatjies! Ag, noem dit, ons het dit gesien! Ons ballon het alleen onder ’n yslike kremetartboom geland en daar het sjampanje – die regte soort van Frankryk – en ’n heerlike ontbyt vir ons by ’n tafeltjie gewag!”
“Sjoe,” is al wat Tillie kan uitkry.
Daar is ’n harde klop aan die deur. “Tillie?” Dis Phatiswa.
“Coming!” roep sy.
“The old lady of the gazpacho wants to have your name so that she can complain to the management. I gave it to her,” roep Phatiswa binnetoe.
“Sure,” roep Tillie terug. Sy het niks minder verwag nie.
“Vriendin, luister jy?” kom Milanka se stem weer oor die selfoon. “Ek vertel jou die mees romantiese storie van my lewe en jy doen ander goed.”
“Ek wérk, Milanks.” Tillie wonder of Milanka agtergekom het dat haar sprokie van die toiletbak af aangehoor moet word. “My kollegas het my nodig.”
“Hulle kan wag.” Vir Milanka is dit die einde van die storie.
“Toe vra Jacques jou om te trou by die kremetartboom?” stuur Tillie die gesprek weer in die regte rigting.
“Nee!” Haar vriendin lag opgewonde, asof sy glad nie drie sekondes gelede haar gat gewip het nie.
“Nou wat toe?” Want natuurlik kan ’n sonsopkoms, ’n lugballon en “regte” sjampanje nie genoeg wees nie. Daar’s meer.
“Daar’s meer!” gil Milanka asof sy Tillie se gedagtes kon lees. “Toe kom ’n olifant aangestap. Jy weet hoe mal is ek oor olifante!”
“’n Olifant?” vra Tillie in ongeloof.
“Ja!” Milanka klink weer asof sy histeries raak. “Sommer mak, en in sy slurp het hy ’n boksie!”
Tillie kan nie glo wat sy hoor nie. “Was die verloofring in die boksie?”
“Ja, dit was! Maar vra my eers wie het op die olifant se rug gesit.”
“Iemand het op die olifant gesit en so na julle toe aangekom?” Dit begin vir Tillie na ’n Aprilgek-grappie klink.
“Ja! Raai wie? Ag, toe, raai!”
Tillie kan nie dink wie op aarde daardie tyd van die dag op ’n olifant se rug sou klim nie, en weet sy gaan verkeerd wees. “’n … e … ’n Dominee?”
“Ag nee, man,” sê Milanka, duidelik nie beïndruk met Tillie se verbeeldingsvermoë nie.
“Wie dan?”
“Bobby van Jaarsveld!” gil Milanka buite haarself. “Hy’t van die olifant afgeklim, my gegroet met ‘Goeiemôre, Milanka’ en in ’n spierwit pak klere – ek dink dit was Armani – by ’n wit klavier gaan sit.”
Nou klink dit soos ’n opmaakstorie. “Hoe het hulle die klavier daar onder die boom gekry?”
“Hoe moet ek weet?” Milanka klink half gekneus. “Moenie die beste dag van my lewe bederf met sulke tipe vrae nie, vriendin.”
“Jammer.”
“Anyhoo, toe sing Bobby ‘Net vir jou’,” vertel sy verder.
“En toe vra Jacques jou om te trou?” probeer Tillie weer. Hierdie storie kan nie getop word nie! Tensy ’n trop seekoeie nou om hulle gegalop en reënboë gepoep het.
“Nog nie! Onthou jy dat ek genoem het daar was ander mense in ander ballonne?”
“Ja, wat van hulle?”
“Wel, terwyl die son opgekom het oor die horison,” jubel Milanka, “het die ballonne vol mense om ons in die lug gedraai en hulle het saam met Bobby geharmonieer! ’n Flashmob-koor!”
“Ek kan dit nie glo nie,” sê Tillie, want sy kán dit wragtig nie glo nie. “En toe vra Jacques –”
“Amper!” keer Milanka. “Daar was ses ballonne. Een vir een het hulle banners laat sak, elkeen met ’n goue woord op. Milanka. Sal. Jy. Met. My. Trou?”
“Wow,” is al wat Tillie kan uitkry.
“En toe ek terugkyk na Jacques, staan hy op een knie en hou my ring uit en vra of ek syne sal wees solank ek leef.”
“En toe sê jy ja,” raai Tillie vir die eerste keer tydens die gesprek reg.
“Natuurlik!” gil Milanka. “En hulle het die olifant so mooi geleer. Toe ek ja sê, toe trompetter hy deur die hele Hoedspruit. Dit was perfek!”
“Ek … ek is so bly vir jou, vriendin,” sê Tillie, wat nou al amper voel asof sy tot in die toiletbak se water sak.
“Jy sal alles op Instagram sien!” verseker Milanka haar. “En natuurlik is jy my maid of honour!”
“Dit sal ’n eer wees. Baie dankie.”
“Ek en Jacques wil ’n paar goed met jou bespreek.” Milanka se stem het skielik die nodige gewigtigheid. “Werk jy Vrydag?”
“Tot ses, ja.”
“Fantasties,” sê die bride-to-be. “Ons tel jou dan by die werk op.”
“Kan ek net huis toe en my werksklere uittrek?” probeer Tillie.
“Nee,” smoor Milanka die gedagte net daar. “Dis belangrik en ons het nie tyd om te wag nie.”
“Goed dan.” Dit help nie sy stry nie.
Phatiswa klop hard aan die deur. “We need help, please! How long still?”
“Ek kom!” roep Tillie kwaai. Waar was Phats toe sý soos ’n afkophoender moes rondhol?
“Kyk na jou Instagram!” beveel Milanka. “En maak seker jy like elke foto! Repost as jy wil, maar ek weet mos jy sal wil!”
“Ek sal,” belowe Tillie.
“O ja, vriendin, ek wag nog dat jy die Abandoned Puppies se post moet share op Facebook. Ek vra jou al dae lank.”
Dit het weer by