Weerlose meganika. Anton Roodt
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Weerlose meganika - Anton Roodt страница
Tafelberg
Vir Kobus van Loggerenberg,
ontslape hoofleier van BOG
Geen wonder nie dat 16 Desember 1838 die geboortedag van die Afrikaner-volk genoem en as sodanig erken word. Was die slag bij Bloedrivier verloor, dan was dit, na die mens gesproke, ook uit en gedaan gewees met die Voortrekkers: al hulle werk was dan vernietig, al hul ideale verijdel.
– Populair-Wetenskaplike Leesboek (1920)
My eerste bruikbare foto wat ek op 16 Desember in die laer geneem het, was van die rollende mis wat deur die môreson weggebrand word. Toe Abraham later vir my die gewaste plaat bring, kon ek byna nie my oë glo nie: Teen die oggendgloed, in die warrelende mis, sien ek ’n afbeelding van drie vrouefigure wat lyk soos engele wat neerdaal uit die hemel.
– Uittreksel uit die memoires van Coenraad Snyman, By die Slag van Bloedrivier (1838)
DEEL 1
KLEEDREPETISIE
1
“Jirre, Justus, b-b-besef jy die implikasie van Snyman se f-f-foto?” Kolonel Rooipiet Moolman gryp die skouers vas van die man wat uitgesak in sy hempsmoue voor hom in sy kantoor sit en skud hom dat sy wangplooie tril. “Ons fees se boodskap van versoening is tot dusver deur mense verkondig, maar nou … nou bring die engele die annuns-s-siasie d-direk van God af! Perfek, Justus, perfek!” Justus se lyf laat hom aan ’n styfgepropte army-balsak vol vuil wasgoed dink. Die ene knoppe en bulte.
Piet tel die daguerreotipe met liggies bewende hande op en draai dit na die lig. Sy keel is kurkdroog. Die fotobeeld op die versilwerde koperplaat is van wolke waardeur enkele sonstrale breek, en in die voorgrond sweef ’n figuur – ’n vrou! Haar profiel donker en skerp afgeëts teen die wolke. Piet laat sak die koperplaat en skud sy kop in ongeloof; Justus Range vee met ’n mou oor sy mond en kyk verleë weg.
Piet lig weer die daguerreotipe en konsentreer nou stip op die vrou, op die hemelse kleed van voile wat om haar kartel, die “v” van haar lenige bene teen die verligte uitspansel, haar vlerke – ja, vlerke! – wat op die punte verdof, vermoedelik as gevolg van die beweging, maar dit kan ook die vreemde wolkformasies wees. Die engel het haar gesig weggedraai en bedek haar oë met haar linkerhand. Haar hare vloei soos wimpels dieprooi sy in die westewind. Met haar regterhand oopgesprei, sweef sy oor die slagting onder haar. Verder terug dein nog twee vae figure teen die lig, ook engele, en onder aan die rand van die foto kan die silhoeëtte van die waens duidelik geëien word. Piet kantel oopmond die koperplaat heen en weer en sien hoe die voorste engel van kleur verander; wat eers wit was, word swart. Dis die aard van die daguerreotipe, weet hy. Die plaat gee tegelyk die negatiewe en positiewe beeld van die foto weer.
Hy kan skaars glo dit is maar enkele minute gelede dat Justus Range huiwerig aan sy kantoordeur geklop het.
* * *
“So wat is dit wat jy daar in P-P-P-Pietermaritzburg raakgeloop het, Justus?” Piet het sy koerant laat sak en hom aangegluur. “Ek het jou whatsapp ge-k-kry.”
Justus waggel in en hou met neergeslane oë ’n hand vol papiere vas. Sy gebrek word erger, dink Piet. Hy is ’n karakter vol teenstrydighede, maar een wie se bydrae swaarder weeg as sy idiosinkrasieë.
Die dag toe hy vir sy werksonderhoud aangemeld het, was die paneel baie beïndruk met sy CV. Justus is ’n vermaarde historikus, hoewel hy soms met omstrede interpretasies vorendag kom wat hom al dikwels laat bots het met die geskiedenismense van die Combined National African University in Bloemfontein. Ten spyte van sy akademiese uitnemendheid het die paneel egter uiteindelik voorbehoude gehad. Piet het geweet dit gaan oor die KTS waaraan hy ly. Die Klippel-Trénaunay-sindroom veroorsaak abnormale groei van sagte en beenweefsel. Op daardie tydstip het Justus net effens mank geloop en kon Piet nie verstaan wat die paneel se probleem was nie. Hy het daarop aangedring dat die man as die Kulturama se navorsingshoof aangestel word, en hy het inderdaad mettertyd ’n belangrike bate vir die Kulturama geword. En hy weet dit. Hy stel meermale die tekste van die Kulturama se vele publikasies op en speel ’n belangrike rol in die jaarlikse Versoeningsfees. Dit is belangrik dat die direkteur nie daar buite gesien word as iemand wat te swaar steun op ondergeskiktes nie. Maar intern kry almal die lof wat hulle toekom. Hieroor het Piet geen twyfel nie.
Hy hou asem op, want hy weet nooit of die man se verspotte beentjies sy enorme buik gedra gaan kry nie. Justus is weliswaar heelwat langer as hy, maar goddank is hulle nie ewe breed nie. En hy wat Piet is, het darem nog al sy hare, al word sy bokbaardjie vinnig grys. Hy probeer sy maag intrek, maar besef oombliklik dat die effek nie die inspanning regverdig nie.
“Kolonel, ek’t hierdie tip gekry.” Justus Range praat altyd afgemete Afrikaans, met ’n onmiskenbare Engelse aksent. Sy van is Duits en het oorspronklik met “wange” gerym, maar die nageslag het volgens Boytjie Dames heeltemal verengels en nou rym dit met “change”. “’n Pellie van my van die ou dae by die museum in Durban het te hore gekom van ’n brief … a document with potentially staggering historical implications.” Justus sit die stapeltjie op Piet se oop koerant neer en gaan sit. “Blykbaar is die dokument in ’n ou brandkluis gevind wat die bank laat oopsny het nadat die sleutel soek geraak het. The letter, or should I rather say memoir, is glo geskryf deur iemand wat aan die Slag van Bloedrivier deelgeneem het.”
Piet kyk die navorsingshoof vraend aan. “So, d-d-dit is tog nie so vreemd nie?” brom hy. “Daar is ’n paar soortgelyke t-tekste.”
Range leun met sy hande oor sy buik vorentoe, sy oë soos skagtoringwiele. “Dalk so, kolonel, maar die skrywer, ene Coenraad Snyman … en luister bietjie hier, kolonel …” Hy vee met sy mou oor sy mond, kyk links en regs en hervat toe byna fluisterend sy relaas: “Kolonel, hy was ’n reus van oor die twee meter en … ’n fotograaf!”
“Wat?” Piet trek onthuts die stapeltjie nader.
“’n Fotograaf, kolonel, van alle dinge! U kan dit gaan naslaan in Wikipedia of selfs die amptelike rekords. Sy groot velbroek is blykbaar nou nog in die museum in Pietermaritzburg. In die memoir word vertel dat verskeie foto’s tydens die slag geneem is, maar slegs een koperplaat het saam met die brief oorgebly. Gerugte wil dit hê dat die vier-en-sestig, ek bedoel drie-en-sestig ander daguerreotipes wat Snyman by die slag afgeneem het, verdwyn het kort nadat die brief in die kluis ontdek is. Glo verkoop op die swartmark.”
“Fok, Justus! Jy bedoel daar is foto’s van die Slag van B-bloedrivier? Hierdie is ’n moerse storie! Waar’s die brief nou …?” Piet begin vaagweg die gevoel kry dat hier goddelike bestiering aan die werk is.
“Ek het dit namens die Kulturama by ’n derde party gekoop, kolonel – ’n anonieme private versamelaar. Ek moes deur sy prokureur werk en hoe ek ook al probeer het, kon ek nie uitvind wie die verkoper is nie. What I do know is that the seller was keen that we should have the document. Teen ’n prys, natuurlik.” Justus probeer sy oë ontwyk, maar Piet kyk hom stip aan. “Dis hoekom niemand hiervan weet nie. Some people believe that this type of document shouldn’t enter the public domain. Dis te gevaarlik. Maar die koop, die koop kan nie na ons getrace word nie. Ek het die kwitansie vir Saartjie gegee … dis vir ‘exhibition material’.”
“Ek hoop jy’s reg.” Piet is ongemaklik met die reëling, maar hy moet na die groter prentjie kyk. “Dit is ’n b-besliste oudit as die OG s-s-snuf in die neus kry … En die foto?”
Justus vou die vergeelde dokument versigtig oop en blaai na die laaste bladsy