Spoor. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Spoor - Deon Meyer страница 11
* * *
Om 10:14 op die Woensdagoggend van die tweede September hou die rooi Toyota Corolla met ’n Oos-Kaapse registrasienommer voor Chamberlainstraat 16A stil. Die huis is een van ses enkelverdieping-skakelhuise, elkeen ’n ander, helder kleur geverf. No. 16A is ’n onbeskryfbare pienkpers, met rooi op die punte van die twee pilaartjies langs die ewe rooi tuinhekkie. ’n Bruin man en vrou in hul dertigs klim langsaam uit die voertuig, strek, asof die reis lank en vermoeiend was, en loop na die rooi hekkie, gaan daarby in. Die jong man haal sleutels uit sy sak, sluit die voordeur oop. Al twee verdwyn in die huis, wat sedert die vorige dag leeg staan.
Amper ’n kwartier later hou ’n vragmotor voor die huis stil. Op die sypanele staan die legende: Afriworld Removals, Port Elizabeth.
Die bruin paartjie kom uit by die oop voordeur, groet die bestuurder, en beduie na die huis.
Van skuins oorkant, by die boonste venster van nommer 15, hou Baboo Rayan, “dogsbody” van die Supreme Committee, alles stip dop – die oopmaak van die vragmotor se deure, die indra van die eenvoudige, middelklas-meublement.
* * *
Tydens die laatmiddag-vergadering rapporteer Masilo aan Mentz dat die twee operateurs suksesvol gevestig is oorkant die huis van die Supreme Committee. (Masilo het die woord “agent” uit die PIA se leksikon verban. “Ons verkoop nie versekering nie,” was sy onwrikbare standpunt.) “Die operateurs sal vir die volgende week of twee ’n baie lae profiel handhaaf, mevrou. Hy sal môre begin werk by ’n motoronderdele-maatskappy in Victoriastraat. Sy gaan vir eers oënskynlik huisvrou speel en met foto-monitering van Chamberlainstraat 15 begin. Ons het die stem- en selfoon-waarnemingsapparaat in die meubels versteek. Hy sal vanaand opstel, ons behoort teen môre operasioneel te wees. Dan is dit nog net die vestiging van die elektro-akoestiese mikrofoon, maar dit sal ons eers kan doen as ons doodseker is van hulle bewegings …”
“Dit is goeie werk, Tau.”
“Dankie, mevrou.”
Sy kyk na Rajkumar. Sy weet die Indiër het goeie nuus. Hy sit sedert die begin van die vergadering met daardie selftevrede glimlag. “Raj?”
“Julius Shabangu, our crime kingpin in Jo’burg. We’ve obtained very interesting insights …”
Mentz lig haar wenkbroue.
“We’ve had two vehicles, disguised as private security patrols from the Eagle Eye company, in Shabangu’s neighbourhood for the past week,” sê Rajkumar en wag dat Janina Mentz die ironie en skerpsinnigheid moet waardeer.
Sy knik net haar kop.
“Anyway, they’ve been monitoring cell phone traffic. We’ve been processing a lot of data, and the good news is, we have two cell numbers that probably belong to him or his people …”
“Probably?”
“Madam, we have more than twenty houses in the block, and a lot of cellular traffic. But the calls in question correspond to the times Shabangu and his staff have been at home. We have now isolated them, and will eavesdrop as from tonight. But here’s the interesting thing. They’ve been talking to Harare. Two calls from two different cellular phones, to the same number in Zim.”
“My, my,” sê die advokaat.
“But we don’t know who the Harare number belongs to,” sê Mentz.
“We don’t have access to infrastructure in Zim. But we will now start listening to any future calls from those numbers …”
Mentz gee hom ’n volle glimlag. “Raj, that is good work.”
“I know,” sê die Indiër.
* * *
Fotostatiese rekord: Dagboek van Milla Strachan
Inskrywingsdatum: 2 September 2009
Gedaan. Moeg. Wat ’n dag. Nege ure van opleiding – rekenaargeletterdheid, internetvaardigheid, soektogprosedures, verslaggewing, skryfstyl, alles in een vertrek, voor een rekenaar, met vier verskillende, sieldodende instrukteurs.
* * *
Fotostatiese rekord: Dagboek van Milla Strachan
Inskrywingsdatum: 3 September 2009
Hoogtepunt van die dag: Ek sien vir die eerste keer die woorde “Die Ysterkoei Moet Wéét”. Dit stap stadig oor oom Theunie, my bleskop-kollega, se rekenaarskerm. Sy screen saver. Ek vra hom wat dit beteken. Hy glimlag en sê die direkteur het ’n bepaalde smagting na inligting …
Hy ruik na pyp, soos my pa.
9
(4 September 2009. Vrydag.)
Hulle sit in die Bizerca Bistro, die elegante swart advokaat, Tau Masilo, en die onkreukbare wit vrou, Janina Mentz, met koppe bymekaar soos minnaars. Hulle is ’n eiland van erns in die lighartigheid van middagete.
Masilo se stem is sag: “My bron sê óns minister se aanbeveling is dat ons met rus gelaat word in die samesmelting, maar daar’s van die ander kabinetslede wat verskil.”
“Wie?”
“Die Minister van Verdediging, blykbaar, en die Minister van Binnelandse Sake.”
Senior kabinetslede, weet Mentz. Sy verteer dié inligting voor sy vra: “Wie steun ons nog?”
“Die adjunkpresident.”
“En dis al?”
“U moet verstaan, die inligting is tweedehands, en ek vermoed daar is heelwat spekulasie. Maar die belangrike ding is, die president is nog nie seker of ons ingesluit is nie.”
Hulle eet in stilte, Masilo met sigbare genot. Hy sit eindelik sy mes en vurk neer. “Geen wonder die Minister van Finansies eet ook hier nie. Mevrou, mag ek ’n voorstel maak?” vra hy.
“Natuurlik, Tau.”
“Dit is nou die tyd om ’n ophef te maak. Om die president te oortuig …”
“Hoe?”
“Met wat ons het. Ek weet, ek weet, objektief beskou is dit nie veel nie. Maar ’n kort verslag, slim geskryf …”
“Dis gevaarlik.”
“Maar waarom?”
“Tau, hoeveel geloofwaardigheid gaan ons inboet as ons die Moslem-pot heeltemal missit?”