Spoor. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Spoor - Deon Meyer страница 6
Sy loop haastig uit die motorhuis na haar kar toe.
* * *
By die Palm Grove Centre in Durbanville se middedorp, met die bedoeling om iets vir middagete by Woolworths te koop, glip sy in by die eerste oop parkeerplek. Toe sy uitklim, sien sy die uithangbord van Arthur Murray se dansstudio. Sy kyk net vir ’n oomblik daarna; sy het al vergeet hulle is hier – nog ’n bewys van die waas waarin sy geleef het.
Met die inkom by die supermark ruik sy die blomme en kyk daarna, die helder kleure, asof sy dit vir die eerste keer sien. Sy dink aan die woorde in haar dagboek gisteraand. Hoe kry ek terug wie ek was, v.C.? (voor Christo)
Terug by die Renault kyk sy weer op na die uithangbord.
Dans. Christo wou nie dans nie. Nie eens op universiteit nie. Waarom het sy dit so gelate aanvaar, sy keuses, sy voorkeure? Sy het soveel genot daaruit geput, destyds, voor alles verander het.
Sy sluit die motor oop, klim in, sit die blomme en die plastieksak met middagete-bestanddele op die sitplek neer.
Sy is vry van Christo.
Sy klim uit, sluit die deur, en gaan soek die studio.
* * *
Op die dansbaan, in die helder lig wat deur die vensters stroom, is ’n man en vrou. Jonk. Hy is in ’n swart broek, wit hemp, swart onderbaadjie. Sy het ’n kort wynrooi rok aan, haar bene lank en mooi. ’n Tango uit die luidsprekers, hulle gly oor die houtvloer, so moeiteloos en behendig.
Milla staar, vasgevang deur die skoonheid daarvan, die vloei, die sinchronisasie, die sigbare genot. Sy is gevul met ’n skielike verlange – om iets só te kan doen, so vaardig, een ding wat mooi is waarin jy kan wegraak, waarin jy kan vóél en gee en ervaar.
As sy maar só kon dans. So vry.
Sy loop eindelik voor na die toonbank toe. ’n Vrou kyk op en glimlag.
“Ek wil kom leer,” sê Milla.
* * *
(7 Augustus 2009. Vrydag.)
Haar hare geknip en gekleur. Sy het met sorg aangetrek. Haar doelwit was informele professionaliteit, toevallige elegansie met die stewels, langbroek, swart trui en rooi serp. En nou, terwyl sy vir Die Vriendin wag in Media24 se koffiewinkel, is sy onseker – die grimering is te lig, die serp is te veel, sy lyk té formeel, sy lyk soos iemand wat té hard probeer.
Maar wanneer Die Vriendin haar verskyning maak, sê sy, “Milla! Jy lyk wonderlik!”
“Dink jy so?”
“Jy wéét jy’s mooi.”
Maar sy weet dit nie.
Die Vriendin het saam met haar gestudeer, byna twee dekades gelede, en die joernalistiek haar loopbaan gemaak. Die Vriendin, fynbesnede, is nou senior assistentredakteur van ’n bekende vrouetydskrif en praat dikwels in aksent- en uitroeptekens.
“Hoe gáán dit met jou?”
“Goed.” En dan met ’n sekere angstigheid: “Ek wil werk.”
“Jou boek skryf? Uitéindelik!”
“Ek soek joernalistieke werk …”
“Nee! Milla! Hoekom? Probleme?”
Sy weet sy kan nog nie oor alles praat nie. Daarom haal sy net haar skouers op en sê: “Barend het my nie meer by die huis nodig nie.”
“Milla! Nie slim nie. Jy’s die verkeerde kleur. Jy het nie erváring nie, jy het nie ’n CV nie, die honneursgraad help jou niks, nie op ons ouderdom nie. Jy gaan meeding met trosse jong, ambisieuse, hoogs gekwalifiseerde mense wat bereid is om vir niks te werk nie. Hulle ken die digitale media, Milla, hulle lééf daarin. En die ekonomie! Die media wurg! Weet jy hoeveel tydskrifte hulle toegemaak het? Poste gevries, gesny. Jy kon nie ’n slegter tyd gekies het nie. Sê vir Christo jy wil ’n boetiek begin. ’n Coffee shop. Joernalistiek? Vergeet dit!”
* * *
(9 Augustus 2009. Sondag.)
Sy sit op haar nuwe bank in die sitkamer. Voor haar op die koffietafel is die Careers-deel van die Sunday Times. Haar oë gaan angstig oor die media-advertensies – maatskappye wat soek na ’n eCommerce Operations Manager, ’n WordPress/PHP Developer, Web Developer en ’n Web Editor (internet/mobile experience ess) …
Die beklemming is nou weer sterker, die vertwyfeling, sy gaan dit nie maak nie, nie oorleef nie. Die Vriendin was reg. En Vrydagmiddag het ’n personeelagentskap-konsultant vir Milla dieselfde gesê, verskuil agter politieke korrektheid en korporatiewe eufemismes: Sy het nie ’n kans nie.
Sy wou dit nie aanvaar nie. Sy het eers die tydskrifte gebel, direk, die een ná die ander. Teen haar voorkeurlys afgewerk tot by die dagblaaie, Afrikaans en Engels. Daarna, teësinnig, die plaaslike, weeklikse poniekoerante. En eindelik, desperaat, die maatskappytydskrifte se uitgewers probeer naspeur.
Sonder sukses. Dieselfde boodskap: Hier is nie poste nie. Maar stuur jou CV.
Heel onder op ’n binneblad sien sy eindelik die klein blokkie: Journalist. Permanent position in Cape Town. Relevant experience preferred. Excellent research and writing skills required. Must relish team work. Tertiary qualification essential. Market related salary. Please call Mrs Nkosi. Apply before 31/08/09.
Dit is die “preferred” wat haar effens moed gee, sodat sy regop sit, die koerant só vou dat die advertensie duidelik sigbaar is, en die koppie rooibostee optel.
5
(11 Augustus 2009. Dinsdag.)
Om 12:55 stoot die bergie met sy linkerhand ’n winkeltrollie in Coronationstraat af, verby die ry motors voor die moskee. Hy slinger. In sy regterhand is ’n bottel, toegedraai in ’n bruinpapiersak.
Die straat is verlate, die eienaars van die motors is binne die moskee, vir die Dhuhr-biduur.
Langs ’n wit 1998 Hyundai Elantra struikel die bergie, en val. Hy hou die bottel omhoog, desperaat om dit nie te breek nie. Hy lê vir ’n oomblik, verdwaas. Hy probeer opstaan, maar kry dit nie reg nie. Hy skuif sy lyf, sodat sy kop onder die motor is, net langs die agterwiel, asof hy koelte soek. Dan trek hy die bottel ook onder die motor in, om ’n sluk te neem, maar sy hande is nie meer sigbaar nie. Hy lê ’n rukkie só, vroetelend, voor hy stadig weer uitskuif.
Hy sit die bottel eenkant op die teer, plaas sy hand op die soom van die wielvelling en probeer opstaan. Hy sukkel, sodat hy moet vervat aan die motor en met groot inspanning orent kom.
Hy vee denkbeeldige stof van sy gehawende klere af, tel die bottel op, steeds onvas op sy voete, reik na die trollie, en begin weer wankelend aanstap.
* * *
In die elektronika-kamer van die Presidensiële Intelligensie-agent-skap sit Rajhev Rajkumar by ’n rekenaaroperateur, terwyl Quinn, Stafhoof: Operasies, langs hulle staan. Al drie kyk stip na die rekenaarskerm