Spoor. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Spoor - Deon Meyer страница 2
“Barend,” sê sy verstom. Hy het al ontplof, hande in die lug gegooi, uitgestorm, hy het al ge-“jissis” en ge-“Here”, hy het al binnensmonds en lafhartig net buite hoorafstand die onnoembare gemompel. Maar nie nou nie. Nou beur sy bolyf oor die toonbank, nou is sy gesig vol veragting vir haar. “Jy maak my siek,” sê hy.
Sy krimp ineen, ervaar die aanval fisiek, sodat sy vashouplek moet kry, haar hand na die kas uitreik. Sy wil nie huil nie, maar die trane kom daar voor die stoof, met ’n houtlepel in die hand en die reuk van warm olyfolie in haar neus. Sy sê weer haar seun se naam, paaiend en sag.
Met venyn, met minagting, met die doel om ernstig te beseer, met sy pa se stem en infleksie en magsmisbruik sak Barend terug op die stoel en hy sê: “Jissis, jy is pateties. Geen wonder jou man fok rond nie.”
* * *
Die lid van die oorsigkomitee, glas in die een hand, wink vir Janina Mentz. Sy gaan staan, wag dat hy sy pad na haar toe navigeer. “Mevrou die Direkteur,” groet hy. En dan leun hy in, sy mond sameswerend naby haar oor: “Het jy gehoor?”
Hulle staan in die middel van die banketsaal tussen vierhonderd mense. Sy skud haar kop, verwag die gewone, die klein weeklikse skandaal.
“Die minister oorweeg ’n amalgamasie.”
“Watter minister?”
“Jóú minister.”
“ ’n Amalgamasie?”
“ ’n Superstruktuur. Julle, die Nasionale Intelligensie-agentskap, die Geheime Diens, almal. ’n Konsolidasie, ’n samevoeging. Algehele integrasie.”
Sy kyk na hom, na sy volmaangesig, blink met die gloed van alkohol, op soek na tekens van humor. Sy vind dit nie.
“Komaan,” sê sy. Hoe nugter is hy?
“Dis die gerug. Hardnekkig.”
“Hoeveelste glas is dit?”
“Janina, ek is doodernstig.”
Sy weet hy is ingelig, nog altyd betroubaar. Sy steek uit gewoonte haar kommer weg. “En sê die gerug wanneer?”
“Die aankondiging kom. Drie, vier weke. Maar dis nie die groot nuus nie.”
“O?”
“Die president wil vir Mo hê. As hoof.”
Sy kyk net fronsend na hom.
“Mo Shaik,” sê hy.
Sy lag, kort en skepties.
“Hardnekkig,” sê hy met groot erns.
Sy glimlag, wil hom uitvra oor sy bron, maar haar selfoon lui in die klein swart handsakkie. “Verskoon my,” sê sy, maak die handsak oop en haal die foon uit, sien dit is die advokaat.
“Tau?” antwoord sy.
“Ismail Mohammed is in uit die koue.”
* * *
Milla lê op haar sy in die donker, haar knieë opgetrek. Anderkant huil maak sy teësinnige, pynlike ontdekkings. Dit is asof die grys glas gebreek is, die getinte venster tussen haar en die werklikheid, sodat sy haar bestaan helder verlig sien, en sy kan nie wegkyk nie.
Wanneer sy haarself nie meer kan verduur nie, gaan soek sy skuiling in die vrae, in die terugloop. Hoe het sy tot hier gekom? Hoe het sy bewussyn verloor, so diep weggesink? Wanneer? Hoe het hierdie leuen, hierdie fantasiebestaan haar oorrompel? En elke antwoord bring groter vrees vir die onafwendbare, die vaste wete van wat sy moet doen. En daarvoor het sy nie die moed nie, nie die krag nie. Nie eens die woorde nie. Sy, wat nog altyd die woorde gehad het, in haar kop, in haar dagboek, vir alles.
Só lê sy, tot Christo inkom, halfeen in die nag.
Hy probeer nie gedemp wees nie. Sy onsekere voeteval is sag op die tapyt. Hy sit die badkamerlig aan, kom dan terug en gaan sit swaar op die bed.
Sy lê stil, met haar rug na hom toe, haar oë toe. Sy luister hoe hy sy skoene uittrek, eenkant gooi, opstaan en badkamer toe gaan, urineer, ’n wind laat.
Stort asseblief. Was jou sondes af.
Wasbakwater loop. Dan gaan die lig af en hy kom bed toe, klim in. Maak ’n geluid, moeg, tevrede.
Net voor hy die komberse oor hom trek, ruik sy hom. Die alkohol. Sigaarrook, sweet. En die ander, primitiewer reuk.
Dit is wanneer sy die moed kry.
2
(1 Augustus 2009. Saterdag.)
Transkripsie: Ondervraging van Ismail Mohammed deur A.J.M. Williams. Veilige huis, Tuine, Kaapstad.
Datum en tyd: 1 Augustus 2009, 17:52
M: Ek wil in die program ingaan, Williams. Soos in nóú.
W: Ek verstaan, Ismail, maar …
M: Niks van “maar” nie. Hierdie fokkers wou my doodskiet. Hulle gaan nie ophou met try nie.
W: Ontspan, Ismail. Sodra ons jou ge-debrief het …
M: How long is that going to take?
W: Hoe gouer jy kalmeer en met my praat, hoe gouer is dit klaar.
M: En dan sit julle my in witness protection?
W: Jy weet ons kyk na ons mense. Kom ons begin by die begin, Ismail. Hoe het dit gebeur?
M: Ek het hulle hoor praat …
W: Nee, hoe het hulle uitgevind jy werk vir ons?
M: Ek weet nie.
W: Jy moet darem ’n spesmaas hê.
M: Ek … Miskien het hulle my agtervolg …
W: Met die drop?
M: Miskien. Ek was versigtig. Met alles. Met die drop het ek drie switchbacks gedoen, twee keer op ander treine geklim, ma’ …
W: Ma’ wat?
M: Nee, ek … you know … Ná die drop … ek het gedink … I dunno … Miskien het ek vir iemand gesien. Ma’ agterna …
W: Een van hulle?
M: Dit kan wees. Maybe.
W: Hoekom het hulle jou verdink?
M: Hoe meen jy?
W: Kom ons veronderstel hulle het jou agtervolg. Daar moet tog ’n rede wees. Jy moes iets gedoen het. Te veel