'n Reënboog vir Aralie. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 'n Reënboog vir Aralie - Ettie Bierman страница 3

'n Reënboog vir Aralie - Ettie Bierman

Скачать книгу

hou? Saam met jou?” Sy kyk hom aan asof hy gesê het die maan is groen. Sy snork onelegant. “Jy kort ’n paar gloeilampies in jou boonste verdieping, broer.”

      Glad nie so vergesog nie, besef hy. ’n Vakansie saam is wat hulle twee nodig het. In die vier jaar wat hulle getroud was, was daar nie tyd vir uitspan nie. Albei het studieskuld gehad om af te betaal en hulle het saam ’n praktyk gekoop wat rugbrekende lang ure gekos het om op te bou. Elke ekstra sent is gebruik om toerusting vir die spreekkamer te koop. Hulle het op die rand van die broodlyn geleef – gespot dat selfs hul viervoetige pasiënte lekkerder eet en drink as hul dokters.

      Ralie het die druk beter as hy verwerk. Gelag oor hul huweliksherdenking wat met vleispasteie by kerslig gevier is, gelag oor die rooi koeldrank wat sy in duur trougeskenk-glase geskink het om soos rosé-wyn te lyk. Solank hulle sáám krepeer, het dit nie saak gemaak nie. Om van liefde en koue water te leef is romanties, het sy getroos.

      Maar mans is anders. Hý is anders. Om as broodwinner nie behoorlik vir sy vrou te kan sorg nie het sy ego geknou. Hy was gefrustreerd in die beknopte eenkamerwoonstel waarin hulle vasgedruk was. Moeg daarvoor om met haar pa se weggooi-plaasbakkie te ry en moedeloos gesukkel om hom elke oggend aan die brand te stoot. Daar was nie geld vir ’n nuwe battery nie. Nooit geld vir énigiets nie. Nie eens vir behoorlike hoesmedisyne daardie laaste winter toe hy brongitis gekry het nie. Die lewe het hom begin onderkry . . .

      Sy geestelike reserwes was op ’n laagtepunt en dit was vrugbare teelaarde vir ’n verleidelike blondine met ’n minirompie, ’n paar lieflike bene, ’n styfpassende toppie en ’n siek Pekinees . . .

      Sy wou nie die vrouelike veearts sien nie. Nie dokter Aralie van Dyk nie. Sy wou hóm sien, dokter Niel. Want haar vriendin het gesê hy is só goed. Só sjarmant. Die beste veearts in die hele Namibië.

      Natuurlik was hy gevlei. Watter normale man sou nie gewees het as daardie paar babablou oë so uitlokkend onderdeur haar wimpers vir hom loer terwyl sy die komplimente uitryg nie? Hy is mos nie ’n klip nie.

      Hy het geweet dis verkeerd en hy speel op die treinspoor. Maar haar ooglopende bewondering was balsem vir sy gekneusde ego; dit was die soort uitlaatklep wat hy nodig gehad het om te ontlaai. Die Pekinees het ’n chroniese swaminfeksie in die oor gehad, wat ’n reeks opvolgbesoeke genoodsaak het.

      Eers het hy en Marilee net gesels: ’n bietjie manmeisie-goed, maar voel-voel, half speels. Later oor die flieks op TV wat deesdae al meer gewaagd raak, oor die pas afgelope reeks vir volwassenes wat sy gevolg het, en oor haar man wat op ’n rekenaarkursus in Londen was. Oor hoe eensaam sy was en hoe senuweeagtig sy vrou-alleen was met al die inbrake in die omgewing.

      Dalk wil hy een aand kom tee drink? het sy uiteindelik voorgestel. En terselfdertyd na haar Persiese kat kyk wat lyk of sy ’n uitslag het. Sy wou Mitzi spreekkamer toe bring, maar sy raak kloustrofobies en weier om in ’n mandjie te klim. Die enigste uitweg sal wees dat hy by die huis na Mitzi kyk . . .

      Dit was so deursigtig soos môre heeldag, en hy het van beter geweet as om na haar huis te gaan. Maar hy het haar geselskap geniet, saamgespeel en ’n bietjie saamgeflirt. Niks ernstigs nie, sommerso met die linkerhand. Maar toe ruk dit handuit en dit word álbei hande – toevallig net toe Aralie by sy spreekkamer instap.

      Marilee het die gewoonte gehad om haar op die hoek van sy lessenaar tuis te maak terwyl hy besig was om die Pekinees se ore te behandel. Hy het iets in een van die lessenaarlaaie nodig gehad en het speels aan haar been gevat om dit weg te skuif sodat hy die laai kon bykom. Hy het nie gedink wat hy doen nie … Dit was suiwer manlike instink en ’n refleksbeweging wat gemaak het dat sy ander hand oor die soom van haar minirompie getalm het, dit effe hoër opgeskuif en oor haar bobeen gestreel het. Een ding het gelei na ’n ander. Asof sy hand ’n eie wil ontwikkel het, het dit ombeweeg na die sagte binnevleis van haar bobeen … Net toe Aralie instap.

      Sy het verstar in die deur vasgesteek, wasbleek, met starende oë. Haar mond het oopgegaan sonder dat ’n geluid uitgekom het.

      Marilee het gegiggel en doodluiters gesê: “Oepsie! Op heterdaad betrap …” Sy het dit seker nie so bedoel nie, maar haar woordkeuse het suggestief geklink en die situasie vererger. Aralie het omgevlieg, die deur toegeklap en by die voordeur uitgestorm.

      Hy het blitsig van Marilee en die Pekinees ontslae geraak, maar hy kon nie dadelik agter Aralie aanjaag nie, want die wagkamer het vol pasiënte gesit. Hy het probeer bel, maar haar selfoon was af. Teen die tyd dat hy eindelik by die woonstel aangekom het, was Aralie reeds weg. Haar tasse was weg en haar klerekas leeg. Sy het nie ’n briefie gelos nie, maar hy het geweet sy is na haar ouers toe.

      Hy sidder opnuut toe hy die nagmerrierit uit plaas toe herroep: die rammelende bakkie volspoed op die sinkplaatpad en al glyend op die sanderige draaie. Haar ma se geskokte gesig en haar pa se beskuldigende oë.

      En Aralie se aantygings toe sy eindelik, ná baie soebat en mooipraat, ingewillig het om uit haar kamer te kom en buite op die stoep met hom te praat. Hoe kón hy so iets doen? Die vernedering! Beteken hul huwelik dan niks vir hom nie? Sy sal daardie prentjie van hom met sy hand onder ’n ander vrou se klere in nooit uit haar geheue kan wis nie. Hom nooit ooit weer kan vertrou nie . . .

      Hy het volgehou dit was die heel eerste keer – eerlikwaar, hy sweer – en daar het niks gebeur nie. Dit was net die punt van sy vingers aan haar bobeen, skaars bokant haar knie. Totaal onskuldig … Toe dié woord uit is, het hy besef dit was ’n fout. Aralie was opnuut rasend.

      Onskúldig? Hy vry ’n ander vrou bo-op sy lessenaar en hy noem dit onskúldig? Wat dink hy van haar? Dat sy ’n onnosele, naïewe pampoen is? Hoe kan sy met ’n man getroud bly wat nie sy hande van ander vroue kan afhou nie? ’n Losbol en ’n rokjagter? Boonop nog ’n leuenaar ook . . .

      Hy het toegesmeer, probeer verduidelik en uit desperaatheid die skuld op Marilee gepak. Al wat dit bereik het, was om haar dunk van hom nóg laer te laat daal. Sy het gedink hy het ’n bietjie meer integriteit . . . Maar hy is nes alle ander mans – net een ding op die brein. ’n Oormaat testosteroon, en loop agter hul hormone aan . . .

      Hulle het buite op die stoep gepraat, waar daar ’n mate van privaatheid was, en hy het sy stem laag probeer hou. Maar Aralie was oorstuur en op die rand van histerie. Van agter die sitkamergordyne het hy kort-kort haar ma gewaar en haar pa van die voordeur af hoor keel skoonmaak. Hy was bang sy skoonouers meng in en jaag hom weg. Ten einde raad het hy sy toevlug geneem tot die beste manier wat hy in die verlede geleer het om vrede te maak. Hy het sy vrou nadergetrek, sy arms om haar gesit en haar gesoen.

      Dit het nie gewerk nie. Sy het hom weggestoot. Hy moenie met daardie selfde hande wat onder ’n ander vrou se rok in was aan haar raak nie! Sy gril vir hom, sy wil nie ’n rokjagter met losse sedes as die pa van haar kinders hê nie. Hy moet sy ry kry! Sy wil hom nooit weer sien nie.

      Niel weet hy was skuldig. Hy kon verstaan dat sy seergemaak was, maar hy het gehoop dat sy ná ’n tyd sou afkoel, bereid sou wees om kalm en logies die saak met hom te bespreek. Hy het hom misgis. In die tyd dat hy gedink het Aralie is geestelik sterk en sy verwerk die vermoeiende ure en finansiële druk beter as hy, was hy blykbaar verkeerd. Sy was snaarstyf gespanne en haar reserwes boomskraap. Sy het dit goed weggesteek, of hy het sy vrou nie regtig geken nie.

      Dit was asof sy oomblik van menslike swakheid haar oor die rand van ’n afgrond gestoot het. Uit die bloute het sy sy vorige meisies een vir een begin oprakel, en ’n insident uit hul studentedae toe hy tydens intervarsity ’n bietjie uitgehaak en eers die volgende oggend by sy koshuiskamer opgedaag het. En ’n ander keer toe hulle al verloof was en hy met die kelnerin by ’n pizzaplek ’n ding aangehad het . . .

      Ontkennings

Скачать книгу