'n Reënboog vir Aralie. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 'n Reënboog vir Aralie - Ettie Bierman страница 4

'n Reënboog vir Aralie - Ettie Bierman

Скачать книгу

om terug te trek woonstel toe of saam met hom te werk. Dit was die einde van hul huwelik; sy wou ’n egskeiding hê.

      So goedsmoeds … Hy kon dit nie glo nie en het aan bomskok gely. ’n Paar maande lank het hy ’n afgetrede veearts gekry om tydens spreekure te help, maar hy kon nie die praktyk alleen behartig nie en moes dit noodgedwonge verkoop, vir ’n appel en ’n ei.

      Dit was die einde van die pad, van hul droom van ’n man-vrou-vennootskap en sy laaste sprankie hoop om hul huwelik te red. Hy is weg Kenia toe, waar hy werk gekry het by ’n navorsingsentrum in Kisumu. Aralie het op die plaas aangebly en haar pa met die boerdery gehelp. ’n Tyd lank met boerboele geteel, en tussenin gelocum waar sy kon.

      Dit het nie met hom goed gegaan nie en ook nie met haar nie. Vir ’n jaar lank … Toe maak hy toevallig kontak met Franco Conradie en kom te hore van Balelapa. Skielik was dit nie meer laagwater op die strand nie. Die gety het ingekom en vir die eerste keer het hy weer hoop gehad. ’n Droom, ’n reënboog om na te jaag . . .

      2

      Niel vryf oor sy gesig, asof hy daarmee die troebel herinneringe aan die verlede kan uitwis. ’n Pyntrek keep diep groewe om sy mond en hy dwing sy gedagtes terug na sy gipsbeen wat in traksie is, na sy hospitaalbed en Aralie wat langs die bed staan, handsak oor die skouer en op die punt om weer uit sy lewe te stap.

      Sy is nou rustiger, sagter. Dalk meer ontvanklik en begrypend wat betref menslike swakhede. Hy het self ook sedert hul egskeiding met wroeging en selfverwyt ouer geword. Verantwoordelik geword, besef waar sy prioriteite lê en wat hy in die lewe wil hê: hy wil sy vrou terughê . . .

      Sy is vies omdat hy haar onder valse voorwendsels na die hospitaal gelok het. Dis te verstane, en hy het dit verwag. Maar iets in haar oë het nie saam geraas en baklei nie. Sy was bly om hom te sien en dit gee hom hoop.

      Hy reik na haar hand en hou dit stywer vas toe sy wegrem. “Dis wonderlik om jou weer te sien, Ralie,” fluister hy. “Ek het na jou verlang. Sonder jou is my lewe leeg, dobber ek doelloos heen en weer soos ’n kurkprop op die oop see.”

      Aralie is ongemaklik. Niel moenie só na haar kyk nie. Soos toe hulle nog getroud was nie – asof hy haar wil nadertrek. Sy onthou te goed hoe dit gevoel het in die beskermende kring van sy arms, haar kop teen sy skouer en haar mond na syne gelig …

      Sy maak sy vingers een vir een los en sit sy hand ferm terug op die grys-en-wit blokkiesdeken. “Moenie my Ralie noem nie,” sê sy, haar stem skerper as wat sy bedoel het.

      “Ek sal nie,” belowe hy. “Ek sal ook nie weer aan jou raak nie. Belowe-belowe … Maar asseblief, moenie weggaan nie. Sit nog vyf minute en luister met ’n oop gemoed na wat ek vra.”

      Teen haar sin besef Aralie dat sy na hom ook verlang het. Haar lewe was die afgelope jaar ook leeg. Niel was nie net haar man nie, maar ook haar beste vriend, simpatieke vennoot en klankbord wanneer sy moeg, bedruk of hartseer was oor ’n pasiënt wat sy nie kon red nie. Mens kan nie vier jaar van getroude lewe sommerso uitwis nie.

      Niel het gemaak dat sy haar respek vir hom verloor en ’n weersin in hom as man ontwikkel het. Sy kon hom nie naby haar verdra of weer ’n slaapkamer met hom deel nie. Maar noudat die prentjie van hom en Marilee Martins daar op sy lessenaar in die spreekkamer geleidelik vervaag het, onthou sy hoe lief sy vir hom was.

      Sy kan selfs daarin slaag om hom jammer te kry. Arme Niel het meer as sy deel gedoen om die druk van lang spreekure en die plaasbesoeke op slegte paaie vir haar te verlig. Dis hý wat moes sukkel om hul balansstaat elke einde van die maand te laat klop, hý wat moes spook om die lendelam yskas en rammelkasbakkie aan die gang te hou.

      Sy weet sy het hom baie keer afgeskeep, weggedraai wanneer hy toenadering gesoek het. Voorgegee sy slaap en is onbewus van sy arm om haar heup en sy hand wat liefkosend oor haar bobeen streel. Maar sy was eenvoudig te moeg, gedreineer ná ’n lang dag by die praktyk. Niel het nooit gekla dat hy verwaarloos voel nie. Maar dis te verstane dat hy in ’n oomblik van swakheid kon knak, kon toegee aan die versoeking wat so openlik vir hom aangebied is . . .

      Sy sug diep, swaai die handsak van haar skouer af en sleep weer die bankie onder die bed uit. “Goed, vyf minute. Praat, ek luister.”

      Sy het verwag die woorde sal uittuimel soos ’n agent wat ’n tyddeel wil verkoop, om die grootste moontlike impak in die kortste moontlike tyd te hê. Maar Niel lê nadenkend agteroor teen die kussings. Hy maak sy oë toe en probeer aan haar die prentjies oordra wat soos ’n tafereel deur sy geheue flits.

      “Balelapa se sonsondergange is ’n geskenk van Afrika. Van okergeel na appelkoospienk na viooltjiepers … Ek wens ek kon dit beskryf. Half wasig, met lugspieëlings oor die uitgestrekte wit panne, terwyl die sebras, gemsbokke en blouwildebeeste in ’n stofstreep aftou watergat toe. Daar’s kremetartbome en ’n kokerboomwoud, aalwyne en mopanies –”

      “Jy het oor die foon gesê die plek is in die boendoe, ’n gramadoelas in die middel van nêrens,” onderbreek sy hom. “Is daar darem ’n hotel of iets? Chalets of rondawels?”

      “Die rondawels is halfpad voltooi. Die reservaat is in aanbou en nog nie oop vir toeriste nie. Franco se eerste prioriteit is die wildkampe en rehabilitasiesentrum.”

      “En waar slaap die mense intussen?”

      “In woonwaens en tente.”

      “Dit klink bra primitief. Is dit net ’n klomp mans, of is daar darem vroue by?”

      “Daar is ’n hele konstruksiespan, bestaande uit bouers, verwers, landmeters en allerhande tegniese ouens. Baie van hulle is getroud, seker met kinders ook.”

      “Watse geriewe het hulle? Darem behoorlike badkamers?”

      “Die hoofablusieblok is nog nie klaar nie. Volgens die bouplanne lyk dit ultra-luuks, met ’n sauna en jacuzzi. ’n Span is ook aan die werk om ’n swembad uit te grawe, dis net grond en klip waar jy kyk. ’n Groot rots moes met dinamiet uitgeskiet word om ’n holte vir ’n rotspoel en waterval te vorm. Volgende week kom ’n landskapargitek om die tuine uit te lê – alles natuurlik inheems, met ’n lapa waar saans ’n spitbraai aangebied sal word.”

      Aralie is teen haar sin beïndruk, maar dit beantwoord nie haar vrae nie. “En intussen: wat eet en drink die werkers en waar kry hulle voorrade?”

      Niel het daarop staatgemaak dat Aralie platsak is. Die feit dat sy uitvra, bring ’n mate van optimisme. Sy skiet Balelapa darem nie summier af nie. Dalk willig sy in om hom uit te help …

      “Daar is voorsiening gemaak vir ’n restaurant en ’n soewenierwinkel wat aandenkings en inheemse kunswerke –”

      “Niel!” val Aralie hom ongeduldig in die rede. “Hou op om soos ’n advertensiebrosjure te klink. Ek gaan nie met ’n sak vol geld daar vakansie hou nie. As ek my dálk ’n gat in die kop laat praat en in ’n seniele oomblik inwillig om jou kastaiings uit die vuur te krap, sal dit wees om te gaan wérk. Daarom wil ek weet wat om te verwag. Hoe ver is hierdie boendoes van ’n dorp af?”

      “Nege en dertig kilometer,” antwoord hy en hoop sy vra nie verder uit nie.

      “Van wátter dorp af?” dring sy aan.

      “Otjikavi.”

      “Met ’n geroeste sinkafdak waar hulle brood en tsammas verkoop?”

      “Was

Скачать книгу