'n Vrou gaan dokter toe. Ray Kluun

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 'n Vrou gaan dokter toe - Ray Kluun страница 7

'n Vrou gaan dokter toe - Ray Kluun

Скачать книгу

maar ook dít is nie moontlik nie. Dit sal nie met u akkordeer nie. U bloedtoets wys dat u estrogeenreseptore negatief is. U tumorselle sal nie op hormone reageer nie. Maar die slegste is dat dit uit die biopsie blyk …” – nou maar toe, laat dit maar kom – “… dat die tumor diffuus is en dat dit dus sekerlik al in die bloedvate is, en nou ja, dan weet u …”

      Nee, ek weet nie, want ek het kunsvakke op skool gehad, en hoe vreemd dit ook al is, het daar tot onlangs volle dae verbygegaan dat ek nie aan kanker gedink het nie. Omdat ook Carmen ’n uitdrukking het wat wys dat sy dit nie geweet het nie, gaan Schoeman voort, net soos ’n nuusleseres van Jeugjoernaal wat verduidelik waarom grootmense oorlog maak.

      “Kyk, dit werk so. Bloedliggaampies gaan deur die hele liggaam. En u kankerselle dus ook. Die tumormerkers in u bloed dui nou nog nie op gevaar nie, maar dit is tog waarskynlik dat daar al selle deur u liggaam versprei het.”

      Ek en Carmen kyk mekaar lank swygend aan. Ek vryf met my duim oor haar hand. Ook Schoeman swyg. ’n Ruk.

      “As ons nou niks doen nie, is ek bang dat daar nog maar enkele maande oor is. Hoogstens ’n jaar.”

      Die opmerking is niks meer nie as ’n logiese gevolg van al die voorafgaande inligting, maar dit voel soos ’n mokerhou. Nou is dit gesê. Dit is nou hoe dit is. ’n Vrou gaan dokter toe en hoor sy het nog maar ’n paar maande oor om te leef. Carmen begin bewe, sit haar hand oor haar mond en begin met rukkende skouers huil. My maag trek saam. Ek sit my arm om haar, my ander hand op hare.

      “Dit klink erg, ek weet,” sê Schoeman kortaf. Ons antwoord nie. Sit met ons arms om mekaar. Carmen huilend, ek verdwaas.

      “En nou?” vra ek ná ’n ruk.

      “Ek stel voor dat so vinnig moontlik met chemoterapie begin word,” hervat Schoeman die gesprek, sigbaar verlig dat sy weer oor tegniese dinge kan praat. “Verkieslik dié week nog.”

      Chemoterapie. Die woord kom nou al ’n paar minute lank aan, maar dit val tog nog soos ’n byl. Chemoterapie. Lees: kaalkop. Lees: dodelik siek. Lees: almal-weet-dat-dit-fokkol-help-maar-ons-moet-tog-iets-probeer-doen.

      Schoeman vervolg: “Chemoterapie gaan deur u hele liggaam, en ons het dus daarmee die grootste kans om die kanker aan te val.”

      “En bestraling?” vra ek. Carmen kyk ook vinnig op. Ja, bestraling, dit doen hulle tog ook dikwels, sien ek haar hoopvol dink. Op die een of ander manier klink bestraling minder erg as chemoterapie.

      Schoeman skud haar kop. Dom vraag.

      “Bestraling het net ’n lokale uitwerking. Net op die bors dus. En ons moet nou probeer om die kanker uit die liggaam te kry, en daarom is chemoterapie die beste,” sê sy, ooglopend geïrriteer omdat sy dit nou net reeds verduidelik het.

      “Kan u ons so ’n bietjie meer van chemoterapie vertel?” hoor ek myself vra, so asof ek navraag doen oor die GPS in die nuwe Audi A4.

      Schoeman flikker op. Dit lyk selfs asof sy opgetoë is omdat sy eindelik iets oor haar gunsteling-speelding kan sê. Ons kry ’n spoedkursus in chemoterapie. Die beginsel lyk eenvoudig. Jou liggaam kry ’n moerse skok, sodat die kankerselle nog ’n groter skok kan kry. Die kankerselle gaan dan mal, soos ’n elftal sonder ’n generaal in die middelveld. Dit kan dan selfs deur bene groei, sê Schoeman vol bewondering as sy ’n wyle deur haar entoesiasme meegevoer word. Maar daarom is hulle ook gevoeliger vir ’n aanval as die gesonde selle in die liggaam. Helaas is alle selle wat vinnig verdeel ook maklike teikens. “Byvoorbeeld u hare, mevrou Van Dyk, u sal wel ’n probleem met haarverlies hê.”

      Schoeman kom nou lekker op dreef. “Ek dink dat ’n SAF-behandeling die beste vir u is. SAF staan vir siklofosfamied, adriamisien en 5-FU …” – ons knik, asof ons snap waaroor die stomme mens dit het – “… en ’n middel wat die naarheid teenwerk wat deur die chemoterapie veroorsaak word …” – ons knik weer – “… Sommige mense gooi egter steeds ’n paar dae daarna op. Maar om dit te verhoed, kry u medisyne wat u ná elke toediening kan sluk, as dit nodig is …” – ons verval stadigaan in ’n staat van emosionele ontbinding – “… daarom eet die meeste mense minder. Die kombinasie van naarheid en ’n gebrek aan smaak is natuurlik nie bevorderlik vir die eetlus nie … Verder is daar ’n kans op diarree. As dit langer as twee dae aanhou, moet u gou kontak maak …” – asof sy oor ’n lekplek in ’n wasmasjien praat – “… en dan kan u mondslymvlies ook ontsteek en kan u menstruasie onreëlmatig word of verdwyn. Ten slotte moet u baie goed oppas dat u nie koors kry nie. Dan moet u dadelik bel, al is dit in die middel van die nag.”

      Ek wil dit nie meer hoor nie, ek wil niks meer hoor nie. Carmen het al by die woord “haarverlies” afgeskakel. Maar Schoeman gaan maar net aan.

      “Tja, en dan kan dit wees dat die kankerselle nie op die SAF reageer nie. Maar die kans daarvoor is maar vyf-en-twintig persent.”

      “En dan?”

      “Dan stel ons ’n ander behandeling op die proef.”

      “O.”

      “Maar dit is nie ons uitgangspunt nie.”

      “Nee.”

      “Wat ek nog vir u het, is die volgende,” sê sy en bring ’n geel pamfletjie uit haar lessenaarlaai te voorskyn. “As u wil, kan u gebruik maak van die psigoterapeut hier in die Lucas-hospitaal. Sy spesialiseer in die berading van pasiënte met kanker.”

      Carmen kyk vinnig na die pamflet en sê ons sal dit waarskynlik wel doen. Nou ja. As ons nou eenmaal kanker in ons lewe verwelkom, laat ons dit dan maar goed doen, die hele kaboedel.

      Ek kyk na ons nota met al die vrae. Schoeman merk dit op en kyk op haar horlosie. Ek sien daar is nog ’n vraag, een wat nou nie juis die atmosfeer sal verbeter nie.

      “Is dit nie beter dat my vrou in die Antoni van Leeuwenhoek-hospitaal behandel word nie? Daar spesialiseer hulle tog in die behandeling van kanker?”

      Schoeman reageer soos Louis van Gaal[6] op ’n nuuskonferensie.

      “Dit het absoluut geen sin nie. Ons pleeg met elke pasiënt oorleg met die Antoni van Leeuwenhoek. Ons praat elke week met mekaar en dan word die lêers bespreek.”

      Ek kyk na Carmen. Sy knik vinnig dat dit goed is so. Sy wil nie skoor soek met die dokter wat haar gaan behandel nie. Ek besluit om dit nie op die spits te dryf nie. Ek kyk nog ’n keer na ons notas. Nou gaan dit lekker.

      “Laaste vraag. Is hulle in Amerika nie ’n ent voor Europa nie?”

      Schoeman kyk my aan asof ek ’n skoolseun is wat dit gewaag het om onder die juffrou se rok in te loer.

      “Ek bedoel, ’m … nie dat ek aan u kundigheid twyfel nie,” voeg ek vinnig by, al twyfel ek wel daaraan, maar ek moet tog iets sê om nie uit die klas gejaag te word nie, “maar ons wil nou eenmaal die beste vir my vrou hê, verstaan u?”

      Schoeman verstaan my nie, sien ek aan haar blik wat geen twyfel laat nie dat sy tot in haar siel gekrenk voel. Sy sug en begin met ’n ysige stemtoon praat.

      “Alle inligting oor kanker wat beskikbaar is, alle mediese navorsing wat gepubliseer word, lees ons ook, meneer Van Dyk. Wat môre in Chicago of Los Angeles ontdek word, kom ons ook dieselfde dag te wete. En sedert die bestaan van die internet is alles heeltemal in die ope. Enigeen kan dit onder oë kry. U vrou

Скачать книгу