'n Vrou gaan dokter toe. Ray Kluun

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 'n Vrou gaan dokter toe - Ray Kluun страница 9

'n Vrou gaan dokter toe - Ray Kluun

Скачать книгу

klein skatjie …” Ek druk die drukknopies van haar kruipbroekie vas. Ek tel haar op, neem haar stewig in my arms en terwyl die trane oor my wange loop, staar ek by die venster uit. Ek kan dit steeds nie kleinkry nie. Ons is ses-en-dertig, het ’n skat van ’n dogter, elkeen sy eie firma, ons lewe soos God in Amsterdam, het hope vriende, doen net wat by ons opkom, en nou sit ons op Koninginnedag die helfte van die oggend oor niks anders as kanker en praat nie.

      Nadat ek Frenk (wat vra of ons regtig nie lus is om vandag saam te gaan nie, maar Carmen skop vas) weggesien het, voel ek nog ellendiger. Carmen het my vanoggend al laat verstaan dat sy nie in die stemming is om vanmiddag êrens in ’n housemusiek-massa te staan nie. Uiteraard begryp ek dit, maar noudat die vooruitsig van nog ’n hele middag tuis sit en treur wel heel konkreet word, word ek byna gek. Om Steyn van ’n paartie weg te hou, is nog erger as om Luna se dummy van haar weg te neem. Des te meer nou. Ek wil hier wegkom, ek wil my aan drank oorgee, ek wil paartie, ek wil allesbehalwe verder oor kanker sit en praat.

      Ek sug demonstratief toe ek weer by die kombuistafel kom sit.

      “Jy hoef nie so hard te probeer om gatvol te lyk nie,” snou Carmen. “Ek kan nie help ek het kanker nie.”

      “Nee, ek ook nie,” sê ek nydig.

      13

      I want to run, I want to hide, I want to tear down the walls, that hold me inside …

      U2, “Where the Streets Have No Name” (The Joshua Tree, 1987)

      ’n Uur later kan ek dit nie meer hou nie. Carmen sit maar net en blaai deur haar VT Women, en ek is seker sy het g’n benul wat sy lees nie.

      “Nee, my bliksem, wat de fok doen ons hier by die huis?!” roep ek skielik.

      Sy kyk my aan, op die punt om te begin grens. Nou, dáárvoor is ek lus, huilbui nommer soveel van die laaste vier-en-twintig uur. Ek dwing myself om rustig te word, loop na haar toe en gryp haar vas. “Skat, ek dink dis baie beter as ons iets gaan doen. Hier rig ons tog niks uit nie. Om met Luna na die Vondelpark te gaan, is ten minste iets.”

      Sy vee haar trane af. “Oukei … Dit is miskien tog beter, ja …”

      Vondelpark is op Koninginnedag vol kinders uit Amsterdam-Suid, die stad se jappiebuurt. Selfs die talente wat hier ten toon gestel word, is pure Amsterdam-Suid. Twee knapies wat klink asof hulle vir die nasionale kinderkoor sing, verkoop selfgemaakte Oranjetaart. Ek het as kind nooit ’n koek gebak nie en kan my ook nie voorstel dat een van my vriendjies uit Breda-Noord dit sou gedoen het nie. ’n Kind met ’n veels te ernstige gesig vir haar ouderdom – “As ek so ’n kind sou kry, sou ek ’n nageboorte-aborsie oorweeg,” sê Carmen – dra gedigte voor. Wie maak sy kind so groot? Poësie is soos simfoniese rock, soos ’n 4-3-3-sokkerformasie, soos om na ’n Chinese restaurant te gaan. Benewens my eertydse Nederlands-onderwyser en die resensent van Het Parool ken ek niemand wat nog gedigte lees nie. Ek en Carmen word al hoe gatvoller vir die kinders wat staan en voordra, viool speel, goël, irriteer en deur hul trotse ouers dopgehou word. ’n Meisie met ’n poniestert en ’n oranje rokkie laat ons hoor wat sy in haar vioolles geleer het. “Ek gaan kry Luna eerder by die polisiestasie as by vioollesse,” fluister ek in Carmen se oor. Sy begin proes. Die ma van die kind met die oranje rokkie dink nie ons is oulik nie.

      “Dit was tog nie te sleg nie, nè?” vra ek toe ons met Luna op my nek in Cornelis Schuytstraat na die bushalte in De Lairesstraat loop.

      Carmen gee my ’n soen op my wang en knipoog.

      14

      Het is weer voorbij die mooie zomer, die zomer die begon zowat in mei, je dacht dat er geen einde aan zou komen, maar voor je het weet is heel die zomer alweer lang voorbij …

      Gerard Cox, uit “Het is weer voorbij die mooie zomer” (Het beste van Gerard Cox, 1973)

      Oor drie maande is die somer en die chemo-behandeling verby en is Carmen kaalkop. In die motor onderweg na die Lucas-hospitaal dink ek aan alles wat ek hierdie somer maar kan vergeet. ’n Sondaguitstappie na Bloemendaal? Asof Carmen daarvan sal hou as sy een van die dae bles is. Vir ons plan om met Hemelvaart New York toe te gaan, kan ons ook maar koebaai sê as die chemo binnekort in haar lyf kom nes maak. Dinsdagaande se sokker in die park? Forget it. Dan sal ek by die huis moet wees om Luna kos te gee en in die bed te kry, omdat Carmen kotsend in die bed lê. En om vir Frenk of Maud te vra om te kom en daarna self te gaan sokker speel …

      En dan het ek nog nie eens begin dink aan ons lewe ná die somer nie, ná die chemo’s. Wat die komende maande op ons wag, is reeds moeilik hanteerbaar; laat staan nog wat daarna kom. Dit is soos Ajax-Juventus in die ArenA in die era ná Louis van Gaal. Rustyd al 0-2 en dan lê daar nog drie helftes voor.[8]

      Toe ons op die ringpad ry, begin dit motreën. Lekker. Wat my betref, kan dit maar hierdie somer ys. Ek sit die radio af. Edwin Evers is vandag net te vrolik vir my. Ek druk die CD-knop. Michael Stipe sing ons moet vasbyt as die dag lank word, ons moet vasbyt as ons seker weet dat ons nie verder kan in die lewe nie, as alles verkeerd loop. Ons is stil, albei. Carmen sit ook en luister. Sy vee ’n traan af. Ek druk haar been hard. No, no, no, you’re not alone. Hold on. Hold on. Carmen sit haar hand op myne. Hold on. Hold on.[9] “Pfoe,” sug Carmen toe die liedjie verby is.

      Ons loop by Schoeman se spreekkamer verby na die einde van die gang. Eers bloed trek. Waarom weet ek nie meer nie. Iets te doen met witbloedliggaampies. Of rooies. Carmen se bloed word getrek, sy kry ’n wattetjie om op die merkie te hou en dan gaan ons weer in die gang af. Wag. Wat ek die paar weke in die hospitaal geleer het, is dat wag die allergewoonste ding ter wêreld is. Die tyd wat op die afspraakkaartjie staan, is niks meer nie as ’n “vanaf”-tyd. De Volkskrant, wat ek in die winkeltjie in die voorportaal van die hospitaal gekoop het, het ek ’n kwartier gelede al deurgelees. Daar lê nog ’n Voetbal International tussen die Story’s en Margrieten in die gang, het ek nou net gesien, maar ek weet lankal wat verlede jaar se uitslag van Nederland-Argentinië in die WK in Frankryk was. Uiteindelik word ons na Schoeman binne geroep. Sy is sowaar opgewek.

      “So, vandag pak ons hom, nè,” sê sy soos ’n Padvinder-leidster wat met haar span verkennertjies aan die voet van ’n heuwel in die Ardenne staan.

      Carmen se bloed is in orde. Die behandeling kan voortgaan. Ons kan nou maar na die chemo-saal op die derde verdieping gaan, sê sy.

      Hier was ek nog nooit nie, maar iets sê my dat om die chemo-behandeling mee te maak nie lekker is nie. Ek het Carmen beloof ek sal elke keer saamgaan. Sy was opgebeur en het gesê sy dink dis lief van my om dit te wil doen. Nou ja, wil, wil, het ek gedink, die enigste ding wat ek minder graag sou wil hê, is dat Carmen alleen daarheen moet gaan. Ek kan my nie voorstel dat daar iemand is wat graag saam na ’n chemo-behandeling wil gaan nie.

      Ek blyk dan ook reg te wees. Die meeste van die partners van die chemopasiënte het tuis gebly, is werk toe, of op enige ander plek behalwe by die chemo-saal.

      Toe ons by die chemo-saal inkom, gaan ’n nuwe wêreld vir ons oop. Dit is nie ’n gewone hospitaalsaal nie, nee, hier is baie duidelik ’n poging aangewend om huislikheid te skep. By die venster is ’n tafel met twee teepotte, ’n klomp koppies en ’n bord met snye ontbytkoek. Die helfte van die snytjies het botter op, die ander helfte

Скачать книгу