Woud van nege en negentig vlerke. Carina Stander
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Woud van nege en negentig vlerke - Carina Stander страница 2
elke lomperik wat weet
die sagte stok in die stroom was ’n slang
(’n drenkeling wou haar keel
met haar eie tong afsny
maar ook sy is bevry
uit die vrot long van die graf)
in die sproeireën van Sy glimlag
wou ek ’n blou vraag waag:
het Jy lief
het ’n wolk water
’n vlinder met verweerde vlerk
het op my ringvinger gerus
toe die ganse afgrond galm:
Ek is die groot Ek Is
boodskappe van Bo
Giant Forest, Kalifornië
sneeu sif in fynskrif tussen my vingers
sneeu knars ’n kode onder my stewels
sneeu skreeu geluidloos oor ’n waterval
oral wit gedigte op wit papier
hier waar prêriewolwe nader draf
en eekhorings mekaar verjaag
deur ’n botstil eikewoud
– die takke flambojante frille
van ’n sigeunerrok –
is spore die stemme van diere
toe ek die sequoiareus
se bruin groefstam braille,
val vlokkies soos bloeisels
uit dié mensverlate katedraal
slierte waai in sinne van Bo –
brandwarm fluisterings, plofsag
elke verhaal begin met dié woorde:
’n Vreemdeling se houtbeen
maak malse merke in die sneeu
oral wit gedigte op wit papier
kruisbestuiwing
paasfees broei die druifpers vlinders
weer in die wingerde
tyd vir kruisbestuiwing:
die boom groei ín die vrug
jare terug het Sy wonde
glo boordensvol gebloei
’n woord uit die deurboorde mond:
in U hande gee Ek my gees
’n skreeu of sug?
’n oesgedig?
in U hande gee Ek my gees:
’n ou Hebreeuse wiegelied
wat die dood uit die dood wou sus
sienkrag
vroegwinter het sy op die see
van swanger sienkrag gevaar
die noorkapper se neus
was ’n koel spuitgat
waar sy rol en plons en spring
om ’n kalf in Augustus
in die lewe te bring
vasgespoel op die strand
was die reuserugstring
van ’n walviskoei
die vrou was bang om geboorte te skenk
op die aarde: ’n brose hemelliggaam
laatwinter het ’n Heilige Visser
die branders om haar laat bedaar
dáágliks, het Hy aan die vrou gefluister,
word die mens herdoop
in vrugwater en Hoop
om as onsterflike te loop
op ’n deursigtige planeet
dit mag jy van ewigheid tot amen
nooit vergeet
Vlam onder die water
25/12
sy onthou ’n Asem oor haar wang
in die windstil namiddag
wanneer sy die Ritseling hoor
en voel hoe ’n reuse-Waterlelie
diep in haar rypsagte buik ontluik
verstaan sy geen tyding of taal
slegs dat ’n Blom bestuif is
en sal dryf in ’n verslete stal
dié nag skiet ’n Saad uit haar hande
reg deur die heelal se helder spiraal
en êrens is ’n kleurmal skare
al die engele en diere
oral saam in één verhaal
die moedermaagd se krip
is meteens slykloos spieëlblink
sodat sy kan drink kan drink
uit die Vlam onder die water
wat haar stil na binne wink
Hy wandel in die aandwind
Amatola
’n boomslagter het ’n woud gevel
hoor hoe kraak die takke se gewrigte
hoe versilwer die varings soos baarde
asof