Vier seisoene kind. Wilna Adriaanse

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Vier seisoene kind - Wilna Adriaanse страница 3

Vier seisoene kind - Wilna Adriaanse

Скачать книгу

ma is oorlede toe ek dertien was en ek weet nie eers of ek ’n goeie ma sal wees nie, maar ek het tog gedink eendag sal ek dalk wil kinders hê. Is jy ’n goeie pa?”

      “Wat is ’n goeie pa?”

      “Ek weet nie,” sê sy skouerophalend. “Na my ma se dood was my pa vir ’n tyd baie stil en byna eenkant, maar hy het tog reggekry om my en my broer te versorg en mettertyd het dit beter geword en op ’n dag het hy weer iemand gevind en hulle is getroud. Dit was nie altyd vir my lekker nie, want dit het gevoel of hy net weer begin mens word, toe bring hy ’n vreemde vrou huis toe.” Sy kyk buitentoe. “Vandag het ek groter begrip. Hy moes baie eensaam gewees het.”

      “Kinders kan nooit ouers se emosies verstaan nie. Wanneer jy ’n ouer word, moet jy daarmee vrede maak dat jy in die oë van jou kind ’n byna geslaglose wese gaan wees. ’n Voorsiener, ’n trooster, ’n bewaarder.”

      “Het jy en jou vrou ’n goeie sekslewe gehad? Toe die woorde uit is, voel sy hoe sy warm word. Die skemerte verlei haar tot vreemde intimiteite. “Ek is jammer. Neil kon nooit verstaan waarom ek so dikwels nié dink voor ek praat nie. Dit het tog met die jare verbeter, maar sedert sy dood is dit of ek stadig maar seker begin teruggly en ek kry myself nie gekeer nie. Soos jy kan hoor.”

      “Ja, dit was nie die rede waarom ons geskei is nie.”

      Sy skud haar kop. “Vergeet dat ek dit gevra het. Ek het geen begeerte om nou oor seks te praat nie.”

      “Sou jou man skaam vir jou gewees het as hy gehoor het wat jy my vra?”

      “Skaam is seker nie die regte woord nie. Hy het net gevoel ek kan soms meer taktvol wees. Volgens hom behoort ’n mens met die ouderdom beheer oor jou tong te kry.”

      “Waarom het jy met hom getrou?”

      Cato kyk verras na hom. “Jy het nou ’n heel verkeerde indruk gekry.”

      “Ek het geen indruk nie. Dis sommer net nog ’n vraag … om die nagure om te kry.”

      “Om een of ander rede het ek gedink as ek ooit eendag trou, sal dit met ’n half malle wees, heel waarskynlik ’n kunstenaar agter wie ek my lewe lank sal moet pendel, want geen regdenkende man sal vir my kans sien nie. En toe kom hierdie briljante, mooi man verby en hy wil met my trou. Ek dink ek kan dit tot vandag nie glo nie, en dis dalk waarom ek nie te veel kan kerm en kla omdat hy van my af weggeneem is nie. Iemand soos ek verdien nie so ’n mens nie.”

      “Dink jy nie dis gevaarlik om iemand op so ’n hoë voetstuk te plaas nie? Die kanse is goed dat hy of sy in een of ander stadium daar gaan afval en dan sit jy met Humpty Dumpty. Of nog erger, jy voel jou hele lewe lank minderwaardig.”

      “Is dit die indruk wat ek skep? Dat ek minderwaardig teenoor hom voel?”

      “Nogal, ja.”

      Cato maak patroontjies in haar notaboek.

      “Jy wil tog ook nie met iemand trou vir wie jy geen bewondering het nie.”

      Hy hou sy hande op. “Jy hoef nie jou huwelik te probeer verdedig nie. Dit was sommer net ’n opmerking.”

      Sy kyk weer deur die venstertjie en voel hoe die verlatenheid soos ’n tweede vel aan haar kleef. Sy herken die gevoel. Dis soos ’n rok wat jy reeds vantevore gedra het en gesweer het jy nooit weer sal aantrek nie.

      “Jy was ’n baie geduldige gyselaar, dankie. Maar nou sal ek jou loslaat. Ek hoop jy slaap lekker.” Sy draai weg van hom af op haar sy.

      Op die punt van die vlerk flikker ’n rooi liggie ritmies. Soos ’n polsslag. Miskien is dit die hart van die vliegtuig, en solank daar ’n hartklop is, is dit seker ’n teken van lewe. Gedurende daardie eerste weke het sy dikwels met haar hand op haar hart gelê asof sy versekering nodig gehad het dat sy nog leef. Hoe weet ’n mens in elk geval dat jy leef? Kan dit nie maar alles net ’n droom wees nie? Miskien is dit sý wat dood is en Neil is springlewendig in hulle woonstel. Sy maak haar mond oop om die vraag hardop te vra, maar bedink haar. Genoeg is genoeg. Sy skuif haarself reg en maak haar oë toe. Dit was ’n lang dag, ’n lang week en ’n eindelose drie maande. Sy kan voel hoe haar gedagtes verward na paaie soek en sy maak haar oë toe. Miskien, net miskien, lê sy langs hom in hulle bed wanneer sy wakker word.

      2

      Cato sluk die laaste bietjie koffie en voel hoe die kafeïen haar bloed vind. Oral om haar is mense besig om wakker te word en op en af na die toilette te loop.

      Haar buurman is nie in sy sitplek nie en sy vermoed hy het gevlug. Dan sien sy hom in die paadjie afgestap kom en sy weet skielik aan wie hy haar herinner. Johnny Depp met grys slape. Die manier waarop die hoeke van sy donker oë effens afwaarts trek. Hy is nie uitermate lank nie, maar ook nie kort nie. Op ’n vreemde, aweregse manier aantreklik. Nie maer nie, maar ook nie oorgewig nie. Hy lyk gemaklik in sy eie vel. Min vroue sal met soveel gemak tussen mense deurstap, selfs al is almal vreemdes. Een terloopse blik ontketen ’n magdom onsekerhede in die meeste vroue. Twee mense steek hul hande uit en hy skud dit en gesels ’n paar woorde.

      Sy hempsmoue is effens opgerol en Cato staar na die swart armhaartjies. ’n Man se arms is sensueel. Selfs vir ’n weduwee.

      “Jy is Jacob Alheit,” sê Cato meteens hardop toe hy weer langs haar inskuif. “Ek is jammer, ek kan nie glo ek het jou nie herken nie.”

      “Ek sal dit oorleef.”

      “Jy was in Nederland en België vir ’n paar vertonings. Ek het foto’s en ’n berig daarvan op die internet gesien. Dis waarom jy gisteraand vir my bekend gelyk het. Jy moes my gesê het.”

      “Wat sou jy wou doen as jy geweet het?”

      “Dalk nie al my binnegoed uitgeryg het nie.”

      “Dit het ten minste die pad korter gemaak.”

      “Ter versagting kan ek jou dalk net daaraan herinner dat jý die gesprek begin het, nie ek nie.”

      “Jy sou ook as jy so ’n vreemde inskrywing op ’n to do-lys gelees het.”

      “Ons het jou vorige konsert in Londen bygewoon en ek dink ons het al jou CD’s.” Sy skud haar kop. “Ek verstaan nie dat ek jou nie herken het nie.”

      Hy beduie na die venster agter haar. “Afrika begroet jou met ’n helder sonsopkoms.”

      Cato draai haar kop om uit te kyk. “Ek het gehoop vir iets bietjie meer dramaties. Nou sal daar eendag in my memoirs staan sy het op ’n doodgewone Donderdag teruggekeer. Nie eens met die sekelmaan nie, sommer net stilweg soos dit ’n vrome weduwee betaam. Geen stormwind om haar terugkeer aan te kondig nie. Nie ’n sonsverduistering in sig nie. Onaangekondig en onbelangrik.”

      “Dit kon erger gewees het.”

      Sy kyk na hom. “Is dít jou lewensfilosofie? Dit kon erger gewees het?”

      “Ek is te oud om filosofieë te hê, dis sommer net ’n feit. Jy kon na maande op see vandag met skeurbuik in die Kaap aangekom het, as ’n mail order bride.”

      Cato kan nie help om te lag nie. “Ten minste het sy vooruitsigte gehad.”

      “Jy kan dit sê

Скачать книгу