Vlinder teen die ruit. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Vlinder teen die ruit - Ettie Bierman страница 5

Vlinder teen die ruit - Ettie Bierman

Скачать книгу

Watse soort naam is dit?”

      “Dis ’n afkorting van Surita.”

      “Het sy genoeg geld?”

      Hendro lyk verward. “Ek weet nie. Onderwysers kry seker redelike salarisse.”

      “Dis nie wat ek bedoel nie. Kinders is ’n lopende uitgawe. Dis ’n reuse taak om ’n baba groot te maak; jy kan nie verwag sy moet boonop nog al die onkostes self betaal nie. As die pa is jy vir die onderhoud verantwoordelik. Indien jy geld kortkom, kan ek ’n voorskot op jou salaris reël.”

      Hendro lyk ongemaklik. “Ek sal dit waardeer. Ek het nie só daaraan gedink nie.”

      Vanwaar hierdie skielike beheptheid met sy skoonsuster? dink hy. Suri kom reg, sy het nog nooit gekla nie.

      “In die haak. Dis te verstane, want jy het te veel ander dinge gehad om aan te dink.” Douw maak aanstaltes voordeur toe. “Onthou: As jy wil praat of my nodig het, Hendro, jy het my nommer by die kantoor en by die huis. Bel met vrymoedigheid. Ek sal môremiddag weer ’n draai maak met die tjek en die vorms. Sterkte!”

      “Dankie.”

      Hendro wend ’n halfhartige poging aan om regop te kom om saam te stap deur toe, maar voor hy sover kan kom, hoor hy ’n motordeur klap, gevolg deur die dreuning van Douw se viertrek. Hy sug en laat sy kop in sy hande sak.

      3

      Dis hoe Suri hom kry toe sy ’n ruk later in die sitkamer kom: vooroor geboë, hangskouers en grysbleek gesig in sy hande gedruk. Sy het nie raad nie. Gaan sit net langs hom en vryf oor sy arm om te sê sy is daar vir hom en hy is nie alleen in sy hartseer nie.

      “… my skuld,” sukkel Hendro dit uit.

      “Dit was ’n ongeluk, boet, dit was nie jou skuld nie.”

      “Ek het te vinnig gery.”

      “Dit was ’n oop pad en jy is ’n goeie bestuurder. Dit was laat, en julle was haastig. So iets kon met enigiemand gebeur het.”

      “Ek het nie van die storm en die rotsstorting geweet nie. Ek het gebriek en probeer uitswaai, maar dit was te laat. Die regtervoorwiel het die klippe getref …”

      “Die band het gebars. Niemand blameer jou dat jy beheer verloor het nie.”

      “Ek het nie gedrink nie, ek sweer. Twee biere die hele aand, dis al. Irene het geslaap, maar ek moes gekyk het … gesorg het dat haar gordel vas is. Sy moes dit een of ander tyd in die ry losgemaak het, toe sy wou slaap.”

      “Dit was so bestem. Aanvaar dit en moenie jouself verwyt nie. Put jou troos uit die wonderkindjie wat aan julle geskenk is om groot te maak. Moenie jou blind staar teen jou eie verlies en haar verstoot nie, want sy het haar pa nodig, nou meer as ooit. En jy vir háár – ’n hulpelose klein mensie wat aan jou toevertrou is en jou ’n doel gee om voor te lewe, ’n rede om soggens op te staan …”

      Suri hou aan praat en bemoedig, hopend êrens vind iets wat sy sê inslag.

      “Ek is nie ’n alleenmens nie.” ’n Siddering trek deur Hendro. “Hoe kan ek aangaan sonder haar?”

      “Een dag op ’n slag. Een tree op ’n keer. Moenie te veel of te ver vooruit dink nie.”

      “Almal wat ek liefhet, word van my weggeneem – my ma, my broer wat ek skaars geken het, en nou my vrou. Almal weg. En ek is weer sielsalleen …”

      “Nee.” Suri neem sy koue hand in hare. “Jy is nie alleen nie. Ek is hier vir jou, boetie. Ek en jou dogter, plus ’n oupa en ouma. Jou familie … Jy hét ’n familie wat omgee, wat vir jou lief is.”

      Sy vingers klem om hare. “Bly hier, moenie my alleen los in hierdie museum vol herinneringe nie. Ek is bang vir myself en vir die depressie …”

      Bedoel hy hier, by hom in die huis? Tot môre of tot wanneer toe? Suri weet nie hoe om te reageer nie.

      “Ek sal op die bank slaap, ek sal nie aan jou raak nie. Môre sal ek meer moed hê. Maar net om te weet ek is nie vanaand alleen nie?” pleit hy.

      Hoe kan sy weier? Hendro lyk minder verward as vroeër, maar as hy iets oorkom, sal dit op haar gewete rus. “Ek moet vroeg môreoggend vir Nessa gaan oopsluit,” skerm sy. “En vóór skool die breekgoed by die kerksaal gaan aflaai.”

      “Ek werk nie môre nie, maar ek belowe om jou ligdag wakker te maak. Ek slaap sleg en sal maar te dankbaar wees vir iemand om mee te praat. Seblief, sus?”

      “Ek het nie ’n tandeborsel of pajamas of iets by my nie …”

      Die oomblik toe die woorde uit is, hou Suri asem op. Asseblief, hy moenie sê sy moet van Irene se goed gebruik nie. Asseblief, gee dat hy sensitief genoeg is …

      Hulle oë ontmoet en sy weet Hendro het dieselfde gedagte as sy gehad. Hy kyk anderpad en probeer ’n grappie maak. “Jy kan van my pajamas leen, ons knip net die moue en die broekspype af.”

      “En stik hulle môre weer aanmekaar?” speel Suri saam.

      Die begrafnis was traumaties, en sy is self ook vanaand bang vir die herinneringe. Hendro is darem nie ’n wildvreemde nie. Hy is soos ’n broer, en Irene sou wou gehad het sy moet na hom omsien. Hier is genoeg babadoeke, kos en frokkies vir Maja. Sy het haar netnou afgespons en warm toegemaak. Vanmiddag se koel Augustuswind waai sterker en sy is bang die kleintjie kry verkoue as sy haar in die aandlug uitneem.

      Suri oorweeg wat Wilma en tant Raal sal sê, en besluit sy gee nie om nie. Hulle sal in elk geval skinder, wat sy ook al doen.

      “Goed, ek sal bly. As jy ons vroeg môreoggend woonstel toe kan neem, sal ek met Franciska reël om my daar te kom oplaai. Dan kan jy die breekgoed terugneem, my motor die res van die dag gebruik en my vieruur die middag weer by die skool kom oplaai.”

      Hendro soen haar op die wang. “Jy’s ’n engellief. Dankie, ook vir die baab se versorging en al jou ander opofferings. Ek skuld jou big time.”

      Suri staan op en vryf oor sy songebleikte hare wat oor sy kraag krul. Sy gaan gooi die asbak uit, maak ’n pot vol sterk koffie en neem vir hom van die toebroodjies en frikkadelle wat oorgebly het.

      “Jy sal beter voel as jy iets geëet het. Kos is ook ’n soort troos.”

      Hy neem ’n hap en kou nadenkend. “Is dít hoekom daar soveel vet mense op aarde is? Almal wat gevoel het soos ek en jy vandag voel?”

      “Ja, en hoekom daar berge kos by die begrafnis was – genoeg vir jou vir ’n week, van mense wat saamvoel.”

      “Pak vir jou daarvan in. Ek het min eetlus, en dan kan jy op kruideniersware spaar. Jy het seker baie uitgawes met die baab, die op en af ryery, my wasgoed, die huis en so aan.”

      Suri is verbaas. Dis nie dat hy ondankbaar of selfsugtig is nie, maar dis die eerste keer dat sy ’n praktiese kant van Hendro sien. Hy is soos Irene – ’n kunstenaarsiel, vir wie alledaagse realiteite soos geld, kruideniersware of brandstof onbelangrik is. Die werk by Suidkus-radio is net ’n vuller, sodat hy hom aan sy eerste liefde kan wy: sy beeldhouwerk. As hy met sy hamers

Скачать книгу