Staan in die algemeen nader aan vensters. Loftus Marais
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Staan in die algemeen nader aan vensters - Loftus Marais страница 2
1) uitweiding oor jou oë – jou broer het gesê dis die kleur
van aangeslaande kastrolle
2) uitweiding oor jou lippe – droog, dalk soos krakies in
voosgewasde breekgoed?
3) uitweiding oor die littekens op jou bene – die liefde
sny tot op die been
maar
altyd
áltyd
die (h)oop einde
enigiets kan in die volgende versreël gebeur,
Strandromanse
en asof in ’n raam stap hul saam:
saam die paartjie op die strand, hand aan hand
met skitterende son en see en sand
en bamboeskrulle aan die linkerkant
o! o! die liefde is ’n ligte bries!
en sproei! en ook voetspore (nie te diep)
met een hand hou hy haar hand vas
met die ander krap hy (ongemerk) in sy lies
skielik ruk die bamboes woes en sien
hul die swart swaar lyf wat
brul soos wind en skuim soos
seep terwyl dit met tentakels hul
takel en hul gillend die stil see insleep.
Met M se vertrek na Londen
dis volmaan maar
laat my die nag beplak met rhinestones
en alles sal ek taai maak met country songs
en hoere op straathoeke met enorme wolke blonde hare
só moet die aand lyk waarop jy vertrek
goedkoop en shiny
sodat niemand daaroor kan tjank nie
jou vliegtuig rol oor die aanloopbaan soos ’n glitterball
en ek sug en suig die siel uit ’n sigaret uit
en skop die leë coke-blikkie wat voor my lê
ek sweer my sweet is soet en my bloed dik
soos ek hier staan
radarskottels wuif soos die krom handjies van koninginne
in die terminal drom die hallo-en-koebaai-junkies saam
ek vuis my hande langs my sye
my hart, skatlam, is lipstickrooi, vol helium
en hang in ’n giftshop duskant gate 12
ek lag vir die jagse moffies wat jou gaan bedien
gedagtes aan
voëls ingesuig in enjins
aan terroriste en hijackers en human error
en sommer net in die algemeen: boeings wat nuuswaardig
neerstort
sus my effens soos jou vliegtuig wegsuis
en net nog ’n rhinestone word daar bo
Biologieles
dus die volgende aangaande die liefde:
eerstens, dit is ingelê in vloeistowwe wat bietjies-bietjies borrel
gal, maagsap, alle soorte ensieme
dit ken geensins die cheapness van bloed
en, godbehoed, trane nie
tweedens, dit sit in die murg
of ten minste in die rou aansteeklike dinge van die longe
wat swel en teen ribbekaste druk
onthou, derdens, het dit min te make
met die hardkoppige hart wat aanhou ruk.
egter ’n laaste beeld as waarskuwing:
die skerwe van gebroke harte
is nes dié van porseleinkitsch en light bulbs:
hulle kerf fyn en diep die voetsole in
Die anatomie van M
jou lyf onthou ek stuk-stuk, nie as geheel
polaroid close-ups kan ek onthou
dis moeilik om jou lyf lewend te verbeel
grofheid van ’n elmboog, skag van jou keel
weer probeer ek als soos ’n winkelpop herbou
jou lyf onthou ek stuk-stuk, nie as geheel
alles afsonderlik in lede verdeel
droë tong, polsriffels, heup waaraan ek klou
dis moeilik om jou lyf lewend te verbeel
drie simmetriese moesies met ’n vinger gestreel
my oor wat jou hartklop tussen borshare hoor
jou lyf onthou ek stuk-stuk, nie as geheel
blink litteken, grys oë effens skeel
ek het jou heel gehou, maar nou verloor
dis moeilik om jou lyf lewend te verbeel
en die dele wat ek nie met die leser kan deel
word bloot as pornography gesigloos gestoor
jou lyf onthou ek stuk-stuk, nie as geheel
dis moeilik om jou lyf lewend te verbeel
Ode aan Sarah se voete
o, sarah se voete dirigeer op die maat van mozart
soos sy sit op die muur van die opelugteater
hierdie voete, effe stink,