God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles. George Claassen

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles - George Claassen страница

Автор:
Серия:
Издательство:
God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles - George Claassen

Скачать книгу

>

      

      God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles

      George Claassen en Frits Gaum

      Tafelberg

      Glo my, vlieg moet jy vlieg

      FRITS GAUM

      Vroeg in 2011 het George Claassen aan my geskryf: “Ek glo nie in God nie, maar dis vir my nogal verbasend hoe sommige gelowiges soos jy en ander teologie-mense ons tog verdra! . . . Het jy al daaraan gedink dat ons twee miskien as redakteurs ’n boek kan saamstel met essays waarin besin word oor die bestaan van God en wat dit beteken om gelowig of ateïsties te wees?”

      Ek het geantwoord: “Ek dink die idee van ’n boek waaraan ’n paar mense op uitnodiging deelneem, is uitstekend. Ek meen so ’n ‘gesprek’ waarin ons almal eerlik (maar steeds ook beleefd . . . ek sou sê Christelik!) moet wees, is as deel van die bestaande Afrikaanse diskoers oor hierdie dinge noodsaaklik.”

      Só is hierdie boek gebore. Ná ’n bietjie heen en weer het ons saamgestem dat dié titel net mooi sê wat ons beoog: God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles. George stel in die hoofstukke wat volg aan twaalf “ongelowiges” (of hoe hulle hulself ook al sou wou noem) tien vrae, en ek doen dit op my beurt met twaalf “gelowiges”. Hy aanvaar verantwoordelikheid vir sy vrae, sy gespreksgenote vir hul antwoorde, en ek vir my vrae en my medewerkers vir hul antwoorde.

      By die lees van die essays blyk dit dat daar by van die “ongelowiges” tog partykeer vonke van “geloof” is, en by van die “gelowiges” skaduwees van twyfel. Al die gespreksgenote is woordvaardig, sommige selfs briljant met die woord, soos party ook met die Woord. Almal is eerlik, soms skrynend so. Selde, maar ongelukkig enkele kere tog, is daar onder die 24 tekens van arrogansie, ’n keer of wat van groot selfversekerdheid. Maar meestal is daar beskeidenheid en begrip vir mense wat anders dink, en dikwels opmerkings soos: “Vir my maak dit só sin . . . maar elke mens het die reg op sy of haar eie oortuigings.” En daar is ook humor – alles hoef nie altyd so bitter ernstig te wees nie, al gaan dit oor bitter ernstige sake.

      Hierdie boek het te doen met die diepste vrae van die mens se bestaan: “Wie is ek?”, “Is daar ’n God?”, “Waar kom alles vandaan?”, “Waarheen is alles op pad?” Die antwoorde op die “Wie is ek?”-vraag is van die onthullendste in die boek: dit sny immers tot die allerpersoonlikste van jou menswees. Soms sê dit wel ook iets van die skrywers as enkeles verkies om eerder te sê wát hulle is as wié hulle is.

      Die doel met die boek?

      Dat ons Afrikaners/Afrikaanssprekendes/Afrikaanses ’n slag intelligent en beleefd praat sonder om op mekaar te skree (soos alte dikwels in koerantpolemieke oor hierdie en ander sake gebeur). En dat ons luister sonder om die laaste woord in elke gesprek op te eis.

      Die vraag na God en die waarvandaan en waarheen van alles is so oud soos die berge – ook onder Afrikaners. Dis nie die nuwe demokratiese bestel in ons land wat dit die eerste keer wakker gemaak het nie, hoewel die versnelde sekularisasieproses in die laaste kwarteeu sekerlik daartoe bygedra het. Vrae hieroor en oor verwante sake is al openlik in die vroeë Kaap gestel, het in die “liberale rigting” van die negentiende eeu behoorlik kop uitgesteek en in die Johannes du Plessis-saak in die 1920’s en 1930’s in die NG Kerk en Afrikaanse gemeenskap uitgebars . . . om toe jare lank vanweë die toespitsing op samelewingskwessies (apartheid!) gesmoor te word. Deesdae is die openlike twyfelaars oor God en geloof om elke hoek en draai te vinde.

      ’n Kwynende geloof?

      Beteken dit dat (die Christelike) geloof in God aan die kwyn en op sterwe na dood is? Nogal nie. Volgens die Duitse Stigting vir Wêreldbevolking se meting was daar middel 2011 vir die eerste keer meer as sewemiljard mense op die planeet. Operation World meen dat nagenoeg ’n derde van die wêreldbevolking (32,5%) aan die begin van die 21ste eeu “Christene” was. Van Afrika se miljard mense was 48,4% toe Christene. Die swaartepunt van die Christendom het in die afgelope eeu na die Suidelike Halfrond verskuif. Latyns-Amerika is die “Christelikste” kontinent met meer as 90% van sy inwoners wat hulself Christene noem. Vir die eerste keer in die geskiedenis is daar nou ’n godsdiens – die Christelike geloof – wat in byna al die wêrelddele sterk teenwoordig is. Die Christelike geloof is die grootste godsdiens op Aarde. Islam is tweede (21,1%), Hindoeïsme derde (13,6%) en Boeddhisme vierde (12,9%). Sowat 15% van die wêreldbevolking het volgens Operation World “geen” godsdiens nie.

      Volgens die South African Christian Handbook (2005-2006) oorheers die Christelike geloof in Suid-Afrika. In die 2001-sensusopname het 79,8% van die bevolking aangedui dat hulle Christene is. Van die swart mense in Suid-Afrika het 79,9% gesê hulle is Christene; 86,8% van die wit mense het so gesê, 87% van die bruin mense en 24,4% van die Indiërs. (Die 2011-sensusopname bevat nie vrae oor godsdiens en kerkverband nie.)

      Die NG Kerk se wetenskaplike opname, Kerkspieël 2010, het bevind dat die totale lidmaattal van die NG Kerk oor die afgelope dertig jaar van sowat 1,4 miljoen tot 1,1 miljoen (2010) gedaal het. Indien een-derde van die sowat eenmiljoen hoofsaaklik wit mense wat die afgelope sestien, sewentien jaar geëmigreer het, lidmate van die NG Kerk was, verklaar dit die verlies van nagenoeg 300 000 lidmate in dié tyd. Die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK, familiekerk van die NG Kerk met hoofsaaklik bruin en swart lidmate) het ongeveer 575 000 lidmate. Inligting wat in November 2010 deur Markdata ingesamel is, dui daarop dat die breër gereformeerde kerkfamilie in daardie stadium 46% van Afrikaanssprekendes onder hul lidmate getel het. Markdata meen dat 28% van Afrikaanssprekendes aan Pinkster- en charismatiese kerke behoort, terwyl sowat 6% van hulle geen kerk of geloof het nie.

      Natuurlik moet al hierdie syfers en persentasies met omsigtigheid hanteer word. Daar is dikwels allerlei vreemde redes waarom mense aandui dat hulle aanhangers van ’n bepaalde godsdiens of kerk is. Boonop beteken ’n formele verbintenis aan ’n geloof en kerk min as dit nie vir die betrokkenes regtig waarde het nie. Dié mense wat net naby die kerk kom as daar iets op hulle gegooi word – water, konfetti of kluite – se kerklidmaatskap beteken feitlik niks nie en hul geloofsverbintenis is verdag.

      Maar bloot statisties gesproke, is die Christelike geloof nie aan die kwyn nie. In Europa, ja, dalk ook in Noord-Amerika. Maar nié in Asië (die Christendom groei byvoorbeeld redelik sterk in China) of Afrika of Suid-Amerika nie. En dit staan soos ’n paal bo water dat daar in die jaar van onse Here 2012 oor die wêreld heen baie miljoene toegewyde Christen-gelowiges is, al is dit nie moontlik om hulle met sensus- of ander opnames sekuur te tel nie.

      Afrikaners en die angs van die tye

      Die demokratisering van Suid-Afrika en die gepaardgaande transformasie het onvermydelik tot groot onsekerheid – en selfs vertwyfeling – by wit mense, by name die Afrikaners, gelei. In die anderhalwe dekade wat op die euforie van 1994 gevolg het, het nagenoeg ’n miljoen mense die land verlaat om ’n heenkome elders te gaan soek. En dit ís so dat die geloofwaardigheid van die Afrikaanse kerke weens hul ondersteuning van apartheid by baie onder verdenking gekom het.

      Christina Landman skryf in Beeld van 27 Desember 2007 dat een van die reaksies van sommige gelowiges (seker juis ook Afrikaners) op die ommekeer in die land was om “meer fundamentalisties en irrasioneel” te word. Sy skryf dit is ’n ou en universele verskynsel. Met die Verligting in Europa in die sewentiende eeu het mense gereageer deur hulle in nie-denke terug te trek. “Baie gelowiges in Suid-Afrika het die afgelope tien jaar ‘revivalisties’ gereageer op die angs wat die tye meebring,” skryf sy. “Hulle gaan na saamtrekke waar hulle dans, lofprys en ’n ander wêreld skep waarin hulle kan oorleef .”

      Jan van der Merwe se navorsing vir sy doktorstesis aan die Universiteit van die Vrystaat, “Afrikaners in post-apartheid Suid-Afrika: ’n Antropologiese perspektief ” (2009), werp ander lig op die saak. Sy navorsing het Afrikaners van tussen agtien en dertig

Скачать книгу