God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles. George Claassen

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles - George Claassen страница 2

Автор:
Серия:
Издательство:
God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles - George Claassen

Скачать книгу

      Hierdie empiriese studie het ten opsigte van godsdiens en Afrikaanse kerke bevind dat feitlik al die respondente hulself as Christene beskou. Nagenoeg ’n derde van die respondente was gereelde kerkgangers en aktiewe lidmate binne hul onderskeie gemeentes. Ongeveer een-derde van hulle het aangedui dat hulle minder gereeld kerk toe gaan. Hul kerkbywoning het gewissel van een keer per maand tot een keer in agt maande. Die ander het hulself as Christene beskou, maar was in wese kerkloos.

      Uit die navorsing het dit duidelik geword dat jong Afrikaners ten opsigte van godsdiens twee teenstrydige sienings handhaaf. Aan die een kant vra hulle groter individualisme en vryheid van denke; aan die ander kant is daar ’n groeiende behoefte aan geestelike warmte, godvresendheid en ’n gevoel van godsdienstige geborgenheid.

      Van der Merwe meen die nuwe Suid-Afrika met sy liberale Grondwet het ongetwyfeld meegehelp dat hedendaagse Afrikaners meer vrydenkend geraak het ten opsigte van moraliteit en waardes (onder meer oor voorhuwelikse seks en homoseksualiteit). Jong Afrikaners voel al hoe meer tuis in die geglobaliseerde samelewing waarin ’n postmoderne lewens- en wêreldbeskouing aan die orde van die dag is. Afrikaners se persepsies en waardeoordele ten opsigte van Christenskap het volgens Van der Merwe sedert 1994 “ ’n metamorfose” ondergaan. Daar is ’n nuwe openheid, en verdraagsaamheid en verskeidenheid word geakkommodeer. Al die respondente het gevoel dat die Afrikaanse kerke minder veroordelend moet wees en dat hulle groter menslikheid, Christelike liefde en verdraagsaamheid teenoor alle Suid-Afrikaners moet openbaar.

      My twaalf gespreksgenote is wel ouer as Van der Merwe se navorsingsgroep, maar ek glo nie hulle sal heeltemal ontuis voel in die jongeres se geselskap nie. Hulle skort byvoorbeeld nie hul verstand op as dit by hul geloof kom nie, hulle is nie fundamentalisties nie en onttrek hulle nie aan die werklikhede van ons tyd deur na ’n nie-wêreld te wil ontvlug nie. (Christelike fundamentalisme = die alte letterlike verstaan van al die dele van die Bybel, dikwels gepaardgaande met ’n goeie skeut onverdraagsaamheid.) My gespreksgenote is denkende mense wat baie bewus is van die omstandighede in die land en in die wêreld, wat weet van die groot deurbrake wat die wetenskap amper daagliks maak, wat rekening hou met die gesekulariseerde, postmoderne, geglobaliseerde tyd waarin ons leef, maar vir wie die Bybel steeds belangrik is en wat in God glo. In hierdie boek vertel hulle waarom.

      Die wetenskap en ons diepste vrae

      Één van die redes waarom hierdie 21ste-eeuse gelowiges nie sommer hul geloof prysgee nie, is omdat hulle – met al die respek wat hulle vir die wetenskap en die prestasies van die wetenskap het – nie dink dat die wetenskap ooit die allerantwoord op ons diepste vrae na ons oorsprong en die sin van ons bestaan sal kan gee nie. Natuurlik dink nie alle wetenskaplikes hulle kan (of sal nog kan) nie. Maar party tog wel.

      Soos die storie van dié paar wetenskaplikes wat gereken het hulle het nou min of meer alle antwoorde op alle vrae en dat God regtig oorbodig geraak het. Hulle is toe vrymoedig genoeg om ’n oudiënsie aan te vra om vir God te gaan sê dis tyd om te abdikeer. Die wetenskap weet nou genoeg van wat bo die Aarde, onder die Aarde en op die Aarde gebeur; God kan rustig aftree. God het geduldig na hul relaas geluister en toe gesê dis goed, God sal doen soos hulle vra, mits hulle net eers ’n mensmaakkompetisie hou. Soos in die Begin. “Ja,” antwoord die wetenskaplikes toe opgewonde, “kom ons hou so ’n kompetisie!” En hulle buk daar en dan om van die grond van die Aarde af op te tel. “Nee, nee, nee,” keer God hulle toe. “Soos héél in die Begin. Uit niks.”

      In Mei 2010 is aangekondig dat wetenskaplikes van die J Craig Venter Institute in Rockville, Maryland, vir die eerste keer kunsmatige genetiese stof in ’n leë bakteriesel geplaas het om ’n nuwe, lewende sel te vorm. Hulle het leë selle van die bakterie Mycoplasma mycoides van kunsmatige DNS voorsien, en die bakteriesel het – danksy instruksies van die kunsmatige DNS – net soos ’n normale lewende sel vanself begin dupliseer.

      Die wetenskap het dus daarin geslaag om sélf en sélfs lewe te skep . . .

      Henk Huismans van die Universiteit van Pretoria se Departement Genetika het egter gewaarsku dat mense nie met hul verbeelding op hol moet gaan nie. “Daar is nie skielik kunsmatige lewe uit niks geskep nie; lewe is bloot suksesvol gekopieer,” het Huismans gesê. Craig Venter, wat die navorsing gelei het, het dit beaam. “Lewe is nie van nuuts af geskep nie,” het hy verduidelik. “Die doel is om lewe te ontwikkel uit dit wat reeds bestaan deur sintetiese DNS te gebruik om selle te herprogrammeer om nuwe selle te vorm” (Die Burger, 22 en 26 Mei 2010).

      Die eintlike probleem wat ontstaan as jy die wetenskap hemelhoog aanslaan, as die wetenskap so te sê vir jou jou god word, is dat jy dan sukkel om enige sin in die lewe te vind. Dan sal jy waarskynlik saam met die ateïs Bertrand Russell (’n bietjie geparafraseer) moet sê: “Ek is die produk van oorsake wat geen doel of sin het nie. My oorsprong, groei, hoop, vrees, liefde en geloof is die gevolg van ’n toevallige saamkom van atome. Al die eeue se toewyding, inspirasie en inspanning stuur af op uitwissing met die uiteindelike dood van die sonnestelsel. Die hele tempel van menslike prestasies sal uiteindelik onvermydelik begrawe moet word in die puinhoop van die heelal. Dít is my, ons almal, se bestemming” (aangehaal deur John Ortberg in Faith and Doubt, 2007).

      Daar is mense wat sal wil onderskryf wat Russell gesê het. Dís soos dit is, sal hulle reken. En selfs uit die Bybel aanhaal: alles kom tot niks, het die Prediker mos al laat hoor. Maar ek dink die meeste mense op ons klein blou planeet in die steeds uitdyende heelal het nie vrede met so ’n siening nie. Hulle soek hot en haar na sin en betekenis in ons so tydelike hier-wees. En baie van hulle vind dit in God.

      Richard Swinburne, die Oxfordse teoloog, het in Is There a God? (1996) geskryf dat dit buitengewoon is dat daar enigiets is wat wel bestaan. Die “natuurlikste staat” is sekerlik niks: geen God, geen heelal, niks. Maar daar ís iets, skryf hy. Die oerknal, natuurlike seleksie en evolusie verklaar wetenskaplik hoe dinge van ’n bepaalde punt af kon ontwikkel het, maar dit verklaar nie hoe iets uit niets te voorskyn kon gekom het nie. Die fisikus Stephen Hawking meen met sy formules dat die oorsprong van dinge in die wette van die fisika te vinde is (Time, 15 November 2010). Maar wat is die oeroorsprong van dié “wette”? Niks? Of ’n “wonderwerk”?

      Geloof: ’n waagstuk, ’n sprong, ’n geskenk

      Geloof is nie ’n eenvoudige saak nie. Dis ’n waagstuk, ’n sprong. Dis om te glo (sonder om te kan bewys) dat God bestaan. Om nie te glo nie, is ook ’n waagstuk; dis ook ’n sprong. Dis om te glo (sonder om te kan bewys) dat God nié bestaan nie.

      Henri Nouwen, die Katolieke priester wat as “gewonde geneser” die rand van die samelewing die sentrum van sy geloofsuitlewing gemaak het, gebruik die beeld van sweefstokartieste wat hul waagtoertjies sonder veiligheidsnette as “vlieërs” (springers) en “vangers” uitvoer (Sabbatical Journey, 1998). Die “vlieër” klim met die touleer op en gryp die sweefstok vas. Hy (of sy) spring van die platform af en swaai deur die lug. Hy gebruik sy liggaam om momentum te kry, swaai al hoe vinniger en hoër. Die “vanger” hang met sy knieë aan ’n ander sweefstok; sy hande swaai los om uit te reik.

      Die oomblik van waarheid breek aan wanneer die vlieër sy sweefstok laat los en begin “vlieg”. Daar is van daardie oomblik af net mooi niks wat keer dat hy grond toe, en na sy dood toe, val nie. Alles hang van die vanger af. Hy bereken sy swaai presies en kom by die vlieër uit as dié begin om momentum te verloor. Sy hande gryp die arms van die vlieër vas. Die vlieër kan hom nie sien nie; vir hom is alles ’n warreling. Maar die vlieër voel hoe hy uit die lug gepluk en na veiligheid gebring word.

      Die “vlieër”-arties moet sy “vanger” volkome vertrou. Die vlieër doen eintlik niks – die vanger doen alles. As die vlieër na die vanger toe vlieg, moet hy net sy arms en hande uitstrek en wag. En die vanger se hande moenie sweet nie. Sy hande moet droog wees (ingevryf met droë magnesiumpoeier!) om ráák te vang.

      Glo

Скачать книгу