God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles. George Claassen

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles - George Claassen страница 5

Автор:
Серия:
Издательство:
God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles - George Claassen

Скачать книгу

om Alice se blootstelling aan die irrasionele denke van die Wit Koningin te illustreer. Alice vind dit moeilik om in onmoontlike dinge te glo (“one can’t believe impossible things”), al vermaan die Wit Koningin haar om net diep asem te haal en haar oë toe te maak.

      Maar die Wit Koningin laat haar nie van stryk bring nie. “I daresay, you haven’t had much practice . . . When I was your age, I always did it for half-an-hour a day. Why, sometimes I’ve believed as many as six impossible things before breakfast,” vertel sy aan Alice.[14]

      Een van die mees onverklaarbare verskynsels van die moderne mens se denke is die verbete en vasklouende karakteristiek om, ondanks oorweldigende bewyse tot die teendeel, steeds te bly glo in gode, God of een of ander Spirituele Hoër Orde. Om dit te verklaar, het een van die insiggewendste en interessantste studierigtings die afgelope twee dekades ontwikkel – die moderne neurowetenskap se soeke na ’n verklaring vir geloof in ’n godheid, ook binne antropologiese verband.

      Waarom glo so ’n groot deel van die Aarde se bevolking – en so ’n substansiële deel van die Afrikaanssprekendes wat hier op die moederkontinent van die mens se ontstaan woon – steeds dat hul lewens deur God beheer word? In sommige wetenskaplike kringe is dit in ’n stadium aan ’n god-geen wat dan deel van sommige mense se genetiese samestelling sou uitmaak, toegeskryf. Toe die New Yorkse genetikus Dean Hamer eerste met hierdie gedagte van ’n god-geen na vore gekom het, het die media op groot skaal daaroor berig.

      Hamer probeer kwantifiseerbare verklarings vir die oorsprong van godsdienstigheid in mense soek deur geloof en spiritualiteit psigometries te ontleed en te kyk na ’n studie van die brein deur middel van neuropsigologie. Hy glo spiritualiteit is geneties oorerflik en hy skryf dit toe aan die teenwoordigheid (of in die geval van ongelowiges, afwesigheid) van die VMAT2-geen. Hamer glo VMAT2 beïnvloed die monoamienvlakke in die brein wat mense ’n ingeburgerde gees van optimisme gee en dit word volgens hom weerspieël in jou fisieke en sielkundige uitkyk op die lewe.[15]

      Hamer se navorsing is deur opvolgende studies reeds lankal gediskrediteer en verkeerd bewys en het sterk kommentaar, ook aan religieuse samelewings, ontlok. Die Anglikaanse priester John Polkinghorne het aan The Daily Telegraph gesê, “The idea of a God gene goes against all my personal theological convictions. You can’t cut faith down to the lowest common denominator of genetic survival. It shows the poverty of reductionist thinking.”[16]

      Kom ons praat dan liewer van ’n god-meem of religie-meem. Richard Dawkins neem dié evolusionêre proses van variasie, seleksie en oorerflikheid ’n stap verder en in The Selfish Gene pas hy dit toe op menslike nabootsing en kulturele oordrag deur biologiese gene uit te brei na wat hy “meme” noem. ’n Meem is ’n eenheid van kulturele oordrag, of ’n eenheid van nabootsing. Gene word gerepliseer, gekopieer van ouers na nasate van generasie tot generasie. Ooreenstemmend hiermee is ’n meem enigiets wat gerepliseer word van brein na brein, via enige vorm van kopiëring, verduidelik hy.[17]

      Volgens Dawkins kan meme goeie idees, goeie melodieë, goeie gedigte, of ook kaf, soos slagspreuke, wees. Enigiets wat deur nabootsing versprei, soortgelyk aan die verspreiding van gene deur liggaamlike reproduksie of virale infeksie, is ’n meem. Religie is vandag een van die sterkste meme wat in die sosiale gedrag van mense waarneembaar is.

      Die Britse wetenskaplike Susan Blackmore gee ’n uiteensetting van die verskil tussen wetenskap en religie. Die wese van wetenskap is die wetenskaplike metode, wat berus op die toetsing van enige idee. Godsdiens werk nie só nie. Dit bou teorieë oor die wêreld en probeer dan verhinder dat dit getoets word. Godsdiens verskaf aangename, aantreklike en gerusstellende idees, en klee hierdie idees dan in ’n masker van “waarheid, skoonheid en goedheid”. Dié teorieë kan dan gedy, al is hulle onwaar, lelik of wreed, skryf sy in haar boek The Meme Machine.[18]

      Hierbo is verwys na die mens se onverklaarbare voorliefde om in een of ander god te glo, en dít ondanks genoeg bewyse dat so ’n skeppende Intelligensie se bestaan hoogs onwaarskynlik is. Hoewel daar sedert antieke tye reeds skeptiese denkers was wat die bestaan van God of ander gode bevraagteken het, het die twyfel oor die godsgedagte eers werklik met Charles Darwin se evolusieteorie, geformuleer oor dekades voordat hy dit in 1859 finaal gepubliseer het, sterk momentum begin kry. Ek wil by hierdie teorie stilstaan omdat dit die afwaartse wentelbaan van geloof in God, engele, die duiwel en die gedagte van ’n skepping en uiteindelik ewige lewe deur ’n oorwig van wetenskaplike bewyse in werking gestel het. Darwin se teorie kry ook in die twintigste eeu nuwe stukrag met die herontdekking van Gregor Mendel se vergete genetiese studies van 1865, wat evolusie as geldige wetenskaplike feit in moderne genoomstudies laat neerslag vind.

      “Genoeg bewyse bestaan ter ondersteuning van Charles Darwin se evolusieteorie.”

      Die geldigheid van hierdie stelling en die evolusieteorie word vandag in gerekende wetenskaplike kringe nie eens meer gedebatteer nie; nogtans het die British Council in 2009 in hul Darwin Now-opname dié stelling in vraagvorm gestel aan meer as tienduisend volwassenes in tien lande. Die lande wat ingesluit is by die opname, as deel van die 200ste herdenking van Darwin se geboorte en die 150-jarige herdenking van die publikasie van The Origin of Species, was Argentinië, China, Egipte, Indië, Mexiko, Rusland, Suid-Afrika, Spanje, Groot-Brittanje en die VSA.

      In selfs nie een van dié lande glo meer as 50% van die bevolking genoeg bewyse bestaan om Darwin se teorie te ondersteun nie. In die lande betrek by die opname was die mees ingeligte bevolkings oor die oorweldigende bewyse wat bestaan vir evolusie as wetenskaplike feit dié van Brittanje en Mexiko (net meer as 45%) en China (39%). Net 42% Suid-Afrikaners glo evolusie is ’n feit. Dit kom neer op twee uit vyf lede van die bevolking.

      Op die vraag, “Is dit moontlik om in ’n God te glo en steeds die standpunt te huldig dat lewe op Aarde, insluitende menslike lewe, ontwikkel het oor tyd as gevolg van natuurlike seleksie?”, het 54% Suid-Afrikaners geglo dis moontlik. En op die vraag, “Ek het gehoor van Charles Darwin en weet ten minste iets van sy teorie”, kon net 27% Suid-Afrikaners wat ondervra is, bevestigend antwoord.[19]

      Hoe is dit moontlik dat waarskynlik die belangrikste wetenskaplike ontdekking en teorie wat tot op hede gemaak en ontwikkel is, vandag steeds so verkeerd begryp en uit verband geruk word en dat daar daagliks soveel verkeerde inligting daaroor deur intelligente mense, veral in religieuse kringe, versprei word? Darwin is in 1809 gebore en toe sy teorie die eerste keer in 1859 bekend word, het dit ’n “universele suur” geword, so “corrosive that it will eat through everything”, soos die Amerikaanse wetenskapsfilosoof Daniel Dennett dit beskryf in sy boek Darwin’s Dangerous Idea: “Darwin’s idea – bearing an unmistakable likeness to universal acid: it eats through just about every traditional concept, and leaves in its wake a revolutionized world-view, with most of the old landmarks still recognizable, but transformed in fundamental ways.”[20]

      Die evolusieteorie word op veral vier terreine deur onwetenskaplik ingestelde mense verdag gemaak. Dié wetenskaplike teorie word dan gereeld in verband gebring met ’n skeppingsidee en gevolglike skepper-filosofie. Die wankonsepte oor evolusie kan weerlê word deur te kyk na wat evolusie nié is nie.

      Evolusie is nie ’n geloof nie

      Een van die gereelde aanklagte wat teen mense gemaak word wat evolusie as geldige wetenskap aanvaar, is dat hulle godloos is en aanhangers of selfs “aanbidders” is van die evolusie-geloof, as sou evolusie ’n alternatiewe vorm van godsdiens wees. As dít waar is, dan is elke aanvaarde wetenskaplike teorie ’n geloof en ’n vorm van aanbidding. In sekere, maar in mindere mate, word die oerknalteorie ook soms oor dieselfde kam geskeer as sou dit die oerknalgeloof wees.

      Maar waarom dan nie relatiwiteit, termodinamika, swaartekrag, of die kiemteorie van Pasteur, of Bernoulli se teorie oor lug- of vloeistofdruk as gelowe klassifiseer en beskryf nie? Geskied dit omdat evolusie en die oerknal as teorieë die skeppingsverhale en beloftes van ’n ewige lewe wesenlik onder verdenking plaas?

Скачать книгу