God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles. George Claassen

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles - George Claassen страница 9

Автор:
Серия:
Издательство:
God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles - George Claassen

Скачать книгу

teenoor mekaar opweeg.

      Vir my lê die wonder van die lewe, ons planeet en die heelal juis daarin dat ons nooit sal ophou om die onverklaarbare te ondersoek en vrae daaroor te stel nie, om dit nie aan ’n godheid toe te skryf wanneer ek dit nie kan begryp nie, maar steeds, volgens die natuurwette, verklarings te soek wat op bewyse berus. Geen tradisie, geen outoriteit, geen openbaring mag hier die bepalende faktore wees om iets te glo nie, net bewyse.

      Waarom word ateïsme steeds as ’n vloekwoord en profaniteit beskou in die beoordeling van mense wat ongelowig is, ook opvallend só in die geledere van Afrikaanssprekendes? Sam Harris wys op die weersprekende verskynsel in ontwikkelde en Eerste Wêreld-lande waar die oorgrote meerderheid ’n oorwegend sekulêre en irreligieuse aard vertoon, maar die VSA as voorste ontwikkelde land midde-in die ontwikkelende kader van lande gesetel is waar ortodokse en evangelistiese religie ’n sterk opbloei beleef. Meningsopnames toon 57% van Amerikaners sê dat jy in God moet glo om goeie waardes te hê en om moreel op te tree. Verder verkies 69% Amerikaners ’n president wat die regering bestuur met “sterk religieuse geloof”. Harris ondersoek die aard van die geweldig negatiewe belewenis wat niegelowiges, agnostici en ateïste daagliks in sterk religieuse lande ondergaan. Meer Amerikaanse volwassenes is funksioneel ongeletterd (21%, waarvan 14% op Amerikaanse bodem gebore is) as Amerikaners wat twyfel oor die bestaan van God (net 3% van die bevolking stem saam met die stelling “Ek glo nie in God nie”).

      “Ten spyte van hul feitlike onsigbaarheid, is ateïste die mees gestigmatiseerde minderheid in die VSA – selfs meer as homoseksuele, Afro-Amerikaners, Jode, Moslems, Asiërs of enige ander groep. Selfs ná 11 September 2001 sal meer Amerikaners vir ’n Moslem as president stem as vir ’n ateïs,”[49] skryf Harris oor navorsing wat in 2006 in die vakjoernaal American Sociological Review gepubliseer is.

      Diskriminasie teen ateïste is in die Afrikaanse leefwêreld ’n werklikheid wat weerspieël word in die sensurering van ateïste, agnostici en ander twyfelaars se woorde in Afrikaanse koerante en oor die radio. Dit het ek al herhaaldelik eerstehands beleef en so ook wetenskaplikes wat openlik die religieuse aansprake van godsdienstige leiers en gelowiges bevraagteken.

      Ek heg waarde aan die woorde van die Britse wetenskaplike Thomas Henry Huxley wat die proses van die wetenskap om onkunde te bestry teen die oormag van wensdenkery, bygeloof en doelbewuste en metodiese onderdrukking van kennis soos volg beskryf: “Die bekende is begrens, die onbekende onbegrens, oneindig; intellektueel staan ons op ’n eilandjie in die middel van ’n onbegrensde oseaan van onverklaarbaarheid. Ons werk in elke generasie is om ’n bietjie meer grond te herwin.”[50]

      Jurie van den Heever

      in gesprek met George Claassen

      “Deur op ’n ewige lewe ná die dood te fokus, word ons aardse bestaan tot ’n soort wagkamer vir die dood gereduseer. Die mite dat mense siele besit wat ná die dood met die ewige lewe ‘beloon’ word, negeer eintlik die betekenisvolle bestaan wat op Aarde gelei kan word.”

      Wie is Jurie van den Heever? En hoe loop die pad van jou lewe van geloof na ongeloof?

      Ek is ’n Afrikaner en het in ’n feitlik uitsluitlik Afrikaanse omgewing in ’n klein Noord-Bolandse dorpie (Ceres) grootgeword. My pa was ’n staats-veeinspekteur en my ma het ’n besigheid bedryf.

      Ek was van kleins af bewus dat ek aan moederskant ’n afstammeling van die trekkerleier Gerrit Maritz was en dat die misdade wat die Kakies tydens die Boereoorlog en veral teen die vroue en die kinders gepleeg het, ongestraf gegaan het en gevolglik nie vergeet mag word nie.

      Saam hiermee was ek en my tydgenote, as jong kinders gedurende die vyftiger- en sestigerjare van die vorige eeu, grootliks onbewus van die spesifieke geskiedkundige aanloop wat die morele en etiese onderbou vir die politieke en kulturele grense van die samelewing na buite sowel as na binne bepaal het.[51]

      Ons was egter op grond van herkoms in so ’n mate ingebed in ’n teokrasie tussen die NG Kerk en die Nasionale Party dat daar, heelwat later, spottenderwys na eersgenoemde verwys is as die Nasionale Party in gebed.

      Daar is bloot van ons verwag om na die wens van ons ouers, onderwysers en die predikant op te tree en nie die status quo te bevraagteken nie. Ek het in standerd agt (graad tien) tydens godsdiensonderrig die onderwyser gevra waar God vandaan kom en die antwoord was dat ’n mens nie sulke vrae vra nie. Tipies van die tyd was die saak daarmee afgehandel. Dit het op ’n manier bygedra tot die illusie van ’n permanente samelewing en ’n seker toekoms. Gevolglik onthou ek my kinderdae as ’n oorwegend sorgvrye en gelukkige tydperk waartydens die voorgeskrewe godsdienstige rituele sonder enige nadenke of werklike toewyding beoefen is.

      Ons eiesoortigheid en missie as Afrikanervolk is op verskillende maniere, veral op skool, versterk en uitgebrei met behulp van die voorgeskrewe leerplan vir Christelik-nasionale onderwys (wat onder meer evolusie uit die leerplan geweer het), die Voortrekkerbeweging en Sondagskool. Tuis het ons wel van die Boereoorlog, Jopie Fourie, Manie Maritz en Racheltjie de Beer gehoor, maar die werklike kondisionering het op skool plaasgevind. Gevolglik kan ek vandag nog “Die Lied van Jong Suid Afrika” en die “Vlaglied” met oorgawe, alhoewel nie baie nootvas nie, sing.

      Die gedrukte Afrikaanse media het ook saamgewerk aan hierdie ideaal. Die Afrikaanse rolprentbedryf het egter ’n gulde geleentheid laat verbygaan deur nie die veelbewoë geskiedenis van die Afrikaner te populariseer soos Hollywood met die Wilde Weste gedoen het nie. Op skool is daar wel van tyd tot tyd swart-en-wit dokumentêre films oor die Groot Trek en die ontstaan van Afrikaans vertoon. Dit was egter ’n soort kulturele verheerliking en ’n mens het die indruk gekry dat die Taal en die Trekkers onaantasbaar en veels te edel was om as onderwerp vir ’n populêre rolprent te dien.

      Ons populêre helde en heldinne is deur Hollywood verskaf en ek en my maats het as goeie Afrikaners Cowboys en Crooks en nie Voortrekkers en Zoeloes gespeel nie. Diesulkes soos John Wayne (Stagecoach), Allan Ladd (Shane), Gary Cooper (High Noon), Glenn Ford (The Fastest Gun Alive) en Yul Brynner en Kie (The Magnificent Seven) het Saterdagmiddae in die vlooifliek ons moreel toegerus in ’n godsdiensvrye omgewing.

      Dié relatief eenvoudige verhale het ons onbewustelik op ’n aanskoulike manier geleer dat die goeie altyd die kwade oorwin, dat ’n mens – dikwels teen ’n oormag – moet veg vir jou regte, dat ’n enkeling tog ’n verskil kan maak en dat liefde, edele optrede teenoor die vroulike geslag en ’n morele plig teenoor die gemeenskap navolgenswaardig is.

      Dit het egter nooit tot ons deurgedring nie dat die sogenaamde Rooihuide, as oorspronklike inwoners van Noord-Amerika, dikwels links en regs van hul regte, lewe en grond ontneem is en dat dit op ’n manier geresoneer het met die posisie, in ons eie samelewing, van die sogenaamde “Kleurlinge” wat dieselfde rolprente van die balkon bokant ons gesit en kyk het, afsonderlike ingang en al. Die politieke en kulturele Zeitgeist het doodgewoon nie dié opsie ingesluit nie.

      Aan die Universiteit van Stellenbosch het die politieke status quo grootliks voortgeduur, maar my verstaan van die rol van godsdiens het stelselmatig verander. Via vakrigtings soos embriologie, vergelykende anatomie, paleontologie en geologie het dit mettertyd duidelik geword dat evolusie ’n feit is, dat rasionele en toetsbare verklarings vir natuurverskynsels lank reeds bestaan het en dat die meeste van die biologiese, geologiese en sterrekundige beriggewing in die Bybel gevolglik onwaar was.

      Ek het nie skielik van geloof na ongeloof versit na aanleiding van ’n Damaskuservaring nie. Deur die waarheidsaansprake van die kerk ten opsigte van God ook ’n bietjie van nader te beskou, het die onmag van die Opperwese stelselmatig in so ’n mate na vore gekom dat die tradisionele godsdienstige oortuigings uiteindelik nie meer deel van my lewens- en wêreldbeskouing gevorm het nie.

      Godsdiens

Скачать книгу