God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles. George Claassen

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles - George Claassen страница 11

Автор:
Серия:
Издательство:
God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles - George Claassen

Скачать книгу

ten opsigte van ’n wye verskeidenheid sake, waaronder aardverwarming en die mens se rol in die uitsterwing van talle spesies. Indien ons boonop glo dat ons ná die dood iewers anders gaan voortbestaan, is daar selfs minder rede om iets aan die verslegtende toestande hier op Aarde te probeer doen.

      ’n Verdere aspek is dat biologiese verskynsels op makrovlak nie deur die wetmatighede van die fisika en die chemie verklaar kan word nie.[57]Die wisselwerking tussen organisme en omgewing is baie kompleks omdat alles met verloop van tyd verander. In teenstelling hiermee bestaan heliumatome al onveranderd sedert die tyd van die oerknal. Oorgangsvorme tussen groepe (byvoorbeeld genera, families, ordes en klasse) word oral aangetref en kompliseer nie net die taak van die sistematiek nie, maar bemoeilik ook die omskrywing van aspekte soos die spesiesbegrip.

      Dolfyne lyk soos visse en swem saam met die visse, maar by nadere ondersoek blyk hulle soogdiere te wees. Daar bestaan tans duidelike paleontologiese en genetiese bewyse dat die moderne Setaseë (Walvisagtiges) uit ’n spesifieke groep oer-landdiere (waarvan hedendaagse seekoeie ook nasate is) oor ’n tydperk van miljoene jare ontwikkel het. Dit is ’n komplekse geskiedenis wat ’n sekere hoeveelheid agtergrondkennis oor die anatomie en fisiologie van soogdiere, die konsep van swerwende kontinente en die geologiese tydskaal veronderstel.

      Dit is te verstane dat iemand wie se geestelike teiken die hiernamaals is sulke inligting waarskynlik as triviaal sal beskou. Dit strook egter nie met die werklikheid nie. Die waarde van ’n biologies gegronde lewens- en wêreldbeskouing is onmisbaar vir ’n ewewigtige en rasionele benadering tot ons bestaan. Ons is deel van ’n uitgebreide netwerk van lewe en beslis nie die kroon van die skepping nie. Myns insiens is dit een van die belangrikste redes hoekom Afrikaners so steeks is om bewese wetenskaplike bevindings wat naiëwe geloofsoortuigings weerlê, te aanvaar.

      Laastens kan daar ook ’n saak uitgemaak word dat die afkeer waarmee wetenskaplike bevindings en veral evolusie bejeën word, dikwels niks met die wetenskap te doen het nie. Die evolusieteorie word deur baie gelowiges as doodgewoon immoreel beskou en daar word verkeerdelik geglo dat, indien dit waar sou wees, dit die morele en etiese norme van samelewings sal vernietig. Die feit dat die mees morele en etiese samelewings vandag in lande voorkom waar die bevolkings uitgesproke ateïsties en pro-wetenskaplik is, byvoorbeeld Swede, Denemarke, Noorweë en Nederland, toon duidelik dat sulke oortuigings ongegrond is.

      Jy kruis as paleontoloog en kenner van Karoo-fossiele dikwels swaarde met kreasioniste en aanhangers van Intelligente Ontwerp. Jy werk ook met biologie-onderwysers om hulle touwys te maak dat die evolusieteorie op feite berus. Wat is die rol wat wetenskaplikes behoort te speel om die lekepubliek in te lig en versuim hulle nie te dikwels hul plig deur in ivoortorings terug te trek wanneer bygeloof regeer nie?

      Die aantygings van fundamentaliste soos kreasioniste en ondersteuners van Intelligente Ontwerp (IO) teen die wetenskap en die teologie is oor die jare deur wetenskaplikes, hoofstroom-teoloë en uiteindelik ’n reeks beslissende hofsake as wensdenkery uitgewys.

      Myns insiens behoort die rol van wetenskaplikes tydens sulke konfrontasies nie dié van ’n militante aggressor te wees nie. Dit is baie maklik om die kognitiewe dissonansie van die kreasioniste en die IO-ondersteuners bloot te lê. Die doel is egter nie om ’n spesifieke kreasionis of IO-ondersteuner teen wil en dank te oortuig nie. Dit is om redelike en rasionele verklarings vir natuurverskynsels aan die breër bevolking voor te lê. In dié proses word mense oortuig van die geldigheid van ’n rasionele benadering en hoe belaglik die aansprake van die fundamentaliste werklik is. Nie almal stem egter met hierdie werkswyse saam nie. Die sogenaamde “nuwe ateïste”, te wete Daniel Dennett, Victor Stenger, Sam Harris, Christopher Hitchens en Richard Dawkins, verkies ’n meer militante aanslag.

      Dit is egter van kardinale belang dat wetenskaplikes (en hopelik meer hoofstroom-teoloë) hul navorsing nie net in vaktydskrifte publiseer nie, maar ook op ’n verantwoordelike manier populariseer. Stephen Jay Gould, Carl Sagan en Richard Dawkins is hier goeie voorbeelde aan die kant van die wetenskap, terwyl Sakkie Spangenberg, Julian Müller en Bart Ehrman van die prominente teoloë is wat met behulp van goed nagevorste, populêre publikasies nie skroom om vernuwing in die dogma-gelaaide kerkers van die geloof te bepleit nie.

      Dit is egter heel waarskynlik só dat daar wetenskaplikes aan universiteite is wat so ingestel is op navorsing dat hulle onderrig vermy of dit doelbewus afskeep. Verantwoordelike popularisering van die wetenskap kwalifiseer ook as onderrig. Een van die redes waarom dit nie meer algemeen voorkom nie, is doodgewoon omdat dit moeilik is. Dit is veel makliker om ’n navorsingsartikel (gewoonlik in Engels) vol vakterme te skryf as om interessante aspekte van jou navorsing duidelik en onderhoudend in gewone, korrekte Afrikaans te vertel.

      Almal van ons – psigiaters, medici, kunstenaars, filosowe, sportlui, onderwysers, fisici en bioloë – het egter ’n morele plig om die samelewing te dien en die wetenskap op alle vlakke so sinvol moontlik te probeer maak.

      Binne hierdie konteks speel wetenskaplikes ’n belangrike rol, aangesien die wetenskap deesdae so kompleks is dat baie wetenskaplikes self dikwels nie goed ingelig is oor bevindings buite hul studievelde nie. Die nuutste teologiese bevindings word ook nie op ’n deurlopende basis aan lidmate deurgegee nie en gevolglik is die meeste Christene oningelig oor die werklike betekenis van die Bybel.[58]

      Gelowiges sê dikwels religie is hul anker en kruk. Toe jy van jou geloof afstand gedoen het, hoe lank het dit geneem om daardie anker uit die water te trek en jou kruk heeltemal weg te gooi? Hoe moeilik was dit?

      Dit was glad nie moeilik nie, want daar was geen katarsis nie. Deur uiteindelik net die regte vrae omtrent godsdiens en die Bybel te vra, het dit mettertyd duidelik geblyk dat die Bybel nie ’n goeie morele handleiding is nie. Die toenemende wete dat die primêre aansprake van die geloof nie waar is nie, het die soort toewyding wat gedurende my kinderjare van my verwag is, laat kwyn. Uiteindelik het ek ook tot die besef gekom dat dit primêr nie oor my onsterflike siel gegaan het nie, maar om my as Afrikaner op ’n spesifieke manier te manipuleer.

      Baie van die sogenaamde waarhede was ook nie meer eie aan die Calvinisme nie, want die NG Kerk is mettertyd deur die destydse Afrikanerpolitiek omvorm tot ’n Volkskerk[59] sodat daar in Suid-Afrika ’n eie, Afrikaanse Calvinisme ontwikkel het wat “. . . nie ’n ingevoerde Calvinistiese stempel dra nie, nie ’n anderlandse Calvinistiese tipe na-aap nie, nie die spreekbuis van oorsese Calvinisme wil wees nie, maar wat ons eie Boerepad loop . . .”. Dit is ’n Calvinisme wat aangepas is by “. . . nasionale verskille van aanleg, temperament, volksaard, geskiedenis en omstandighede”. Daardeur “. . . is ons as volk in die vorige eeu bewaar, aan die een kant teen verengelsing en aan die ander kant teen verbastering”.[60]

      Die Boerepad wat die NG Kerk uiteindelik geloop het, sou waarskynlik selfs vir Calvyn vreemd gewees het. Die unieke waarhede waarop die kerk aanspraak gemaak het, soos die maagdelike geboorte, was nie uniek aan die Christelike geloof nie. Baie ander nie-Christelike en spesifiek ateïstiese lewens- en wêreldbeskouings het ook gesonder morele en etiese oortuigings ingesluit. Dit het doodgewoon onnodig en tydrowend geword om so ’n uitgediende leefstyl te volg.

      Die NG Kerk sal egter altyd deel van my kulturele bagasie wees, maar nie meer as ’n eksklusiewe en betekenisvolle morele rigtingwyser nie.

      Kan godsdiens en wetenskap versoen word? Die Templeton Foundation (TF) probeer dit regkry deur jaarliks die grootste prys denkbaar – selfs meer in prysgeld as die Nobelprys – uit te loof aan mense wat versoening tussen dié twee velde bewerkstellig. Dit word veral gedoen omdat die wetenskaplike feite van evolusie en die oerknal die Bybelse skeppingsverhaal totaal weerlê en die TF probeer om die harde werklikheid van wetenskaplike feite in ’n magiese wêreld te versag. Is dit moontlik, veral in die lig van Richard Dawkins se beskrywing dat geloof in wonderwerke soos dié in die Bybel juis “amounts to a scientific claim, a violation of the normal running of the natural world” en dat die “alleged convergence between religion and

Скачать книгу