Sonnet sonder woorde. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sonnet sonder woorde - Ettie Bierman страница 4

Sonnet sonder woorde - Ettie Bierman

Скачать книгу

      “Want ek ken hom.” Haar stem raak bitter. “Ken hom ongelukkig goed. Té goed …”

      Het hy haar ook herken? Sy lyk nog baie dieselfde as nege jaar gelede. Op vyftien was sy ’n pikkie met kort blonde krulhare. Op vier-en-twintig is sy steeds klein gebou, met bottergeel hare wat wild in alle rigtings oorvat as sy dit nie kortgeknip in toom hou nie. Ook haar wipneus het nie langer gegroei nie.

      Al wat groter geword het, is haar oë en borste. Haar oë is nou eintlik te groot vir haar gesig. Sy het gehoop hulle word mettertyd blouer. Blouselblou, soos syne. Maar hulle het groenerig geword, soos die oë van die aaklige kat wat hul kleintydse bure se kuikens opgevreet het.

      “Nee, dit lyk soos druiwe en avokado’s,” het Duard destyds getroos. “Sappige groenvye, Peppermint Crisp en cream soda. Als wat lekker is. So lekker, ek wil jou opeet, happie vir happie verorber …” Hy het haar op sy skoot getel en in haar nek gesoen. Toe na haar mond gesoek en haar oor saggies gebyt, hongerig gesoen om te demonstreer wat hy bedoel …

      Duard het altyd geweet hoe om haar beter te laat voel. Selfs as sy ’n wiskundetoets gedop het of ’n tenniswedstryd verloor het. Sy arms om haar, ’n warm druk en ’n soen het meer gehelp as ure se swot aan meetkundestellings of om handrughoue te oefen teen ’n muur. Duard was perfek: lank en gespierd, slim en talentvol. En háár kêrel … Uit al die meisies in die skool het hy háár gekies. Sy was so gevlei, so verlief, sy sou vir hom in ’n kuil vol krokodille gespring het – énigiets gedoen het wat hy vra.

      Tot daardie nagmerrie-aand, ná afloop van die matriekafskeid, toe hulle twaalfuur die nag gaan swem het en sy uitgevind het haar perfekte kêrel is ’n slapperd. ’n Ruggraatlose jellievis. Toe hy haar so gruwelik en onvergeeflik in die steek gelaat het, soos ’n lafaard die pad gevat het en al die blaam op haar gelê het, haar alleen gelos het in die ongure gemors wat hý veroorsaak het …

      “Waar ken jy hom vandaan?” wil Fiela weet.

      Valdi wíl hom nie ken nie. “Van skooltyd af, in Bloemfontein,” antwoord sy kortaf. “Hy was destyds al ’n onbetroubare slaplies, ek sal nie verbaas wees as hy kop in een mus met daai skelm taxidrywer is nie.”

      Sy sien die donkerbril in haar rigting draai. Dan kon hy haar hoor. Valdi is bly. Sy het nege jaar gewag om haar sê te sê. Kras woorde, maar hy het dit verdien, want hy het haar destyds erger as ’n vloerlap behandel. Dit alles het op ’n familietwis uitgeloop en ’n kloof tussen haar en haar ma veroorsaak. Ook tussen die twee gesinne, wat voorheen huisvriende was. En Duard het nooit probeer brûe bou, probeer regmaak wat hy verbrou het nie. Net spore gemaak, ’n ander meisie aangeskaf en nooit weer van hom laat hoor nie. Kan hy haar kwalik neem as sy verbitterd en onvergewensgesind is?

      Deur sy swartgroen lense kan Valdi nie die uitdrukking in sy oë uitmaak nie, maar sy mond is in ’n dun lyn gespan. Hy klap sy beursie toe en druk dit in sy agtersak. Sy stem is skerp toe hy die taxidrywer iets beveel en met sy kop na die twee meisies beduie.

      Die kokketielkuif kom skoorvoetend nader. “Scusi, signorina,” mompel hy verskonend. “Very sorry. I make mistake.”

      Duard dreig hom en sy vet neef ’n laaste keer met die polizia, die tronk en die mafia. Dan sê hy iets wat soos “vamoose” klink – blykbaar die ekwivalent van “voertsek”, want die Italianer blaas die aftog en vlug stert tussen die bene die hotel in.

      Duard kom stadig tot verhaal. Die uiters onverwagte herontmoeting met Valdi van Wyk het die mat ordentlik onder hom uitgepluk. Die skoolmeisietjie met die parmantige wipstappie het in ’n swaan verander, die druifgroen oë in poele bergwater waarin hy kan verdrink … Haar lyf is vol rondings en kurwes wat enige volbloedman vir ’n ses sal slaan. Tog is daar ’n kinderlike weerloosheid aan haar wat maak dat hy haar in sy arms wil vashou en beskerm, gesorg het dat hy die twee skelm Italianers met sy kaal hande wou verwurg en in ’n swart gat smyt waaruit hulle nooit sal klouter nie.

      “Hoeveel lire het jy hom gegee?” vra Valdi styf.

      Duard moet eers sy gedagtes in ’n ry kry. “Dieselfde as wat ’n wettige taxi sou gekos het. ’n Kwart van die bedrag wat op die meter was.”

      “Hoeveel is dit? Wat skuld ons jou?”

      Hy skud sy kop. “Toemaar, vergeet dit.”

      “Nee. Ek het gevra wat skuld ek jou?” herhaal Valdi kil.

      “Dit maak nie saak nie. Los dit.”

      Dit maak saak. Báie saak! Valdi ruk haar op. Haar kroontjie kom skaars by sy boonste hempsknoop en dit maak haar nog meer boos, want dit gee hom ’n onregverdige voordeel.

      “Ek is nie armlastig nie en ek soek nie jou goedhartigheid nie.”

      Haar vyandigheid vang hom net so onverhoeds soos haar skielike opwagting hier bo-op die berg. Maar hy moes dit seker te wagte gewees het. Hy het destyds skandalig oortree, kop verloor en haar verneder. Hy het dit verdien dat sy hom koelbloedig uit haar lewe gesny het en hy weet vergifnis sal nie maklik kom nie.

      “Ons is nie vreemdelinge vir mekaar nie, wat kibbel jy oor ’n hand vol lire – skaars die prys van ’n bord spaghetti?”

      “Nie vreemdelinge nie, maar ook nie vriende nie.” Valdi lig haar ken en haar stem spring ’n halwe oktaaf. “Ek verkies om jou niks ooit te skuld nie – nie eens die prys van ’n lepel vol spaghetti nie.” Hoewel sy vol bravade klink, is dit vals – binne haar klop haar hart teen ’n vernietigende tempo.

      Duard hou ’n kalmerende hand op. “Jy skiet voor jy groet …”

      “Jy het jou nie destyds verwerdig om tot siens te sê nie, hoekom sal ek hallo sê?” kap sy terug.

      Sy sien hoe sy kakebeen styf span en verwag ’n dwars antwoord, maar sy mond is skielik sag.

      “Hallo, Valdi.”

      Valdi antwoord nie. Sy kan nie, want daar is onverwags ’n bitter seer knop in haar keel en sy is bang dit slaan deur in haar stem. Blessitse Duard! Hy’s ’n drip en sy haat hom omdat hy ná nege jaar steeds die vermoë het om haar hartkloppings te gee en haar te laat huil. Sý, wat haarself belowe het sy sal nooit weer een enkele traan oor die skurk stort nie, nie ’n sekonde in die nag wakker lê of selfs net aan hom dink of onthou hoe verlief sy op die skepsel was nie. Sy haat hom en sy wíl nie ’n knop in haar keel hê nie.

      Fiela het die twee tot dusver net nuuskierig dopgehou, maar besluit dit sal wys wees om tussenbeide te tree. “Goeiemiddag,” glimlag sy vir Duard.

      Valdi is verlig. ’n Oomblik lank het sy gedink dis sý wat so vriendelik gegroet het, sonder dat sy haarself kon keer, en só die ronde aan Duard afgestaan het. Sy verwelkom die onderbreking. Die atmosfeer tussen haar en die vent is snaarstyf gespan en ontlading is nodig voordat iets onherroeplik aan skerwe spat.

      Haar niggie kom staan langs haar en kyk afwagtend na hul weldoener.

      “Eduard Hofmeyr,” stel Valdi hom stug voor. “En dis my niggie Filandi. Sy het in Namibië gewoon. Ek weet nie of jy haar voorheen ontmoet het nie.”

      “Nee. Ek sou haar onthou het,” antwoord Duard.

      Kastig galant, dink Valdi wrewelrig. Maar dis vals. Aangeplakte vleitaal waarvoor sy ook destyds geval het, soos tien ton lood. En haar kop hard gestamp het. Sy sal Fiela moet waarsku voordat sy in dieselfde slaggat trap.

Скачать книгу