Haar naam was Marina Neser. Susanna M. Lingua

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Haar naam was Marina Neser - Susanna M. Lingua страница 7

Haar naam was Marina Neser - Susanna M. Lingua

Скачать книгу

raak. Met ’n gebaar wat sy al by die Portugese aangeleer het, groet sy hom en stap met die paadjie af strand toe.

      Na ’n halfuur van genoeglike swem klouter sy teen ’n hoë rots uit om die sonsopkoms te geniet. Dis vir haar een van die wonderlikste tonele om te aanskou, as die daeraad breek en die son sy kop stadig agter die horison uitsteek, kompleet asof hy na ’n lang nagrus ontwaak.

      Toe die son later soos ’n rooi bal oor die blou deining hang, klouter sy weer van die rots af en draf ligvoets met die paadjie terug hotel toe.

      Onderwyl sy haar later verklee vir ontbyt, probeer sy ’n program uitwerk vir die dag. Maar dit wil maar nie vlot nie, juis omdat sy nie daaraan gewoond is om dinge vooruit te beplan nie. Eindelik besluit sy om maar ’n gids te nader om haar deur die stad te neem … Ja, sy sal die hotelbestuurder sommer net na ontbyt vra hoe sy ’n ervare gids kan opspoor.

      Tevrede met hierdie beplanning, stap sy na die eetkamer. Byna al die tafels is nog onbeset, en Marina merk dat hulle maar ses stuks in die vertrek is. Sy steur haar egter nie verder aan haar mede-hotelgaste nie en begin smaaklik eet, want die vroeë swem het haar behoorlik honger gemaak.

      Na die ete keer die bestuurder haar by die hysbak voor met ’n boodskap dat señor Ricardo haar om halftien sal besoek. Sy bedank die bestuurder en stap die hysbak binne.

      Vir Marina is dit goeie nuus. Sy hou van die jong Portugees wat so pynlik hoflik en tog soms so voortvarend kan wees. Hy is nou wel soms ’n bietjie oorweldigend met sy aandag en komplimente, maar sy voel nietemin gevlei dat die neef van so ’n vername edelman soveel aandag aan haar bestee.

      Toe die kamermeisie ’n uur en ’n half later aan haar kamerdeur klop en aankondig dat daar ’n besoeker vir haar in die sitkamer wag, is Marina gereed om hom te ontvang. Eers werp sy weer ’n vlugtige blik in die spieël, dan stap sy na die sitkamer waar Ricardo, netjies geklee soos gewoonlik, op haar staan en wag.

      “A, bon dis, Marina, pequena!” groet hy met ’n galante buiging. “Veroorloof my om te sê, jy lyk so vars en jeugdig soos ’n jong lelie waarop die dou nog koel nestel.”

      ’n Sfinksagtige glimlaggie plooi om die sagte hoeke van haar mond.

      “Bon dia, Ricardo,” groet sy terug, “en dankie vir die kompliment. Dit streel nogal ’n dame se ego om te weet sy lyk vars en jeugdig, weet jy?”

      Sy neem plaas op die bank, en sonder verdere seremonie maak hy hom langs haar tuis. “Dis baie vriendelik van jou om my te verras met ’n besoekie,” vervolg sy. “Gaan dit nog goed met Elena, Celesta en … die marquês?”

      “Baie goed, dankie.” Sy oë glimlag vriendelik in hare. “Jy het nogal ’n buitengewone indruk op die twee dames gemaak, pequena. Hulle kon gisteraand nie uitgepraat raak oor jou spontane vriendelikheid en beeldskone voorkoms nie …”

      “Die marquês,” stuur sy die gesprek, wat gans te persoonlik na haar sin raak, op ’n diplomatiese wyse in ’n ander rigting, “kom my voor as ’n besonder streng aristokraat. Is hy altyd so streng, so … koel vriendelik?”

      “Nee, nie altyd nie. Renaldo kan soms baie vriendelik en aangenaam wees. Maar hy was gister om die een of ander rede woedend …”

      “Seker omdat ek sy eiendom so eiegeregtig betree het en hy my teenwoordigheid toe teen wil en dank moes verduur!” vul sy laggend aan.

      “O nee, hy dink nogal jy is sjarmant en op ’n eienaardige wyse onweerstaanbaar. Hy het dit natuurlik nie in soveel woorde gesê nie, maar ons wat Renaldo ken, weet wanneer sy woorde ’n dubbele betekenis inhou.” ’n Glimlaggie plooi om sy mond. “Renaldo verkeer onder die indruk dat jy ’n vreeslik voortvarende en onverantwoordelike skepseltjie is, pequena. Jy kan jou dus maar klaarmaak dat hy hom dit ten doel gaan stel om jou te hervorm. Blykbaar weet jy dit nie, maar as hoof van die De Conna-familie met al sy vele vertakkinge is hy gewoond daaraan om almal om hom se lewe te regeer en hul probleme op te los. Geen lid van ons familie mag enige besluite neem sonder sy goedkeuring nie. Hy besluit oor ons kinders se skoolopleiding, ons huwelike, en as hy by magte was om oor geboortes te besluit, sou hy dit heel waarskynlik ook gereël het – ek bedoel hoeveel seuns en dogters daar in die familie moet wees.”

      ’n Heerlike lagbui oorval haar. Toe sy eindelik tot bedaring kom, vee sy die lagtrane uit haar oë en verklaar geamuseer: “Jy sê hy wil nou ’n poging aanwend om my te hervorm?”

      “Ja, hy meen dis hoog tyd dat iemand jou tot ’n groter verantwoordelikheidsin oorreed, jou laat besef dat die lewe nie bloot ’n speelbal is nie. Maar laat ons liewer van Renaldo vergeet. Hy het my beslis genoeg uitgetrap oor nou die môre se onbesonnenheid. Laat ek jou liewer die stad gaan wys. Dit behoort immers interessanter te wees.”

      In ’n veel opgewekter stemming sit Marina enkele minute later langs Ricardo in een van die marquês se vinnige sportmotors. Die motor se kap is afgeslaan en ’n ligte windjie speel vrolik deur haar goue krulle. Haar groot, pragtige oë vonkel van lewenslus en om haar sagte, sensitiewe mond is ’n uitdrukking van volkome tevredenheid.

      Deur nou strate en tussen hoë geboue deur vleg hulle, en telkens verduidelik Ricardo die geskiedenis van die een of ander besienswaardigheid aan haar. Marina vind sy verduidelikings baie interessant, en te gou bereik hulle die middestad.

      Nadat Ricardo die motor onder ’n reuse-jakaranda getrek het, neem hy haar vir ’n wandeling deur die belangrikste dele van die stad om die indrukwekkende katedraal, die praca do commercio, die akwaduk wat water na Lissabon voer, en nog talle ander plekke te besigtig. En toe die horlosie later aankondig dat dit tyd is vir middagete, neem hy haar na ’n luukse restaurant.

      Met onverskuilde bewondering rus sy blik op haar fynbesnede gelaat daar waar sy regoor hom aan die tafeltjie sit, en ’n onweerstaanbare drang om haar in sy arms te neem, vlam soos ’n veldbrand in hom op. Nog nooit het hy ’n meisie so intens begeer soos wat hy Marina begeer nie. Sy is die allerliefste mensie wat hy ken; opreg in haar vriendskap, blymoedig, vrolik … en sommer al die dinge wat nodig is om van ’n huwelik ’n sukses te maak.

      Maar dan dink hy meteens aan die streng en kieskeurige Renaldo, en aan die feit dat Marina nie uit sy eie volk is en dalk nie Renaldo se goedkeuring sal wegdra nie. Hierdie gedagte laat sy moed terstond sak. Hy voel byna oortuig dat Renaldo nie sy goedkeuring sal heg aan so ’n huwelik nie, en tog kan hy nie sy liefde vir haar onderdruk nie. Dis soos ’n verwoede stroom wat hom met krag en geweld meesleur, hom absoluut hulpeloos en kragteloos laat.

      “Het jy al die magtige Tagusrivier gesien?” verneem hy later nadat albei reg laat geskied het aan die ryk Portugese geregte.

      “Nee, nog nie,” antwoord sy, die ene belangstelling.

      “Dan sal ek dit vir jou moet gaan wys, want dis ’n gesig wat jy nooit sal vergeet nie,” bied hy aan. “Terloops, ’n deel van die rivier behoort aan Renaldo, weens die feit dat dit deur die terrein van sy castelo vloei.”

      “Wêreld, maar ek het nie geweet die terrein van sy castelo is so groot nie!” laat sy verras hoor.

      “Renaldo is ’n vername grondeienaar,” verklaar hy goedig. “Afgesien van sy castelo besit hy twee quintas, en elkeen is duisende hektaar groot.”

      “H’m, nogal ’n bevoorregte man,” merk sy ingedagte op, kyk hom peinsend aan en verneem belangstellend: “Wie gaan die volgende marquês wees … ek bedoel nou natuurlik na hom?”

      “Sy oudste seun.”

      “En

Скачать книгу