Die einde van die wêreld. Johannes Bertus de Villiers

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die einde van die wêreld - Johannes Bertus de Villiers страница 5

Die einde van die wêreld - Johannes Bertus de Villiers

Скачать книгу

op die son. Dink ’n bietjie wat gebeur dan . . .”

      Ek het Ben se raad gevolg en probeer vasstel wat sal gebeur as daar op of ná 21 Desember 2012 ’n ongekende storm op die son sou losbars. En hy was reg; dit is inderdaad nie ’n mooi prentjie nie.

      Sonde met die son

      Enorme storms op die oppervlak van die son stuur uitstralings

      in ons rigting wat die beskawing verwoes.

      Om 05:59 op die oggend van Maandag 23 Januarie 2012 het die son gehoes. En soos wat dikwels met ’n hoes gebeur, sou dit heel verskoonbaar gewees het as dit nie was vir die feit dat iemand anders – in dié geval die aarde – reg in die pad daarvan gestaan het nie.

      Die enorme bol vuur, gas en aanhoudende kernontploffings wat ons die son noem, is in sommige opsigte bietjie soos ’n pastei in jou oond. Soos wat die binnekant warmer word, word die drukking al hoe meer en meer, met die gevolg dat die hele ding eendag sal bars as daar nie van tyd tot tyd ’n klein gaatjie in sy kors vorm om van die drukking te laat ontsnap nie. In die son se geval is die drukking wat deur dié klein gaatjies uitgelaat word massiewe uitbarstings van elektromagnetiese bestraling en plasma wat dikwels groter as die aarde self is. Op 23 Januarie het die son een van dié gebruiklike uitbarstings gehad en dit teen 2 000 km/sekonde uitgespoeg – ongelukkig reguit in die rigting van die aarde.

      Op aarde het ’n ligte histerie posgevat. Lugdienste soos Delta en United Airlines in die Noordelike Halfrond, waar die son se uitstralings die aarde reguit sou tref, het hul roetes gewysig. Alarmiste het bespiegel dat satelliete en kragnetwerke ontwrig sou word. Maar toe die son se uitstralings die aarde die volgende dag, op 24 Januarie, tref, was dit ’n antiklimaks. Satelliete het ongestoord in hul wentelbane om die aarde getol, kragnetwerke het aangehou om elektrisiteit na huise te gelei en selfs in die hoogste vliegtuie het niemand bestraling opgedoen nie. Teen Woensdag het die uitstralings Mars getref, waar daar geen lewe is nie en dus selfs nog minder skade aangerig kon word.

      * * *

      Sonstorms is een van die vernaamste bedreigings wat die laaste jare deur doemprofete as ’n moontlike oorsaak van die komende wêreldeinde aangevoer word. My vriend Ben beweer dit gaan die hele string gebeure afskop wat tot die apokalips gaan lei. Maar ná die teleurstellende “katastrofe” van Januarie 2012 het baie skeptici hul skouers opgehaal en die woordjie “sonstorms” van hul lysie van wêreldbedreigende gevare geskrap. Dit is ’n fout.

      Om te weet hoekom sonstorms wel ’n mate van amok op die aarde kan saai (hulle het dit immers in die verlede al reggekry), hoef mens net te kyk hoe die son werk.

      Die son is eintlik een uitgerekte proses van ontploffings, waansin en geweld, wat voortdurend die afval van dié ontploffings die ruimte in stuur. Die son se uitstralings sou alle lewe op aarde millennia terug al verkool het asof ons in ’n reuse-mikrogolfoond sit, maar gelukkig word die aarde deur ’n onsigbare skild, die magnetiese sfeer, omring. Die magnetiese sfeer is ’n veld wat die planeet soos ’n jas toedek (dink aan die onsigbare “shields” wat ruimteskepe in Star Trek om hulle oprig sodat vyande se missiele daarvan afbons). Die ergste bestralings wat die son in ons rigting stuur, bons van die magnetiese sfeer af weg in die rigting van die pole en kom nooit by ons op die oppervlak uit nie.

      Maar nou kry mens dae dat die son buitengewoon woedend raak en ’n paar ekstra uitstralings afvuur. Dit is wat ons ’n sonstorm noem. Die sonstorms stuur ’n vernietigende wolk (wat miljarde tonne weeg) van elektrone, protone, helium, waterstof en allerlei ander dinge wat die son self nie eens meer onder sy oppervlak wil hê nie teen ’n spoed van tot 8 miljoen km/h die ruimte in. Dit is soos ’n paar miljoen kernwapens wat gelyk in een rigting afgevuur word.

      Gelukkig is die son ver en die ruimte groot, so verreweg die meeste van sy uitbarstings vlieg ver by ons verby en verdwyn in die dieptes van die ruimte in. Skiet mens egter oor ’n lang tyd genoeg skote in die duister, is dit onvermydelik dat jy eendag ’n sensitiewe teiken gaan tref, selfs al het jy nie daarvoor gemik nie. So van tyd tot tyd tref ’n groot sonstorm se uitstralings ons reguit. En wanneer dít gebeur, so gee die meeste kenners toe, kan dit ten minste ’n mate van ongerief op aarde veroorsaak, indien nie iets ergers nie. In die verlede het sulke uitstralings al elektriese kragnetwerke ontwrig, transformators vernietig, met elektronika ingemeng en mense in hoë vliegtuie en satelliete aan gevaarlike bestraling blootgestel.

      * * *

      Die uitwerpsels van ’n sonstorm tref die aarde in drie fases.

      • Eers sal ’n groot klomp elektromagnetiese bestraling wat blitsvinnig van die son af uitbeweeg hier aankom. Dit het die potensiaal om GPS-satelliete te beskadig en ons kommunikasienetwerk te ontwrig.

      • Kort op die hakke daarvan volg ’n vlaag protone wat die elektronika van satelliete verder sal beduiwel.

      • En dan kom die relatief stadige, maar gevreesde “koronale massa-uitwerping” (dit tref die aarde eers ’n dag of wat ná die sonstorm). Die koronale massa-uitwerping is die deel wat werklik moles maak op die aarde. Ruimtevaarders op die Internasionale Ruimtestasie het ’n spesiale hoekie waar hulle daarvoor moet wegkruip. Op die oppervlak van die aarde veroorsaak dit ekstra strome in elektriese geleiers wat in die verlede al hele kragnetwerke oorlaai en transformators uitgeskop het. Doemprofete soos die Amerikaanse skrywer Matthew Stein meen koronale massa-uitwerpings van ’n sterk genoeg sonstorm kan kernkragreaktors wêreldwyd laat smelt en kernontploffings oor die aarde heen veroorsaak (hy skryf van “400 gelyktydige Tsjernobils”), maar daar is nog geen wetenskaplike bewyse om Stein se voorspelling te staaf nie.

      Is daar enige manier om te voorspel wanneer die son so ’n storm in ons rigting gaan afvuur? Nes met aardse weerpatrone, is daar een of twee tekens wat ons soms waarsku dat onweer op die son op pad is. Sonstorms hou byvoorbeeld verband met die aantal sonkolle op ons ster se oppervlak. Sonkolle is die donker spatsels wat mens soms op foto’s van die son kan sien. Hulle is ’n bietjie soos vulkane op aarde – sagte plekke in die kors wat die binnekant toelaat om van tyd tot tyd uit te bars om drukking te verlig. Sonkolle neem in siklusse van elf jaar toe om ’n klimaks van sonaktiwiteit te bereik, neem dan weer af tot ’n laagtepunt, en styg dan weer om elf jaar later ’n volgende klimaks te vorm.

      Diegene wat glo 2012 is die begin van ’n era van rampspoed en verwoesting wys daarop dat ’n maksimumfase van die huidige siklus in Mei 2013 verwag word. Dit sal egter nie help om jou in Mei 2013 in tinfoelie toe te draai en die hele maand in ’n bunker weg te kruip nie – hoewel dit die siklus se maksimum is, is hewige sonstorms in die verlede al tot twee jaar voor of ná die piek van ’n siklus opgeteken.

      Kyk maar na enkele voorbeelde:

      Op Halloween in 2003 het die sterkste sonstorm van sy generasie die aarde getref, maar aangesien dit meestal die poolstreke gelooi het, het die res van die wêreld nie veel daarvan opgemerk nie. In Suid-Afrika het dit egter ’n transformator vernietig en die land se sukkelende kraginfrastruktuur ’n onwelkome knou gegee.

      In 1989 het twee swakker storms Kanada getref en veel groter chaos veroorsaak omdat dit die kragnetwerk in die land oorlaai en ses miljoen mense eensklaps in die donker gelaat het.

      Die ergste sonstorm op rekord – een wat die boonste twee na vulletjies laat lyk – het die wêreld in 1859 getref, genadiglik lank voordat die mensdom van elektriese netwerke afhanklik was. Die Carrington-storm (genoem na die wetenskaplike wat dit eerste verklaar het) het gevolg toe ’n storm elektromagnetiese uitstralings van sowat 10 triljoen triljoen watt in die aarde se rigting uitgestuur het. (Ek kan my nie indink hoe 10 triljoen triljoen watt lyk nie, maar die skrywer Lawrence Joseph beweer dit is sterker as al die energie, elektries of meganies, wat nog ooit op aarde geproduseer is.) Die eerste twee fases van die storm

Скачать книгу