Die einde van die wêreld. Johannes Bertus de Villiers

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die einde van die wêreld - Johannes Bertus de Villiers страница 6

Die einde van die wêreld - Johannes Bertus de Villiers

Скачать книгу

dat dit kompasnaalde regoor die wêreld heen in die rondte laat tol het. Die stroom wat dit in telegraaflyne veroorsaak het, was so aktief dat telegraafoperateurs hul masjiene kon aanhou gebruik selfs nadat hulle die batterye ontkoppel het.

      * * *

      Nou ja, sal die meeste mense sê, dit klink erg, maar ’n kragonderbreking en ’n telegraaf wat buite beheer raak, is nog lank nie die einde van die wêreld nie.

      Probeer jou egter die volgende scenario indink: ’n Sonstorm van die omvang van die Carrington-storm – 50% groter as enigiets wat die mensdom die laaste dekades gesien het – vind vandag plaas en stuur sy uitstralings in die rigting van ’n aarde waarop die mensdom volledig van selfone en elektrisiteit afhanklik geword het. Jy gaan ’n paar dae later winkel toe om kos te koop, maar daar is niks beskikbaar nie omdat die vervoernetwerk tot stilstand gekom het. Al die ou kos in die yskaste, wat ingevolge die huidige praktyke so na as moontlik aan die vervaldatum afgelewer word, het begin vrot. Jy keer terug na jou huis en sien ander mense, wat ook begin agterkom het die kos raak min, is besig om by jou huis in te breek en jou spens leeg te maak. Jy kan nie die polisie bel nie, want jou selfoon werk nie, so jy probeer hulle self stop en hulle slaan jou katswink. By die hospitaal aangekom (jou bure moet jou soontoe dra, want jy kan nie ’n ambulans bel nie en die ambulansdienste het in elk geval tot stilstand gekom sedert die brandstofaflewerings opgehou het), vind jy uit hulle kan jou nie behandel nie, want die krag is af. Talle ander siekes moet ook by die deur omdraai, want die medisyne in die warm yskaste begin min raak. Boonop kan niemand meer vir enigiets betaal nie, want die bankdienste – teen dié tyd volledig op elektroniese data aangewese – het in duie gestort. Krane is droog, want water kan nie meer gepomp word nie, die regering kan nie wet en orde toepas nie, die mense raak al hoe meer rusteloos en die paaie uit die stede word deur verkeersknope versper.

      Dis duidelik waarop dinge afstuur. Kan dit gebeur?

      In die vaktydskrif Space Weather het daar kort ná die hewige sonstorm van Januarie 2012 ’n artikel verskyn deur sterrekundiges in San Diego wat na aanleiding van die siklus van sonkolle uitgewerk het daar is ’n kans van een uit agt dat die aarde voor 2020 deur uitstralings van ’n massiewe sonstorm getref gaan word – ’n storm van Carrington se omvang.

      Voordat ek egter ’n bunker bou of my eie grot gaan uitsoek, is dit tyd om by die weerman aan te klop. Ek bel dus die ruimteweerstasie op Hermanus en word meegedeel ’n navorsingswetenskaplike van die Kanadese Ruimteweeragentskap is tans daar op besoek.

      “Die eerste ding wat mense in ag moet neem, is dat die huidige sonsiklus omtrent net twee derdes so sterk soos die vorige een is,” vertel Donald Danskin my in ’n stem wat glad te rustig klink vir iemand wat hom heeldag met radioaktiewe sonuitbarstings besig hou. Trouens, hy klink effens verveeld, asof hy in sy lewe al gans te veel vrae oor sonstorms gehoor het.

      Hy lys redes om nie te gou paniekerig te raak nie.

      “As ’n storm op die son losbars en ’n klomp uitstralings afvuur, hou dit gewoonlik net sowat ’n uur lank aan, ongeag hoe sterk dit is. Daardie kort tydsduur van die storm is goeie nuus vir die aarde, want dit beteken net die deel van die aarde wat vir sowat ’n uur na die son toe wys, sal daardeur geraak word.

      “Daar is heelwat tussen ons en die son wat ons beskerm. Benewens die magnetiese sfeer wat skadelike bestraling laat wegbons, is daar nog die ionosfeer, wat groot hoeveelhede energie absorbeer. En dan die atmosfeer, en spesifiek die osoonlaag, wat ultraviolet strale uitfiltreer.”

      Maar selfs hy moet tog toegee dat ’n sonstorm so sterk soos die Carrington-storm moeilikheid op die aarde se oppervlak kan veroorsaak?

      “Ja, seker,” erken hy. “As hulle regtig baie sterk is, kan hulle geomagneties geïnduseerde elektriese strome in ons kragnetwerke veroorsaak. Maar dikwels is die daaropvolgende probleme die gevolg van sekondêre faktore, eerder as die sonstorm self. Toe dele van Kanada se kragnetwerk in 1989 afgeslaan het, was dit nie weens die krag van die storm nie, maar eerder omdat die netwerk se ingeboude veiligheidstelsel opgelet het daar is vreemde strome in die netwerk en toe homself afgeskakel het. Die kragonderbrekings was dus eintlik die gevolg van die veiligheidstelsels, eerder as die storm self.”

      ’n Tweede erge storm het Kanada in 1982 getref, voeg hy by. “Ons het ’n paar satelliete kortstondig verloor en kon ’n ruk lank nie TV kyk nie. Dis eintlik maar die ergste wat kan gebeur.”

      * * *

      Dit sal seker verkeerd wees om teleurgesteld te voel as iemand jou vertel daar is geen ramp op pad nie, maar ek het regtig iets meer dramaties verwag. Talle 2012-doemprofete skets ’n prentjie van hele gemeenskappe wat in honger barbare gaan ontaard binne dae nadat ’n sonstorm die samelewing lamgelê het.

      Ek gaan kuier dus by nog ’n slim ruimtekenner, die kernfisikus Gerrit Genis, by sy huis in Pretoria. Gerrit was al betrokke by allerlei projekte oor kernkrag en satellietkommunikasie, en is een van die kenners by wie mens gerus kan aanklop vir ’n betroubare mening oor dié tipe goed.

      “Dit klink baie erg as mense jou vertel daar kan sonstorms wees wat satelliete uitslaan,” begin hy, “maar dit gebeur elke jaar so twee keer dat sonstorms hewig genoeg raak om satellietkommunikasie te benadeel. Mense begroot daarvoor. Satelliete is nooit honderd persent van die tyd beskikbaar nie.”

      Die deurslaggewende faktor is dat die aarde relatief tot die son baie klein en baie ver is, gaan hy voort. So selfs al vind ’n ondenkbaar massiewe uitbarsting op die son se oppervlak plaas, is die kans steeds skraal dat dit die aarde gaan affekteer. Kyk een aand op in die lug en jy sal sien wat ’n klein deeltjie van ons hemelruim enigeen van die planete, soos Jupiter of Venus, vul. Die kans dat enigiets wat lukraak van die aarde af opwaarts geskiet word een van daardie planete gaan tref, is minimaal. Net so is die aarde piepklein as dit vanaf die son se oppervlak gesien word. “Die aarde vul 4/1 000 000 000 000 (dis vier miljoen-miljoenstes) van die son se lugruim. Die kans dat enigiets wat deur die son uitgestraal word spesifiek op die aarde gemik gaan word, is baie klein.”

      * * *

      Luister jy na die slim mense, kan jy dalk net-net heeltemal gerus raak en ophou om jou oor die son te bekommer. Maar ek was skaars terug van my besoek aan Genis toe ek ’n persverklaring van NASA lees waarin hulle skryf van ’n storm wat op ’n ander ster waargeneem is.

      In Desember 2005 het NASA se Swift-satelliet ’n storm op die oppervlak van II Pegasi, ’n ster in die konstellasie Pegasus, gewaar. II Pegasi is niks groter as die son nie, maar ’n storm het van hom af uitgebars wat 100 miljoen keer sterker was as enige storm wat al op ons son waargeneem is. Die energie wat dit vrygestel het, was gelyk aan 50 miljoen triljoen atoombomme. Sou iets soortgelyks op ons son plaasvind, skryf die gewoonlik heel nugtere NASA, “sou dit tot ‘n massa-uitwissing van lewe op aarde lei”. In so ’n geval sal niemand hulle oor hul kragnetwerk of selfoonsein bekommer nie; mense en alles wat ons op aarde tot stand gebring het, sal verkool word.

      Aan die einde van die persverklaring troos NASA egter: “Genadiglik is die son ’n stabiele ster wat nie sodanige sterk uitstralings produseer nie.”

      Daar het jy dit. Sonstorms kan moontlik die einde van die wêreld laat afskop, maar die kenners sê dit is onwaarskynlik. Die meeste mense sal die kwessie dus daar laat en die son geniet wanneer ons op ’n somersdag langs die swembad wil lê.

      Ek het ook so gedink, totdat ek met Patrick Geryl gesels het.

      In 2005 het ’n boek genaamd World Cataclysm in 2012, geskryf deur Geryl, ’n voorheen obskure Belgiese navorser, die lig gesien en is sonstorms skielik midde-in een van die ergste nagmerrie-scenario’s geplaas waarmee die mensdom nog vorendag gekom het – een wat tot die uitwissing van sowat 99%

Скачать книгу